“Jy is nou eenmaal die geseënde van die HERE.”
(Gen. 26:29, OAV)
In die laaste Elektroniese Manna het ons die subreeks oor die twaalf wortels van trots afgehandel. Dit het gevloei uit die Manna wat dit voorafgegaan het, wat spesifiek gehandel het oor die uiterste belangrikheid van nederigheid in God se oë en die feit dat dit as absolute voorwaarde dien vir die verkryging van en funksionering in ‘n geestelike mantel. Dit is net belangrik ten opsigte van die oorsigtelike konteks om die verskillende drade weer hier vas te knoop.
In die beslaggewing daaraan het ons met die verloop van tyd uitgekom by ‘n ontsettende belangrike verband wat getref moet word tussen Elia en Jakob, waarop die profeet hom beroep in 1 Kon. 18:31-32a, waarmee ons tipologies mee besig is: “Daarop neem Elía twaalf klippe volgens die getal van die stamme van Jakob se kinders tot wie die woord van die HERE gekom het om te sê: Israel sal jou naam wees—en hy bou met die klippe ‘n altaar in die Naam van die HERE.”
Elia, in die pad van gehoorsaamheid wat hy stap, is nou in ‘n situasie geplaas waarbinne hy sy geestelike outoriteit aan die bedreigende realiteit moet toets. Let op wat sy allereerste profetiese aksie is – hy tel twaalf klippe op, wat vir hom die twaalf stamme van Israel verteenwoordig. Maar dan word daar deur die verteller ‘n ontsettend belangrike toeligtende bysin ingevoeg: “tot wie die woord van die HERE gekom het om te sê: Israel sal jou naam wees”. Streng gesproke is dié woord waarna verwys word nié aan die twaalf stamme gerig nie, maar aan die aartsvader Jakob, volgens Gen 32:28 – “Toe sê Hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin.”
Ter opsommende sametrekking: God praat hier met Elia in ‘n situasie waarin hy alles nodig het waarmee hy ten alle koste oorwinning oor sy vyand moet behaal, en dít is God se invalshoek – die voorvader Israel, vroeër Jakob genoem, se naamsverandering. Dié verhaal vertel van Jakob se naam- en identiteitsverandering. Die naam van die plek wat God vir Jakob se diepste konfrontasie met sy vals self uitgekies het, is Jabbok, ‘n woord wat in die Hebreeus veelseggend beteken: the place of emptying. Alvorens ek en jy, en Jakob en Elia, die volheid van outoriteit kan verkry, moet ons deeglik gesuiwer en bevry word van alles wat nié God in ons is nie (1 Kor. 3:12-15).
Ons het uitgewys hoe geweldig baie hier op die spel is, en daarom het Jakob ‘n selfsugtige en selfs grypsugtige keuses gemaak, byvoorbeeld om ten alle koste Esau se eersgeboortereg en gepaardgaande generasieseëninge te bekom. Wat presies was op die spel? ‘n Toekoms sonder gelyke vir ‘n nageslag: “die vernaamste in hoogheid en die vernaamste in mag” (Gen. 49:2); die priesterskap word aan hierdie familielyn toevetrou (Num. 8:17-19), en dit sluit onder andere in “die heerlikheid en die verbonde en die wetgewing en die erediens en die beloftes” (Rom. 9:4), maar veral dat hy wat Jakob is die saaddraer sou word waardeur die Messias gebore sal word, soos Rom. 9:5 dit mooi stel: “aan wie die vaders behoort en uit wie die Christus is na die vlees, Hy wat oor alles is”. Met hierdie daad het Jakob ALLES geërf wat moontlik in die wêreld geërf kan word; dáárom het hy met geweld die koninkryk gegryp (Matt. 11:12)!
Alhoewel Jakob die beloftes van God van sy broer gesteel het, het hy nou daarmee gesit, en moes hy eers van natuur verander voordat hy die voertuig kon word van God se beloftes. Hy moes bepaald die outoriteit hê om enigsins die roeping tot uitvoering te kon bring. Wat erf ek en jy as nasate van Abaham en Jakob? Ons erf “die mate van die volle grootte van Christus” (Efes. 4:13)! Jóú erfenis is ook op daardie staf van Jakob ingegraveer gewees! Toe hy, bes moontlik weer leunende op sy staf, geprofeteer het oor sy kleinseuns, wat die twaalf stamme van Israel sou word, het hy ook oor my en jou geprofeteer – “Daarna het Jakob sy seuns geroep en gesê: Kom bymekaar, dat ek julle kan verkondig wat julle aan die einde van die dae sal wedervaar.” (Gen. 49:1).
In die lig hiervan is dit belangrik dat ons uit die lewe van Jakob die les moet leer dat die detailverloop van ons gewone lewe dikwels maar net die fynskrif van ons roeping is. Toe Jakob byvoorbeeld deur Laban op velerlei vlakke bedrieg is, het God hom nie daaruit gered nie, al was dit sy diepste versugting. Hy het tóé reeds geeet wat Petrus eeue later sou skryf: “Want dit is genade as iemand, ter wille van die gewete voor God, leed verdra deur onregverdig te ly.” (1 Pet. 2:19). Daarom dan dat Paulus in 1 Kor. 6:7 skryf: “Waarom ly julle nie liewer onreg nie? Waarom laat julle jul nie liewer berowe nie?”
Die een-en-twintig jaar wat Jakob in die huishouding van Laban moes swoeg, het God vir hom ten goede laat meewerk (Rom. 8:28). Hy ontvang in hierdie tyd nie net uiteindelik sy geliefde Rachel nie, maar drie ander nie-geliefde vroue op die koop toe ook. Tog, in hierdie frustrerende tyd, is God besig om die nasie te bou wat die beloofde land gaan beërwe, al besef Jakob dit geensins nie. Sý dag-vir-dagse frustrasie om te oorleef onder ‘n onregverdige baas se drakoniese heerskappy het deur die vier vroue vrug geword wat uiteindelik die twaalf stamme van Israel sou word! Dieselfde is ook met ons lewens die geval. Mark Chironna sê dit mooi: “A mighty nation is coming out of Abraham’s promise from God, and from the loins of the heel grabber. He is becoming far more than he knows.” (You can let go now, p. 146).
Die twaalf stamme is dus as ‘t ware die eindproduk van Jakob se frustrasie! Soos in 1 Kon. 18:31-32a is Elia se frustrerende pad wat God hom laat loop bloot ‘n uitspeel van die offer wat God vra van elkeen, ook simbolies van die Bruid: die twaalf klippe wat Elia moes optel wat die stamme van Jakob se kinders verteenwoordig, word die poorte tot integrering in die Bruid, en derhalwe simboliseer dit sý verbondsaltaar met God. [Later meer hieroor.]
Daarbenewens – Laban is bloot geseën omdat Jakob nou maar “eenmaal die geseënde van die HERE” (Gen. 26:29) is! Omdat Jakob in posisie is, seën God diegene rondom hom. Oor hierdie gegrondves-wees in die seëninge van Jakob skryf Dawid veel later (as een van diegene wat ook daardeur bevoordeel is) in 1 Kron. 17:27 – “Dit het U dan nou behaag om die huis van u kneg te seën om vir ewig voor u aangesig te wees; want U, HERE, het geseën, en dit sal vir ewig geseënd wees.”
[Die vaste uitdrukking: “die huis van …” is in die Skrif veelseggend, en dit word ook as tipologie gebruik – soos in die Skrif hierbo – om die korporatiewe verbintenis deur die eeue aan te dui. Wanneer Jesus se geboorte byvoorbeeld aangekondig word, spreek die engel soos volg oor Hom: “Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee, en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.” (Luk 1:32 -33). Dit is tog dan baie goed om Ps. 118:26 uit te spreek oor die “huisgenote” (Gal. 6:10) van God: “Geseënd is hy wat kom in die Naam van die HERE! Ons seën julle uit die huis van die HERE.” (Later ook meer hieroor.)]
Terug by die verhaal van Jakob onderweg na die Jabbok – ons lees die hele narratief in Gen 32:24-32: “Maar Jakob het alleen agtergebly, en ‘n Man het met hom geworstel tot dagbreek. En toe Hy sien dat Hy hom nie kon oorwin nie, slaan Hy hom op sy heupbeen, sodat die heupbeen van Jakob uit lit geraak het in die worsteling met Hom. Toe sê Hy: Laat My gaan, want die dag het gebreek. Maar hy antwoord: Ek sal U nie laat gaan nie tensy dat U my seën. En Hy vra hom: Hoe is jou naam? En hy antwoord: Jakob. Toe sê Hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin. Daarop vra Jakob en sê: Maak tog u Naam bekend! En Hy antwoord: Waarom vra jy tog na my Naam? En Hy het hom daar geseën. Toe noem Jakob die plek Pniël; want, het hy gesê, ek het God gesien van aangesig tot aangesig en tog is my lewe gered. En die son het vir hom opgegaan net toe hy Pnuel verby was; en hy was mank aan sy heup. Daarom eet die kinders van Israel die heupsening, wat aan die heupbeen is, tot vandag toe nie, omdat Hy Jakob op die heupbeen, aan die heupsening, geslaan het.”
Uit die gedeelte moet ons ‘n aantal belangrike opmerkings maak. Allereers:in die onopsigtelike intreefrase “Jakob het alleen agtergebly” word ‘n absolute sleutel gevind. Dit is, volgens die Apostolic Bible Polyglot, presies dieselfde woorde wat gebruik word as in die gedeelte oor Elia wat onder die besembos gaan lê het en gesê het “ek (het) alleen oorgebly” (1 Kon. 19:10)! Dit is belangrik omdat dit ‘n eksplisiete verband bring tussen Jakob en Elia, en dié verbintenis en verband is op die oomblik vir ons voorop. Dit blyk ook dat elke mens op hierdie pad van geestelike outoriteit dikwels ‘n “dark night of the soul” beleef, soos St. John of the Cross se gelyknamige boek lui. Maar desnieteenstaande die alleenheid, die afgesonderdheid en die versugting, is dit God se gepredestineerde ontmoeting om ‘n groter eenheid met Hom te bewerkstellig: “when God draws them forth from the state of beginners—which is the state of those that meditate on the spiritual road—and begins to set them in the state of progressives—which is that of those who are already contemplatives—to the end that, after passing through it, they may arrive at the state of the perfect, which is that of the Divine union of the soul with God.”
Tweedens: Die verskyning van die Man is ‘n vreemde gebeurtenis. Dit word nie eksplisiet God genoem nie, alhoewel ander verwysings hierna dit onteenseglik as God voorhou, byvoorbeeld in net vier verse verder: “Toe sê Hy: Jy sal nie meer Jakob genoem word nie, maar Israel; want jy het geworstel met God en met die mense en het oorwin.”
Hierdie woordjie “Man” word soos volg deur The Complete WordStudy Dictionary verklaar: “A masculine noun meaning a man or an individual. It is also used to mean male or husband. This word does not indicate humankind but the male gender in particular. Its feminine counterpart is a woman or wife.” In die gebruik van die woordjie “Man” wil daar ‘n baie spesifieke verband gelê word met die feit dat die Persoon manlik is, wat nie gaan oor manlikheid as sodanig nie, maar oor die onderliggende geestelike betekenis van die begrip, soos ons dit byvoorbeeld mooi in Gen. 5:2 uitgespel kry – “Man en vrou het Hy hulle geskape en hulle geseën en hulle mens genoem, die dag toe hulle geskape is.”
“Man” is in Hebreeus die woordjie zâkâr, wat beteken: “to remember …, to be brought to remembrance” (BDB). Die doel van hierdie afsondering op die roepingspad is sodat jy met God kan worstel, sodat jy in die proses kan onthou wie jy in die voortyd, die ander realiteit, was, sodat jy hier en nou gehermodelleer kan word op die beeld van God wat jy in die paradys verloor het (Gen. 1:27; 2 Kor. 4:4; Rom. 3:23). Hier waar God jou tot afsondering in die woestyn lok, sal Hy met jou worstel sodat Hy na jou hart kan spreek (Hos. 2:14) en sodoende jou kan laat onthou! Dawid stel dit onvergeetlik mooi in Ps. 77:5-6: “Ek dink oor die dae van die voortyd, oor die ou, ou jare. Ek wil dink (= “zakar”) aan my snarespel in die nag, wil peins met my hart, en my gees deurvors …”
- Sela: Is jy ook deel van die huis van Jakob?
- Lees: 24-26; Joh. 6-8
- Memoriseer: 6:33 & 35
- Delf dieper: Lees St. John of the Cross se klassieke boek: The Dark Night of the Soul.