Dag 1225

 

“Pas veral op vir die suurdeeg van die Fariseërs,

dit is geveinsdheid.”

(Luk. 12:1, OAV)

 

Ons is tans in die Manna besig met die tiende vrug van trots, naamlik ‘n onleerbare gees. Hierdie lewenshouding word raak geïllustreer deur die gesindheid van die Fariseërs, en ons gaan spesifiek kyk na hoe dit in Joh. 9 uitgebeeld word.

Die apostel Johannes bied ons in hierdie hoofstuk veel stof tot nadenke in terme van die Fariseer se onleerbare gees. Wat hulle as ‘n groepering veral gekenmerk het, was hulle arrogansie en trots, omdat hulle oortuig was hul het die volle waarheid in pag. Nie vir ‘n oomblik kon die Fariseer sy skans laat sak nie – dit moes lyk asof hy heeltyd in totale beheer van ‘n allesomvattende geestelike wysheid was. Paulus vat hierdie geestelike meerderwaar-digheid raak saam in Rom. 2:17-20: “Kyk, jy dra die naam van Jood en steun op die wet en beroem jou op God,  en jy ken sy wil en onderskei die dinge waar dit op aankom, omdat jy uit die wet onderrig word, en jy is oortuig dat jy ‘n leidsman is van blindes, ‘n lig vir die wat in duisternis is, ‘n opvoeder van onverstandiges, ‘n leermeester van onervarenes, omdat jy die beliggaming van die kennis en die waarheid in die wet het ,,,”

Die Fariseer het ‘n sterk selfvertroue in sy kennis – hy kan altyd êrens ‘n antwoord op elke vraag bewimpel; die frase ek weet nie bestaan nie in sy woordeskat nie. In vers 21 vervolg Paulus en slaan die spyker op die kop van hierdie arrogansie: “jy dan, wat ‘n ander leer, leer jy jouself nie?”. Hierdie is ‘n eenvoudige Bybelse definisie van ‘n onleerbare gees.

Interessant dat die Fariseërs hulself beroem op hul gedetailleerde kennis van die wet, en hulleself derhalwe “dissipels van Moses” (Joh. 9:28) noem. Dissipelskap van Jesus vereis iets totaal anders as wettiese of teologiese onderlegdheid, wat jou laat eet aan die boom van kennis van goed en kwaad, en dit lei noodwendig dat jy geestelik daarvan sal sterwe (Gen. 2:17). Dissipelskap van Jesus vra allerseers selfverloëning (Matt. 16:24) en “liefde onder mekaar” (Joh. 13:35); en “veel vrug” sal sy dissipels kenmerk (Joh. 15:8).

Die hoofnarratief in Joh. 9 sentreer rondom die genesing van die man wat blind gebore is. Jesus se dissipels probeer wetties argumenteer oor wie die skuld vir sy blindheid moet dra, en of dit die oorsaak van ongeregtighede is, wat Jesus onmiddellik met streng uitsprake in verse 2-5 verwerp. Ná sy genesing word hierdie man die fokus van die gesprek van die Fariseërs en maak hulle ‘n paar radikale uitsprake met stellige sekerheid – volgens hulle is Jesus nie God nie (v 16), die man was nie regtig blind gebore nie (v 18), Jesus is ‘n sondaar (v 24), die man is blind as gevolg van sonde (v 34). Hierdie geestelike beterweters stal ironies genoeg hul totale gebrek aan kennis en insig hier uit. In die volgende Manna méér.

  • Sela: Is jy ‘n geestelike beterweter?
  • Lees: 7; Ps. 99
  • Memoriseer: 99a (hoe sluit dit aan by die lering?)
  • Delf dieper: Lees Larry Osborne se boek: Accidental Pharisees: Avoiding Pride, Exclusivity, and the          Other Dangers of Overzealous Faith