“Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword.”
(Jak. 2:10, OAV)
Die Bybelse grondslae van die Nuwe Judaïsme word tans op die ondersoektafel geplaas en ondersoek.
Sonder om weer al die argumente rondom die wet op te haal, is dit van groot belang om net weer uit te wys dat dit nie vandag enigsins moontlik is (selfs vir Jode) om die 613 wette van die Torah na te kom nie, want daar ontbreek ’n tempel én ’n priesterdom wat die sondes moet kan fasiliteer voor God. Offers ontbreek uiteraard, want daar is nie ‘n plek of ’n gesanksioneerde persoon om dit te hanteer nie. As gevolg hiervan is Torah-observant-groepe baie selektief in hulle oortuigings oor wat presies van die wet nagekom moet word. Vir die meeste is dit bloot klem op die heilige dae, die feeste en die sabbat, soms wat geëet en wat nié geëet mag word nie, en so meer. Sonder dat hierdie groepe dit besef, is hul net eintlik elk afsonderlik besig met ’n eie interpretasie van verskillende Rabbynse tradisies. In ’n groot mate is dit eintlik ook maar net lukrake persoonlike interpretasies van die Torah, óf hulle maak hulle eie konkoksie wat hulle as die waarheid voorhou. Byvoorbeeld, dié groepe stuur nie hul mans drie keer per jaar Jerusalem toe om voor die Here te gaan verskyn, soos Eks. 23:17 vereis, nie, of stenig ook nie hul ongehoorame kinders nie (Deut. 21:18-21). Die apostel Jakobus, in hoofstuk 2 vers 10, spel die implikasies hiervan onomwonde uit: Want wie die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, het aan almal skuldig geword.
Wat sou dan die sin wees om enigsins dit te probeer nakom? Grootliks dien hierdie Torah-observance tot ’n eiesoortigheid, ’n groter heiligheid voor God en mens, ’n dieper spiritualiteit as ander gelowiges. Na my mening vra die Nuwe Verbond veel groter, radikaler gehoorsaamheid as wat die Ou Verbond enigsins gevra het. Jesus verwys verskeie kere na hierdie wettiese bewussyn wat die groter bedoeling van God en sy geregtigheid verkrag – en Matt. 23:24 gebruik ’n grafiese voorbeeld daarvan: “julle wat die muggie uitsif, maar die kameel insluk!”
Daar is dikwels ’n baie selektiewe gebruik van Skrifgedeeltes. Groot gewag word byvoorbeeld daarvan gemaak daarvan dat die Ou Verbond “ewig” is, soos byvoorbeeld in Eks. 31:16, maar ignoreer gerieflikheidshalwe eksplisiete Skrifte soos Heb. 8:13 – “As Hy sê ‘n nuwe verbond, het Hy die eerste oud gemaak; en wat oud word en verouder, is naby die verdwyning.”
Om hierdie rede is dit van die allergrootste belang dat ons Rom 14:5-6 benadruk in die argument rondom enige Joodse tradisie, gewoonte, heilige dag, gebruik, en so meer: “Die een ag die een dag bo die ander, die ander ag al die dae gelyk. Laat elkeen in sy eie gemoed ten volle oortuig wees. Hy wat die dag waarneem, neem dit waar tot eer van die Here; en hy wat die dag nie waarneem nie, neem dit nie waar nie tot eer van die Here.”
Daar is met ander woorde nie ’n probleem as iemand uit ’n geloofsoortuiging dinge op ’n Joodse manier wil doen nie, maar dit moet asseblief nie ’n wet vir homself of vir ander word nie, en nie lei tot ‘n nuwe Joodse akkulturasie nie. Ons mag geensins in die land van Belofte ‘n vuuroond van tradisie smee en in die borstrok van wettiese onderhouding alle Joodse gebruike voorhou binne ‘n nuwe vergeesteliking nie. Dit is absoluut verkeerd. In Gal. 4:9-11 vermaan Paulus: “maar nou dat julle God ken, of liewer deur God geken is, hoe keer julle weer terug tot die swakke en armoedige eerste beginsels wat julle weer van voor af aan wil dien? Julle neem dae en maande en tye en jare waar. Ek vrees vir julle dat ek miskien tevergeefs aan julle gearbei het”.
Kol. 2:16-17 spel dit onomwonde helder en duidelik uit: “Laat niemand julle dan oordeel in spys of in drank of met betrekking tot ‘n fees of nuwemaan of sabbat nie, wat ‘n skaduwee is van die toekomstige dinge; maar die liggaam behoort aan Christus.”
Die meeste gebruike, soos byvoorbeeld die viering van die Joodse feeste, is bloot ‘n skaduwee, soos Thayer dit stel: “shade caused by the interception of light; an image cast by an object and representing the form of that object”.
As jy die volheid van Christus leer ken, is al die ander heenwysings na Hom pragtig om te gedenk, maar dit is nie naastenby so fantasties as om in die volheid van Hom “te leef, beweeg en (te) is”(Hand. 17:28) nie. In sy boek: From Shadow to Substance, waarin hy die tipologiese betekenis van skadubeelde in die Skrif aan die hand van die sendbrief aan die Hebreërs uitwys, sê Roy Hession: “But the shadows are at best only shadows, with no substance to them.” (p. 9).
Jesus is beide die begin en die einde van die Torah. Die Begin – as Gewer van die Torah op die berg Sinai, en daarom die Oorsprong daarvan; die Einde – as die telos, die doelwit van die Torah, dit waarna die Torah heen mik om te vervul. As die Lewende Torah wat vlees geword het, is Hy die vergestalting van die Torah. Die Torah het vlees geword en onder ons kom woon … en wanneer ons Sy heerlikheid aanskou en in Sy voetspore volg, word ons dag na dag algaande verander na Sy beeld. Mag die Lewende Torah vlees word in elkeen van ons.
Dough Fortune (in sy artikel: http://www.dougfortune.org/a257.htm) maak hierdie raak segging: “Christ is complete (perfected), that is, the corporate BODY of Christ is brought to the ‘goal’, as the preeminent Head is joined to the body in whom the ‘likeness’ has been fully restored.” Die derdedag-eklesia moet wegbeweeg van ‘n DOEN- (wetgebaseerde en werke-godsdiens) mentaliteit na ‘n WEES (BEING) (verhoudings-) mentaliteit.
Ten slotte – Die Nuwe Judaïsme verkry hul legitimiteit uit ‘n foutiewe verstaan van hoe die Bybel gelees en hanteer word. Wat duidelik moet wees, is dat die ganse Ou Testament, wat strek van Génesis tot by die opstanding van Jesus uit die dood, spesifiek geskryf is aan die Jode. Dis die somtotaal van die Ou Verbond, en kan net deur gelowiges van die Nuwe Verbond gelees word in die lig van die vervulling daarvan in Jesus Christus (Matt. 5:17). Paulus sê in 1 Kor. 10:6 (DBY) die ganse Ou Verbond “happened as types of us”. En in vers 11 word dit verder toegelig: “And all these things as types did happen to those persons, and they were written for our admonition, to whom the end of the ages did come … (YLT). Baie dwaalleringe en gekorrupteerde Bybelse beskouings, ook die Nuwe Judaïsme, is die gevolg van die misverstaan van die Ou Testament as tipologie vir Nuwetestamentiese gelowiges.
- Sela: Verduidelik aan iemand Dough Fortune se stelling hierbo.
- Lees: 21-24; 1 Pet. 3-4
- Memoriseer: 1 Pet. 3:15
- Delf dieper: Lees die artikel van Dough Fortune.