Dag 1211

 

“ ‘n trotse man is onbestendig:

hy wat sy keel wyd oopmaak soos die doderyk …”

(Hab. 2:5, OAV)

 

Ons is tans besig met die verhaal in Gen. 32, wat vertel van Jakob se naam- en identiteits-verandering by die Jabbok. Daar is ‘n vooropgestelde vereiste vir hierdie transformasie om te kan gebeur, het uit die vorige Mannas geblyk – ‘n bewustelike ingesteldheid van nederigheid.

Dit is baie interessant – nederigheid is nie een van die fasette van die vrug van die Gees nie:

  • “Maar die vrug van die Gees is liefde, blydskap, vrede, lankmoedigheid, vriendelikheid, goedheid, getrouheid, sagmoedigheid, selfbeheersing.” (Gal. 5:22)
  • “Want die vrug van die Gees bestaan in alle goedheid en geregtigheid en waarheid.” (Efes. 5:9)

Nederigheid groei nie uit die innerlike mens, soos dit te verwagte is, nie – Kol. 3:12 sê dit word ekstern aangetrek: “Beklee julle dan, as uitverkorenes van God, heiliges en geliefdes, met innerlike ontferming, goedertierenheid, nederigheid, sagmoedigheid, lankmoedigheid.” Die oplettende leser sou dadelik opmerk dat van die ander Geeskarakteristieke wat in Kol. 3:12 voorkom, is wel te vinde in die twee definisies van die vrug van die Gees hierbo aangehaal en die rede hiervoor is dat hulle beide uit die innerlike groei as gevolg van die goddelike natuur (2 Pet. 1:4), maar dat dit OOK as ‘n bewustelike lewenshouding ‘aangetrek’ moet word. Maar nederigheid kan nét bewustelik ‘aangetrek’ word.

Die rede hiervoor aksentueer nog eens die belangrikheid van nederigheid, maar toon ook dat nederigheid eintlik die teenpool van iets anders is – trots.

Op twee plekke in die Nuwe Testament word trots opgenoem saam met allerlei dinge wat die natuurlike mens “doen wat nie betaam nie” (Rom. 1:28). In Rom. 1:30-31  word “trotsaards” gegroepeer saam met onder andere “haters van God”, “geweldenaars”, “uitvinders van slegte dinge”, “onversoenlik” en “onbarmhartig”. Vers 32 spel die implikasies vir hierdie tipe mense in geen onseker terme uit nie: “mense wat al ken hulle die verordening van God goed, dat die wat sulke dinge doen, die dood verdien dié dinge nie alleen self doen nie, maar ook hulle goedkeuring skenk aan die wat dit doen”. Skrik!

In 2 Tim.3:2-4 word die trotsaards onder andere saamgegroepeer met erg twyfelagtige gelowige persone, wat genoem word: “liefhebbers van hulleself”, “geldgieriges”, “groot-praters”, “lasteraars”, “onheilig”, “sonder natuurlike liefde”, “wreed”, “sonder liefde vir die goeie”, “verwaand”, “meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God”, waaroor die uitspraak in vers 5 ewe verdoemend is: “mense wat ‘n gedaante van godsaligheid het, maar die krag daarvan verloën het”.

  • Sela: Is jy trots?
  • Lees: 4-5; 2 Kor. 8
  • Memoriseer: 2 Kor. 8:11
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Esté Geldenhuys: Breek deur die mure van trots