Dag 1202-1204

 

“Deur die geloof het Isak vir Jakob en Esau geseën

met die oog op die toekoms.”

(Heb. 11:20, OAV)

 

Terug by die meestersverhaal van Elia waarvan ons lees in 1 Konings 18. Ons moet nou tipologies sin van vers 31 en 32a maak: “Daarop neem Elía twaalf klippe volgens die getal van die stamme van Jakob se kinders tot wie die woord van die HERE gekom het om te sê: Israel sal jou naam wees—en hy bou met die klippe ‘n altaar in die Naam van die HERE.”

Die gestaltegewing van ‘n persoonlike mantel, het ons nou al ‘n paar keer uitgewys, is afhanklik van die sanksionering daarvan deur ‘n geestelike vader. Vaderskap is die grondslag wat alles in die geestelike realm in beweging laat kom.

Elia, in die pad van gehoorsaamheid wat hy stap, is nou in ‘n situasie geplaas waarbinne hy sy geestelike outoriteit aan die bedreigende realiteit moet toets. Let op wat sy allereerste profetiese aksie is – hy tel twaalf klippe op, wat vir hom die twaalf stamme van Israel verteenwoordig. Maar dan word daar deur die verteller ‘n ontsettend belangrike toeligtende bysin ingevoeg: “tot wie die woord van die HERE gekom het om te sê: Israel sal jou naam wees”. Streng gesproke is dié woord waarna verwys word nié aan die twaalf stamme gerig nie, maar aan die aartsvader Jakob, volgens Gen 32:28 – “Toe sê Hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin.”

Wat het Elia se eiesoortige situasie enigsins te make met Jakob, en met sy seuns, en waarom beroep Elia hom op hulle? Hierin lê ‘n uitsonderlik belangrike openbaring, maar voor ons daarby uitkom, is dit eers nodig om te verstaan wat presies gebeur het tydens hierdie lewensveranderende episode in Jakob se geloofsreis.

Dié insident word as narratief gebied in Gen. 32:22-32, maar dit word voorafgegaan (Gen 32: 1-31) deur ‘n baie benoude Jakob, vir wie die terugkeer van sy broer Esau ‘n ontsettende moeilike situasie inhou, omdat hy Esau as eersgeborene van sy eersgeboortereg laat afstand doen het (Gen. 25:33-34), én hom later bedrieg het en die seëning van hul vader, Isak, onregmatig verkry het (gaan lees die weergawe van die gebeurtenis in Gen. 27).

Jakob was nie verniet bang nie – deel van die profesie wat Isak oor Esau uitgespreek het, was werklik iets om voor bang te wees: “En van jou swaard sal jy lewe, en jou broer sal jy dien. Maar as jy jou kragte inspan, sal jy sy juk van jou nek afruk.” (Gen. 27:40). In die volgende vers lees ons: “En Esau was Jakob vyandig gesind vanweë die seën waarmee sy vader hom geseën het, en Esau het in sy hart gedink: Die dae van die rou oor my vader is naby; dan sal ek my broer Jakob doodmaak.” En Esau se persoonlike geskiedenis het inderdaad getuig van hierdie wraakgierigheid – hy was ‘n uiterse geweldenaar. Fausset’s Bible Dictionary beskryf hom soos volg: “The animal appearance marked his sensual, self willed, untamed nature, in which the moral, spiritual elements were low.”

Maar dis van groot belang dat Esau selfs in sy ongebreidelde staat van ‘n unregenerated self, “the strenuous, daring life of the chase” (ISBE), onmiddellik ‘n verband lê tussen wat Jakob aan hom gedoen het, en die betekenis van sy tweelingbroer se naam. In Gen. 27:36  sê Esau: “Sou hulle hom Jakob noem, omdat hy my nou twee keer onderkruip het?” ‘n Eienaam dui in die Ou Testament altyd op ‘n identiteit, en in hierdie geval was Jakob se naam ‘n raak beskrywing van sy karakter: onderkruiper, valsaard, agterbakse, rugsteker, verraaier, hakskeenbyter.

Vir Jakob moes daar inderdaad iets uitsonderliks groot verander in sy lewe sodat hy die regmatige eienaar van die patriargale seëning kon wees, en uiteraard dit waardig wees. Want alhoewel Jakob in die gewone realiteit ‘n meer besadigde man was, anders as sy wilde broer Esau, was daar nie veel verskil tussen hulle karakteraard nie – albei het God oneer aangedoen.

Hier is geweldig baie op die spel, en daarom het Jakob ‘n selfsugtige en grypsugtige keuse gemaak om ten alle koste Esau se eersgeboortereg en gepaardgaande generasieseëninge te bekom. Wat presies was op die spel? ‘n Toekoms sonder gelyke vir ‘n nageslag: “die vernaamste in hoogheid en die vernaamste in mag” (Gen. 49:2); die priesterskap word aan hierdie familielyn toevetrou (Num. 8:17-19), en dit sluit onder andere in “die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes” (Rom. 9:4), maar veral dat hy wat Jakob is die saaddraer sou word waardeur die Messias gebore sal word, soos Rom. 9:5 dit mooi stel: “aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees, Hy wat oor alles is”. Met hierdie daad het Jakob ALLES geërf wat moontlik in die wêreld geërf kan word! Sela asseblief oor hierdie grootse erfenis, ook hoe dit jóú as deel van die Christus raak.. Oudpres. Nelson Mandela het gesê: “It is not our falures that frighten us, but our potential for greatness. We fear authentic greatness far more than we fear our failures and shortcomings. We fear the kingly and queenly parts of ourselves because the other parts of us are so demanding that even if that royal part of us were to emerge, the other parts of us would surely seek to destroy it.”

Alhoewel Jakob die beloftes van God van sy broer gesteel het, het hy nou daarmee gesit, en moes hy eers van natuur verander voordat hy die voertuig kon word van God se beloftes. Hy moes bepaald die outoriteit hê om enigsins die roeping tot uitvoering te kon bring. Baie mense ontvang hierdie roeping, ja, “baie is geroep” (Matt. 22:14), maar daar is weinig wat die pad loop totdat die roeping gerealiseer het. Hulle moet allereers ‘n gees demonstreer wat getuig van die goddelike natuur alvorens hulle die mantel kan kry en die gepaardgaande outoriteit sal kan uitoefen. In 2 Pet. 1:4 word gepraat van ons wat deur sy heerlikheid en deug geroep is, “waardeur Hy ons die grootste en kosbare beloftes geskenk het, sodat julle daardeur deelgenote kan word van die goddelike natuur, nadat julle die verdorwenheid ontvlug het”. Jakob moes eers van sy verdorwenheid ontslae raak. hierdie proses kan hy uiteraard nie deur homself bewerkstellig nie, “want die goeie wat ek wil, doen ek nie, maar die kwaad wat ek nie wil nie, dit doen ek” (Rom. 7:19). Jakob kon maklik met Paulus uitroep: “Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos …?” (vers 24), ons ook.

Meer as enigiets het Jakob heel tyd rondgeloop met die feit dat hy wéét dat hy weinig integriteit het. Die woordjie ‘integriteit’ kom van die Latynse woordjie ‘integra’ af, en dit beteken om heel te wees. Heelheid beteken om al die verskillende fasette van jou lewe in balans en harmonie met God te bring en alle gebroke en onafgehandelde sake tot ‘n archimedespunt, sodat Hy in jou heelheid Sy volheid kan bring. Ons archimedespunt, daardie plek waar alle dinge in harmonie byeen kom en integreer tot volheid, lê gesetel in ‘n terugkeer tot die beeld van God waarmee Hy jou en my geskep het. Elkeen is wonderbaar kunstig geweef, in die woorde van Ps. 139:13-15. Maar daar is nét een manier waarop ons hierdie beeld wat ons verloor het in die paradys weer kan terugverkry – deur die evangelie van die heerlikheid van Christus, wat die beeld van God is” (2 Kor. 4:4). Sela.

As die Skrif dan van Rebekka sê daar was ‘n “tweeling in haar skoot” (Gen. 25:24), was daar in haar baarmoeder dus tipologies twee nature van die mens. In die voorafgaande vers spel God dit uit: “Twee nasies is in jou skoot, en twee volke sal van mekaar gaan uit jou liggaam; en die een volk sal sterker wees as die ander volk; en die oudste sal die jongste dien.” ‘n Baie belangrike waarneming is dat die woord wat hier met “nasies” vertaal word, gôy, presies dieselfde woord is as wat gebruik word vir heidene! Buite om die verbond van Yahweh met die Hebreërs (Eks. 3:18), berei Hy ‘n verlossingsplan voor vir  die ganse wêreld, soos wat Hy vroeër aan Abraham beloof het: “en jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde, en jy sal uitbrei na die weste en ooste, en na die noorde en suide; en in jou en jou nageslag sal al die geslagte van die aarde geseën word” (Gen. 28:14).

Hier in Rebekka se baarmoeder, in ‘n voorgeboortelike vooruitskouing, woel dan ook tipologies die ganse verlore mensdom se twee (potensiële) nature: die (sondige) “menslike natuur” (Jak. 3:7) en die “goddelike natuur” (2 Pet. 1:4). Uit 1 Kor. 15:46 leer ons: “Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike”, en dit is dan presies wat gebeur met die geboorte van die seuns van Isak – Esau, wat die natuurlike mens voorstel in sy uitdagende wildheid en sondige ongetemdheid, word eerste (natuurlik) gebore, en daarna Jakob, wat hier dan die geestelike mens voorstel. Esau se opmerklikhede word simbolies tekenend – hy word so genoem, want hy was “rooi, geheel en al soos ‘n mantel van hare. Daarom het hulle hom Esau genoem” (Gen. 25:25). Ons verneem verder in vers 30 dat ná die insident waar hy sy eersgeboortereg vir ‘n pot rooi lensiesop verkoop het, is hy ook Edom genoem, wat ook rooi beteken, en natuurlik uit dieselfde basiswoord kom as Adam.

Onthou uit Manna 235 en 236 het ons geleer dat die eerste geskape wese op aarde, wat die naam Mens gedra het, ná sy sondeval, vir die eerste keer op ‘n naam genoem: Adam. Die aarde (adâmâh), waaruit Mens gehaal is, is vervloek (Gen. 5:29) om die mens (adâm) ontwil. In hoofstuk 4 van Génesis word die mens vir die eerste keer nie meer Mens genoem nie, maar ook ‘n naam en ‘n identiteit toegevoeg. Vir die eerste keer word hy in Gen. 4:25 op sy nuwe naam, Adam, genoem. Hierdie naam beteken “rooi”. Van toe af aan sal die mens bloed in sy are hê, nie meer lig nie, en die lewe sal voortaan in die bloed wees: ”want wat die siel van alle vlees aangaan, sy bloed is met sy siel verbind” (Lev. 17:14); “The life of every living creature is in its blood.” (CEV). Die eerste mens het vir die eerste keer na die sondeval sy gevalle, skaam kleur vertoon: rooi soos bloed (Gen. 2:25; 3:10; Jes. 24:23).

Toe God vir Adam en Eva na die sondeval aangetrek het met rokke van vel (Gen. 3:21), is die oorspronklike betekenis van “rok” in Hebreeus: “covering”. Vir die eerste keer in die bestaan van Adam en Eva het die begrip “dood” vir hulle beslag gekry. God het hul immers gewaarsku as hulle van die boom van die kennis van goed en kwaad eet, sal hulle sekerlik sterf (Gen. 2:17). Die “rokke van vel” het derhalwe ook die funksie dat die mens vir die eerste keer gesien het dat as jou gees nie lewe nie, het jy en ‘n dier presies dieselfde status: jul het albei ‘n sieldimensie en word met ‘n sterwende liggaam beklee. Dit het die implikasie dat die natuurlike mens (hier gesimboliseer deur Esau) sonder sy geesvermoë nét aan sy vleeslike mens gestalte kan gee. Die nie-wedergebore, natuurlike mens “neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie” (1 Kor. 2:14), derhalwe bedink hy ook net vleeslike dinge (Rom. 8:5), en is daarom vleeslik (Spr. 23:7) en dit bring nét dood voort (Rom. 8:6). So ‘n denk- en leefstaat is vyandskap teen God (Rom. 8:7)! Hiervan alles word Esau dan die prototipe.

Soos in Manna Dag 303 verduidelik is, is dit dan nou makliker om te verstaan dat God sê dat Hy Kain haat, en dat God bepaal het dat die oudste die jongste sal dien (Rom. 9:12-13). Kortom: almal wat gebore word, is allereers vlees, maar die gees het hom as ‘t ware aan die enkel beet (Gen. 25:26; Gal. 4:29)! Die hand van die geesmens bring die “covering” daar waar dit simbolies sluit om die hakskeen, dié plek waar die slang die mens sal byt (Gen. 3:15), sy achilleshiel. Daar word dus op ‘n uitsonderlike manier “’n lewende hoop” (1 Pet. 1:3) deur die wedergeboorte aan die gevalle mens gebied, hier gesimboliseer deur Esau, en word hierdie geskiedenis ‘n uitspeel van die (ook) gevalle Jakob wat deur ‘n naam- en identiteitsverandering ‘n prototipe word van dít waarop Elia hom beroep as hy sy geestelike outoriteit van die geesmens wil bevestig en uitoefen. In die volgende Manna meer!

  • Sela: Probeer die masskrif heel bo-aan die Mannas verstaan.
  • Lees: 25-30; 1 Pet. 5; Ps. 96; 2 Kor. 1
  • Memoriseer: 96:1 (en doen dit!)
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: ‘Die Stryd tussen vlees  en gees in jou – die                worsteling vir ‘n Goddelike natuur.’