Dag 1222

 

“Take heed, and beware of covetousness …”

(Luk. 12:15, KJV)

 

Tans is ons is in die Manna besig met die twaalf spesifieke vrugte waaraan jy die vrug van trots kan uitken. Die sewende vrug van trots is naywer of jaloesie. Oor hierdie onderwerp het ons ekstensief geskryf onder die onderwerp ‘die gees van jaloesie’ in Mannas 815-828. Dit is egter belangrik om te besef dat hierdie vrug ten diepste ook met trots in verband gebring kan word. Op die oog af is die verband verskuild, maar dit setel daarin dat die trotse persoon só ‘n grandiose selfbewussyn koester dat hulle dink enigiets hul ipso facto behoort toe te kom, en indien dit nie die geval is nie, sal hulle verteer word deur naywer of jaloesie.

Die agtste vrug van trots is hebsug. Die Nuwe Testament huiwer nie om hebsug voor te hou as een van die mees destruktiewe karaktereienskappe nie. Jesus praat meer daaroor as oor enige ander onderwerp, net die koninkryk van God uitgesluit!

Net soos die vorige vrug het hebsug ‘n vreemde dieperliggende verband met trots. 1 Thes. 2:5 noem dit nie verniet “bedekte hebsug” nie! Die trotse mens het ‘n misplaaste sin van sy eie belangrikheid, en binne dié vals persepsie is dit noodwendig dat hy/sy meen dat alles aan hulle behoort – dit word ‘n “hart geoefen in hebsug” (2 Pet. 2:14). Dit lei tot ‘n onversadigbare drang om te wil hê. Hierdie geestelike wetmatigheid van hebsug word mooi simbolies voorgehou in Spr. 30:15-16: “Die bloedsuier het twee dogters: Gee, gee! Drie is dit wat nie versadig word nie; vier sê nooit: Genoeg nie! — die doderyk en die toegesluite moederskoot, die aarde wat nie genoeg water kry en die vuur wat nooit sê: Genoeg nie!” Let asseblief die metaforiese krag en betekenisimplikasies van die voorbeelde – hebsug veroorsaak vier dinge: dit bring dood, dit veroorsaak onvrugbaarheid, dit sorg dat daar ‘n gebrek aan lewende water (Amos 8:11) is, en dit noodsaak die vertering deur die wesensaard van God se karakter: vuur (Heb. 12:29).

Hebsug is hierbo ‘n geestelike wetmatigheid genoem. Volgens Eseg. 16:27 het elkeen “’n bestemde deel”; trouens: “Die seën van die HERE—dit maak ryk, en moeitevolle arbeid voeg daar niks by nie.” (Spr. 10:22). Jou sug na méér lei egter daartoe dat jy onder andere met hebug vervul word (Rom. 1:29) – dit word met ander woorde noodwendig ’n geestelike wetmatigheid. Dit bring allerhande dinge in jou lewe mee, wat Efes. 4:17b-19  soos volg uitspel: “die verdwaasdheid van hulle gemoed nie— mense wat verduisterd is in die verstand en vervreemd van die lewe van God deur die onkunde wat in hulle is vanweë die verharding van hulle hart; wat ongevoelig geword het en hulle oorgegee het aan die ongebondenheid om in hebsug allerhande onreinheid te bedrywe”.

Sódoende verkry jy, volgens 2 Pet. 2:14, “‘n hart geoefen in hebsug” en word jy ‘n “kind van die vervloeking”, met geen erfenis in die koninkryk van Christus én van God nie (Efes. 5:5). Dit is skrikwekkend.

Die eenvoudige teenpool van hebsug is Luk. 12:31 – “Maar soek die koninkryk van God, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Sela.