“In the womb, took he his brother by the heel;
and, in his manly vigour, strove he with God”
(Hos. 12:3, Rotherham)
Ons is tans besig met die belangrike verband wat getref moet word tussen Elia en Jakob, waarop die profeet hom in 1 Kon. 18:31-32a beroep:: “Daarop neem Elía twaalf klippe volgens die getal van die stamme van Jakob se kinders tot wie die woord van die HERE gekom het om te sê: Israel sal jou naam wees—en hy bou met die klippe ‘n altaar in die Naam van die HERE.” In die uitpluising daarvan het dit gelei tot die aartsvader Jakob se worsteling by die Jabbok, waar hy volgens Gen 32:28 geworstel het “met God en met die mense”.
Dié verhaal vertel van Jakob se naam- en identiteitsverandering. Alhoewel Jakob die beloftes van God van sy broer gesteel het, het hy nou daarmee gesit, en moes hy eers van natuur verander vóórdat hy die ‘voertuig’ kon word van God se beloftes wat uitgedeel moes word.
In die vorige Manna het ons begin kyk na die tipologiese moontlikhede ingebed in Gen 32:24 “Maar Jakob het alleen agtergebly, en ‘n Man het met hom geworstel tot dagbreek.” Twee spesifieke swaartepunte is sover hieruit gehaal, eerstens oor die oënskynlik onopsigtelike intreefrase “Jakob het alleen agtergebly”, en tweedens die verskyning van die “Man” met wie elkeen soos Jakob moes worstel om tot onthou te kom van wie jy in die voortyd, die ander realiteit, was, sodat jy hier en nou gehermodelleer kan word op die beeld van God wat jy in die paradys verloor het.
Op hierdie punt dan begin die leser van hierdie geskiedenis agtekom daar daar veel meer in die teks en gebeurtenis weggesteek is as wat ‘n mens met die eerste leesopslag verreken. Die literêre kritikus, Geoffrey H. Hartman, skryf in ‘n artikel genaamd: ‘The Struggle for the Text’ (opgeneem in Hartman & Budick, reds., Midrash and Literature, p. 4) oor hierdie gedeelte oor: “its capacity to leave traces, which incite and even demand interpretation of what it has incorporated”.
Dit is inderdaad die vraag – “What has it incorporated?” Die antwoord op dié vraag is van groter belang as wat dit op die oppervlak blyk. John P. Wargacki, in sy artikel oor die “Counter Typology” (http://mwbdvjh.muse.jhu.edu/journals/shofar/v030/30.3.wargacki.pdf) in dié perikoop, stel dit baie sterk: volgens hom is dit “a moment of reversal in the divine-human relationship, epic in its implications”.
‘n Baie belangrike aanduiding en teks ter tipologiese verduideliking hiervan word gevind in Hos. 12:2-4: “Die HERE het ook ‘n twis met Juda, en Hy sal oor Jakob besoeking doen volgens sy weë, hom vergelde na sy dade. In die moederskoot het hy sy broer by die hakskeen gehou, en in sy manlike krag het hy met God geworstel. Ja, hy het met die Engel geworstel en die oorhand gekry, hy het geween en Hom gesmeek. By Bet-el het hy Hom gevind, en daar het Hy met ons gespreek.”
Let op die volgende punte wat ons hierin moet raaksien:
- Juda word hier spesifiek voorgehou as groepering (nie as persoon nie), teenoor Jakob, wat parallel as kollektiewe benaming vir Israel (Adam Clark’s Commentary on the Bible) gebruik word. Tipologies verwys dit na die Bruid (Juda) en die Kerk (Israel/Jakob).
- Dis tog vreemd dat Jakob hier voorgestel word op hierdie stelwyse (spesifiek as Jakob), en nie as Israel nie, want net in die volgende sin word die persoon Jakob uitgesonder rondom ‘n persoonlike geskiedenis wat onteenseglik spesifiek met hom gebeur het.
- Die frase “in sy manlike krag het hy met God geworstel” word hier reg vertaal, maar in die meeste Bybels verkeerd omskryf as “in his strength” (BBE), “in his manhood” (ESV), “when Jacob grew up” (GNB), “and as an adult” (HCBS), “And in his maturity” (NAS). Dis ‘n baie belangrike gegewe, want soos vroeër verduidelik, is “manlik” se grondwoord in Hebreeus: zakar, “om te onthou”. Die worsteling was dus nie soseer ‘n fisiese worsteling as eerder ‘n geestelike worsteling om identiteit nie, en daardie worsteling is om te onthou wat sy ware identiteit in die voortyd was.
- Om te worstel is die woordjie ‘âbaq in Hebreeus, en die wortel daarvan is “to bedust” (BDB), met ander woorde ‘n beskrywing van mense wat, terwyl hulle stoei met mekaar, stof opskop. Tog kan jy nie anders nie as om stof hier binne Bybele idioom óók te lees as vleeslikheid. Dit skep die onteenseglike indruk dat Jakob God hier in die vlees vaspen, nie andersom nie! En dit lyk, vreemd genoeg, asof God Hom dit laat welgeval, “Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.” (Ps. 103:14).
- Om te “prevail”, is die woordjie śârâh in Hebreeus, wat beteken “contend, have power, contend with, persist, exert oneself, persevere” (BDB). In Strong word daar iets veelseggend toegevoeg: “to prevail: – have power (as a prince)”. Die woord is uiteraard nou verwant aan Sarah (śârâh), Jakob se grootmoeder, die vrou van Abraham, wie se naam beteken: “female noble: – lady, princess, queen” (Strong). Hierdie gegewe is van groot belang omdat Jakob ná sy worsteling ook ‘n naamsverandering ondergaan het, en die naam wat hy van God gekry het, ‘Israel’, beteken: Prince of God (Thayer). Om hierdie rede is daar sekere bronne (soos James P. Boyd se Bible Dictionary) wat verklaar dat die naam ‘Israel’ beteken “”who prevails with God”, asook sommige ouer vertalings wat in hierdie vers albei moontlikhede saam aanbied: “And he said, Your name shall be called no more Jacob, but Israel: for as a prince have you power with God and with men, and have prevailed.” (KJV). [Ook die YLT en WBST.] Die worstel-aksie is dus noodsaaklik om tot ‘n prinslike status te kom, “to overcome”.
- In hierdie lig gesien, is dit nou baie meer duidelik waarom die refrein in Op. 2-3 telkens is: “Aan hom wat oorwin, sal Ek gee …” Dit is nie obstacles wat overcome moet word nie – mense én GOD moet overcome word! Maar hierdie overcoming word absoluut teen die verwagtig in in Hos. 12:4 genoem: “(Jakob) het die oorhand gekry, hy het geween en Hom gesmeek”. Hoe kan overcome wees: wening en smeking?
- Wat dan beteken die frase: “hy het met die Engel geworstel en die oorhand gekry” presies? Hoe kan ‘n mens die oorhand verkry oor God? Het God Almagtig perdalks hierdie stryd verloor? Hoekom kon God nie vir Jakob losworstel uit sy greep nie? Dit klink onsinnig as dit gesuggereer word asof God nie by magte was om hom van Jakob af te skei nie, ten spyte daarvan dat God vir Jakob ‘n redelike kwaai hou op die heup geslaan het (sodat die sening van die heupbeenpotjie bes moontlik seergekry het). In ‘n stoeigeveg is die verlies van ‘n heupbeen se prominente werking absoluut fataal – dit op sigself moes bepaald Josef se poging om te wen totaal gekelder het?
- Miskien die mees belangrike aspek wat uit Hos. 12:4 na vore kom, is dat die perikoop waarna ons hier kyk, afgesluit word met: “daar het Hy met ons gespreek”. Hierin profeteer Hosea dat die hele geskiedenis van Jakob onteenseglik vir ons VANDAG ‘n tipologie is, soos wat hy sélf geprofeteer het vir sy seuns in Gen. 49:1 – “Daarna het Jakob sy seuns geroep en gesê: Kom bymekaar, dat ek julle kan verkondig wat julle aan die einde van die dae sal wedervaar.”
Dink nou weer oor die vraag wat hierbo gevra is: – “What has it incorporated?” Ons het Wargacki aangehaal wat dit soos volg probeer beantwoord het: “(it is) a moment of reversal in the divine-human relationship, epic in its implications”. ‘n Reversal in the divine-human relationship, inderdaad, met enorme implikasies!
Daar lê vir my ‘n belangrike vooropstelling in die verhaal deur God in die Genesis-verhaal “’n Engel” te noem, en later in Hos. 12:4 onteenseglik duidelik “God”. [Dieselfde gelykstelling vind ook in die Nuwe Testament plaas, waar byvoorbeeld in Hand. 7:30-32 hierdie twee handelende figure in die brandende braambos van Moses gelyk gestel word.] Wanneer hierdie hoofstuk in Jakob se lewe ‘n aanvang neem, aan die begin van Gen. 32, word die konteks baie spesifiek só in die eerste twee verse gestel: “Jakob het ook verder gereis, en die engele van God het hom ontmoet. Toe hy hulle sien, sê Jakob: Dit is ‘n leër van God! En hy het die plek Mahanáim genoem.”
Dít knoop onmiddellik met Jakob se ontmoeting met engele ‘n kort tydjie vantevore in Gen. 28, waar hy in ‘n droom ‘n ‘n leer gesien het wat vanaf die aarde tot aan die hemel reik, terwyl die engele van God daarlangs opgeklim en daarlangs neergedaal het (vers 12). Baie insiggewend is dat God in vers 14 vir Jakob sê: “jou nageslag sal wees soos die stof van die aarde”. Om later met die Engel in die stof te stoei, is duidelik God se plan dat Jakob ‘n nageslag “wat in die stof van die aarde slaap” (Dan. 12:2) sal wakkerstoei! God se uitspraak in vers 15 is dan van die uiterste belang en betekenis: “En kyk, Ek is met jou, en Ek sal jou bewaar oral waar jy heengaan, … want Ek sal jou nie verlaat nie, totdat Ek gedoen het wat Ek jou gesê het.” In verse 16-17 vereng Jakob die betekenis deur dit net aan een plek te koppel: “Daarop word Jakob uit sy slaap wakker en sê: Waarlik, die HERE is op hierdie plek, en ék het dit nie geweet nie. En hy het bevrees geword en gesê: Hoe vreeslik is hierdie plek! Dit is hier niks anders as ‘n huis van God nie, en dit is hier die poort van die hemel.” Om hierdie rede benoem hy die plek as Bet-el (vers 19), “huis van God”.
As Jakob dan in Gen. 32 ook elders die engele raakloop, besef hy dat nie net Bet-el is ‘n poort tot die hemele nie, maar ook oral waar hy heengaan! Hy kan hierdie plek nie nou ook Bet-el noem nie, en derhalwe maak hy ‘n denkskuif en noem die plek Mahanaim, wat beteken: “two camps” (BDB). Hy kom tot die besef dat oral waar hy sy voete sit, God ‘n poort tot die hemel sal oopmaak. Waar hy kampeer, daar slaan die engele kamp op langs hom!
Maar hierin lê ook ‘n ander geheimenis. Onthou wat ons vroeër verduidelik het oor die woord “manlik”? Die woord “vroulik” se wortelbasis is nâqab, wat beteken: “to pierce, perforate, bore, appoint” (BDB), met ander woorde om deur perforasie/penetrasie/geweld ‘n poort oop te maak, of dan: om só ‘n poort te word! Synde dat die mens tegelyk manlik én vroulik is (volgens byvoorbeeld Gen. 5:2), is die kapasiteit onteenseglik in elkeen om ‘n poort te word na die voortyd/Eden/ooste/ander realiteit/hemel/ewigheid/derde dimensie/Kanaän. Sodoende word ingetap in hierdie realm deur te remember! Die feit dat die aartsvader Jakob “in sy manlike krag” met God geworstel het, het vir ‘n hele nageslag ‘n poort oopgemaak tot die ander realiteit. En volgens Hos.12:4 het hy dit vir ons almal moontlik gemaak dat God by ons “wat kleihuise bewoon, van wie die grondslag in die stof is” (Job 4:19) kamp kom opslaan het.
- Sela: Verduidelik die laaste paragraaf aan iemand, en duisel voor die grootsheid daarvan!
- Lees: 27-29; Joh. 9-11
- Memoriseer: 8:8-10
- Delf dieper: Luister na Briers Uys se lering: ‘n Praktiese poort terug na Eden