“hulle mond spreek trotse woorde,
terwyl hulle mense vlei ter wille van voordeel”
(Jud. 1:16, OAV)
Tans is ons besig om te kyk na die vrugte van trots, en met die laaste Manna het ons uitvoerig gekyk na die elfde vrug van trots, naamlik die dwingende begeerte om mense te wil behaag, mensbehaging, soos Efes. 6:6 dit noem, of soos dit bekender en gemakliker in Engels gesê word – people-pleasing.
‘n Manifestasievorm wat verwant is hieraan sou dalk dit regverdig het om dit as ‘n aparte vrug te identifiseer, maar ten diepste is “’n gladde mond” (Spr. 26:28) wat vleitaal manipulerend gebruik baie soortgelyk aan people-pleasing, al is die intensie van die hart anders. Die meeste heuning om die mond-smeerdery is ‘n manier om die slagoffer te behaag deur hom/haar te oorrompel met onopregte en soms onverdiende pryssange, doelbewuste bewierooking, met die spesifieke doel om guns van die gevleide te verkry.
Laat ons net eers ‘n onderskeid tref tussen doelbewuste vleiery en opregte komplimentering. Vleiery kan voorgehou word as die oordra van oordrewe of onwaar komplimente met die doel om die ander persoon se guns te wen of iets van hom/haar te verkry. Vleiery het ‘n selfsugtige motief en die persoon wat vlei is die een wat in der waarheid alleenlik daarby baat. Komplimente is opregte en spontane uitsprake met die doel dat iemand jou daardeur eer of erkenning wil gee, of haar/sy bewondering uitspreek. Kortom: vleiery baat die spreker; komplimentgewing baat die ontvanger.
Op die oog af kan dit nie lyk asof vleiery ‘n vrug van trots het nie, maar onthou – vir die vleier heilig die doel die middel. Hulle disposisie van trots rangeer hulle op die spore van mensbehaging, met die eindbestemming om die persoon só om die bos te lei deur hul ydelheid of naïwiteit uit te buit dat die vleier sy sin verkry. Die trots lê daarin dat die vleier hierdie metode van manipulasie gebruik omdat hy/sy dink hul is meerderwaardig aan die een wat hul op hierdie manier probeer uitknikker. Deur strategiese vleiery wil hy/sy jou een voor wees in sy/haar verraderlike en meedoënlose strikstelling – “‘n Man wat sy naaste vlei, sprei ‘n net uit voor sy voetstappe.” (Spr. 29:5).
Jud. 1:6 spel noem derhalwe “trots” en “vleiery” in een asem: “hulle mond spreek trotse woorde, terwyl hulle mense vlei ter wille van voordeel”. Maar hierdie vleiery het ‘n aaklige gevolg: “Glad is die botterwoorde van sy mond, maar sy hart is oorlog; sy woorde is sagter as olie, maar hulle is ontblote swaarde.” (Ps. 55:21). Met hul mond seën hulle, maar met hul binneste vloek hulle (Ps. 62:4).
Paulus se perspektief oor hierdie vrug van trots is taamlik sterk bewoord. In Rom. 16:18 spel hy dit só uit: “sulke mense dien nie onse Here Jesus nie … en hulle verlei deur hul vriendelike en mooi woorde die harte van die eenvoudiges”. [Die woordjie “eenvoudiges” kan perdalks misverstaan word – dit word elders vertaal as “the innocent [or, unsuspecting]” (ALTNT), “those without guile” (LITV), “the unwary” (NJB).]
In ‘n sin verhef Job (32:21-22) vleiery amper tot ‘n doodsonde in hierdie ontstellende uitspraak: “as hy‘n mens vlei, sal ek nie. Want ek verstaan nie om te vlei nie; gou sou my Maker my wegneem!” Wat beteken hierdie kategoriese uitspraak? En is dít die rede dat iemand soos Dawid, as hy praat van “die leuensprekers” wie se “keel … ‘n oop graf (is); hulle maak hul tong glad” (Ps. 5:6 & 9)?
In ‘n ander Psalm, spel Dawid die breër verband soos volg uit: “Hulle praat leuens, die een met die ander; met vleiende lippe spreek hulle dubbelhartig. Mag die HERE al die vleiende lippe uitroei, die tong wat grootpraat, hulle wat sê: Met ons tong is ons sterk; ons lippe is met ons! Wie is heer oor ons?” (Ps. 12:2-4).
Benewens dubbelhartigheid, waarvan Jakobus sê “dié mens moenie dink dat hy iets van die Here sal ontvang nie— so ‘n dubbelhartige man, onbestendig in al sy weë” (Jak. 1;7-8), is dit volgens Dawid gemeenplaas dat die vleier véél meer skade aanrig as wat ‘n mens enigsins meen en hom/haarself in die proses groter skade self aandoen! Dit is so, veral miskien omdat Spr. 26:28 (KJV) dít uitspel: “a flattering mouth worketh ruin”.
Selfs in die omgaan van gelowiges met mekaar kan vleiery in bediening sigself voordoen as bemoediging, maar eintlik in wese is dit ‘n berekende strategie om mense valslik mee te voer. In 1 Thes. 2:5 spel Paulus dit uit: “Want ons het, soos julle weet, ons nooit met vleitaal opgehou of met bedekte hebsug nie. God is getuie. Ook het ons nie eer van mense, òf van julle òf van ander gesoek nie …” . Die Skrifte waarsku teen valse lerars wat vleitaal in bediening gebruik om die opregte navolgers van Christus te mislei en hulleself (veral finansiel) daardeur voordeel te laat trek en hulle in die proses “met vleiery afvallig maak” (Dan. 11:32)
Daar is verskeie goeie voorbeelde van ‘n gevleiery in die Skrifte. Allereers die vrou van Tekoa wat Dawid soetsappig met haar tong probeer bekoor: “Verder het u dienares gedink: Mag tog die woord van my heer die koning tot gerusstelling wees. Want soos ‘n engel van God, so is my heer die koning om goed en kwaad te verstaan. En mag die HERE u God met u wees! Toe antwoord die koning die vrou en sê: Steek tog vir my niks weg wat ek jou sal vra nie. En die vrou sê: Laat my heer die koning maar spreek. Daarop vra die koning: Het Joab die hand in dit alles met jou saam? En die vrou antwoord en sê: So waar as u siel leef, my heer die koning, dit is onmoontlik om regs of links af te wyk van alles wat my heer die koning gespreek het; ja, u dienaar Joab, hy het my bevel gegee, en hy het al hierdie woorde in u dienares se mond gelê. Om die saak ‘n ander voorkoms te gee, het u dienaar Joab hierdie ding gedoen. Maar my heer is wys soos die wysheid van ‘n engel van God om alles te weet wat op die aarde gebeur.” (2 Sam. 14:17-20).
Kyk hoe span Absalom vleitaal in om ‘n volk se guns te swaai jeens hom: “Verder het Absalom gereeld vroeg opgestaan en langs die pad na die poort gaan staan; en Absalom het elkeen wat ‘n saak gehad het om na die koning te kom vir regspraak, aangeroep en gesê: Uit watter stad is jy? As hy dan antwoord: U dienaar is uit een van die stamme van Israel— dan sê Absalom vir hom: Kyk, jou saak is goed en reg, maar van die koning se kant sal niemand jou gehoor gee nie. Verder het Absalom gesê: Mag hulle my as regter in die land aanstel, dat elkeen wat ‘n geskil of regsaak het, na my kan kom; dan sal ék aan hom reg laat geskied. En elke keer as iemand nader kom om voor hom te buig, steek hy sy hand uit en gryp hom en soen hom. Op dié manier het Absalom met al die Israeliete gehandel wat vir regspraak na die koning kom, sodat Absalom die hart van die manne van Israel gesteel het.” (2 Sam. 15:-6). Sien ook voorbeelde in Matt. 22:16; Mark.12:14; en Hand. 12:22.
Vleiery manifesteer duidelik as vrug van die wortel van trots, met dodelike gevolge.
- Sela: Gebruik jy vleitaal?
- Lees: 21-22; John 3-4; Ps. 135.
- Memoriseer: 3:3-5
- Delf dieper: Lees Charles F. Stanley se boek: The Landmines in the Path of the Believer: Avoiding the Hidden Dangers