Dag 1215-1216

 

“Mag ‘n mens God beroof?”

(Mal. 3:8, OAV)

 

In hierdie, asook die volgende Mannas, gaan ons kyk na die twaalf spesifieke vrugte waaraan die wortel van trots uitgeken kan word. Dit is nagevors uit ‘n verskeidenheid tekste wat óf gedeeltelik óf in die geheel óf tersyde oor hierdie onderwerp handel: John Howard Yoder: The Politics of Jesus; C.S. Lewis: Mere Christianity; Guy Hersberger: The Way of the Cross in Human Relationships; C. J. Mahaney: Humility; Andrew Murray: Absolute Surrender; Floyd McClung: Whole-hearted – Letting Jesus be Lord; Basilea Schlink: Those Who Love Him; Stuart Scott: From Pride to Humility: A Biblical Perspective;  Jim Wallis: Agenda for Biblical People; en C.J. Mahaney: Humility: True Greatness, en dan, natuurlik, eie insig, interpretasie en ervaring.

Eerstens: ‘n Ou gelowig man het jare terug in Zimbabwe my hierdie belangrike les geleer: “In all of God’s affairs, you may take the gold, but never take the glory.” Hierdie aforisme is bes moontlik gebaseer op Jes. 42:8, wat in die KJV sê: “I am the LORD: that is my name: and my glory will I not give to another …” Daar is niks wat jy het, wat jy nie uit die genadige hand van God ontvang het nie. Dit sluit alles van jou vermoë, talente, besittings, attribute, wat ook al, in. Deur krediet te neem vir enige-iets wat God in en deur jou bewerk het (Fil. 2:13), is om die heerlikheid en danksegging wat aan Hom toekom en behoort (Matt. 6:13; Jona 2:9; Open. 4:9; 7:12), as ‘t ware te steel. Trots minag God se hand wat oorvloedig in jou lewe investeer, en beroof Hom derhalwe van die eer wat Hom alleen toekom.

In 2 Kor. 9:10-11 word ‘n groot waarheid rondom hierdie saak uitgespel: “En mag Hy wat saad verskaf aan die saaier, ook brood verskaf om te eet en julle saad vermeerder en die vrug van julle geregtigheid laat toeneem, sodat julle in alles ryk kan word tot alle milddadigheid, wat danksegging aan God deur ons bewerk.” Indien jy ‘n verkeerde motief het hoekom jy iets goeds aan iemand anders wil doen, bewerk jy nie danksegging aan God nie, maar beroof jy Hom van sy eer.

Die Skrif spel dit uit dat God, “wat aan almal eenvoudig gee sonder om te verwyt” (Jak.1:5), sal elke behoefte van vervul na sy rykdom (Fil. 4:19). “Immers, sy goddelike krag het ons alles geskenk wat tot die lewe en godsvrug dien.” (2 Pet. 1:3). Hy, alleen, is alle eer en heerlikheid waardig (1 Tim. 6:1).

Soos Mal. 3:8 dan tereg vra – “Mag ‘n mens God beroof?”

Trots neem altyd eer vir die self, soek altyd erkenning en wil altyd geprys word. Trots soek derhalwe altyd ‘n goeie rede om deur ander mense raakgesien te word as die bewerker van iets goed, en baai hom/haarself dan in die gelukwensinge, akkolades en eer wat toegeswaai word.

Die mens se algemene ontsaglike behoefte aan erkenning is dikwels die voedingsaard van hierdie diep misleiding van die self, en sal ons dikwels dinge só skik dat dit lyk asof ons eiehandig vir die sukses daarvan verantwoordelik is. Dit is dikwels ook die dryfveer agter die meeste van die dinge wat ons goed doen (vir en aan ander), dat hulle, én andere, ons moet prys en eer gee. Ten diepste is hierdie vrug van trots dan selfgesentreerdheid en ‘n sieklike sug na erkenning.

Hierdie vrug is veral sigbaar as ‘n mens eer vat vir dinge wat nie eens jou toedoen is nie, waarvoor jy nie verantwoordelik is nie. Alles word altyd só geskik en geplooi dat ander dink dit is die gevolg van jou handewerk. Jy ontvang dan die eer vir iets wat jy nie eens voor verantwoordelik was nie.

In die Ou Testament was hierdie toestand strafbaar met die dood. In Lev. 7:20 en 21 word die straf hiervoor voorgehou aan sodanige persone: “Maar die een wat vleis eet van die dankoffer wat die HERE toekom, terwyl sy onreinheid aan hom is, dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word. En as iemand aan iets onreins raak, aan die onreinheid van ‘n mens of aan ‘n onrein dier of aan enige onrein verfoeisel, en dan eet van die vleis van die dankoffer wat die HERE toekom, dié siel moet uit sy volksgenote uitgeroei word.” In die Nuwe Testament is dit uiteraard nie noodwendig ‘n fisiese iets wat aan die Here behoort wat jy vir jouself toeëien nie, maar dikwels dat jy voorhou of impliseer dat jý die bewerker van iets is, en nié iemand anders nie. Soos wat jy iemand anders se eer beroof, beroof jy ook die eer van God – “Ek haat die roof met onreg”, sê God in Jes. 61:8, veral as iemand “sy broer iets deur roof ontneem” (Eseg. 18:18) het. 1 Kor. 6:8 – “Maar julle doen onreg en pleeg roof, en dit aan broeders.” En daarom is die meeste gelowiges “van binne … vol roof en boosheid” (Luk. 11:39)!

In 1 Thes. 4:6 word dit uitgespel dat iemand wat sy broeder bedrieg en benadeel deur sy eer te steel deur die Here self vergeld sal word, “omdat die Here ‘n wreker is oor al hierdie dinge”.

Ons lees ook in 1 Sam. 16:7 waar die HERE vir Samuel oor Saul sê: “Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.” Dawid, die een wat uitsonderlik baie gely het deur en beroof is as gevolg van Saul se diepgesetelde trots, bid in Ps. 59:12 ‘n hartroerende gebed hieroor: “Sonde van hulle mond is die woord van hulle lippe; laat hulle dan gevang word in hul trots, en vanweë die vloek en die leuen wat hulle vertel.”

God het “‘n welgevalle aan waarheid in die binneste” (Ps. 51:6) – trots vernietig die waarheid in die binneste. Laat ons gebed dan altyd wees soos die gebed van Dawid in Ps. 19:14 – “Laat die woorde van my mond en die oordenking van my hart welbehaaglik wees voor u aangesig, o HERE, my rots en my verlosser!”

Hierdie vrug van trots is dus selfgesentreerdheid. In Fil. 2:3-8 omskryf Paulus hierdie hartsgesindheid: “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n. Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.”

Laat die Heilige Gees jou daarop attent maak of jy dikwels die aandag (subtiel) na jou toe verskuif, of jou fokus daarop is om altyd die beste uit ‘n situasie te kry of die beste te vertoon. 1 Kor. 10:24 – “Laat niemand sy eie voordeel soek nie, maar elkeen die voordeel van ‘n ander.”

  • Sela: Is hierdie twee vrugte dalk aanwesig in jou? Lê jou hart bloot voor God.
  • Lees: 12-15; 2 Kor. 12-13
  • Memoriseer: 2 Kor. 12:9 (Hierdie is die manier waarop hierdie twee vrugte hanteer word! Prys God!)
  • Delf dieper: Lees Jim Wallis: se boek: Agenda for Biblical People