“Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom
van onse God geword, en die mag van sy Christus;
want die aanklaer van ons broeders is neergewerp,
hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag.”
(Op. 12:10, AOV)
Die uitpluising van Jakob se worsteling met die Engel van die Here, het ons in die loop van die afgelope paar Mannas geleer, is in werklikheid, tipologies gesproke, ‘n worsteling met die Christus. En dit het duidelik geword dat in hierdie bereidheid om altyd die knie te buig, daar ‘n geestelike krag vrygestel word. Daarom kan Paulus deurgaans stel dat hy derhalwe nou in sy swakhede kan roem.
Wat Paulus in 2 Kor 12:7-10 met die frase “die voortreflikheid van die openbaringe” bedoel (waaroor in die vorige Manna geskryf is), is die voortreflikhede van die menigvuldige openbaring van wie die Christus is (1 Kor. 1:7; Gal. 1:12; Ef. 1:17; 1 Pet. 1:7 & 13; Op. 1:1), maar dit is ook meer. Die Living Oracles New Testament vertaal die woordjie “voortreflikhede” hier gepas ook as “the transcendency of the revelations”. Hierdie openbarings maak dus transendensie moontlik, wat altyd in effek tot ‘n “Approch (to) the Beyond” lei (sien die titel van Regina Schwartz se versamelbundel: Transcendence: Philosophy, Literature, and Theology Approach the Beyond).
Paulus verduidelik hierdie geestelike wetmatigheid baie mooi in 2 Kor. 4:4-12. Hy begin dié belangrike passasie deur in vers 4 te stel dat sekere (on)gelowiges se geestelike oë sodanig verblind is, dat “die evangelie van die heerlikheid van Christus” nie vir hulle geopenbaar word nie. In vers 7 noem hy dié openbaring van Christus ‘n “skat in erdekruike”. Met laasgenoemde bedoel hy metafories ons stoflike, sterflike of vleeslike liggame. Dán maak hy hierdie baie belangrike gelykstelling – dit alles gebeur “sodat die voortreflikheid van die krag van God mag wees en nie uit ons nie”. Let op dat die woord “voortreflikheid” hier weer gebruik word. Hierdie swakheid (gebrokenheid/vleeslikheid/menslikheid/kragteloosheid) veroorsaak ‘n toestand van menslikheid wat ons saai (1 Kor. 15:43). Hierdie proses waardeur ons swakheid saai, word mooi in verse 8 en 9 grafies uitgespel: “In alles word ons verdruk, maar ons ons is nie terneergedruk nie; ons is verleë, maar nie radeloos nie; vervolg, maar nie verlate nie; neergewerp, maar nie vernietig nie.”
In vers 10 noem hy al hierdie worstelinge “die doding van die Here Jesus in die liggaam”, wat dan as gevolg van hierdie geestelike wetmatigheid “daar opgewek (word) in krag”(1 Kor. 15:43). Sien die wetmatigheid duidelik: daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag! Dit gebeur “sodat ook die lewe van Christus in ons liggaam openbaar kan word”. Vers 11 verwoord dit dan só: “Want altyd word ons wat lewe, oorgelewer in die dood om Jesus wil, sodat ook die lewe van Jesus in ons sterflike vlees openbaar kan word.” En dan voltooi Paulus die argument in vers 12 deur saam te vat: “So werk die dood dan in ons, maar die lewe in julle.”
Onthou – dié alles word deur die Liggaam van Christus gefasiliteer. Jou swakhede (in die wydste sin) moet in die Ligaam gesaai word, en dit sal fusiekrag te voorskyn bring IN DIE LIGGAAM. Sien hoe Paulus die wetmatigheid wyer beskryf in 1 Kor. 15: 42-44: “So is ook die opstanding van die dode: daar word gesaai in verganklikheid, daar word opgewek in onverganklikheid; daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag. ‘n Natuurlike liggaam word gesaai, ‘n geestelike liggaam word opgewek. Daar is ‘n natuurlike liggaam, en daar is ‘n geestelike liggaam.” Hierdie geestelike liggaam is die opgestane verheerlikte Liggaam van Christus waaraan die Bruid deel het.
In hierdie lig word Rom. 8:11 nou eers duidelik: “En as die Gees van Hom wat Jesus uit die dode opgewek het, in julle woon, dan sal Hy wat Christus uit die dode opgewek het, ook julle sterflike liggame lewend maak deur sy Gees wat in julle woon.” Lees weer – eers het die Heilige Gees vir Jesus uit die dode opgewek, en het Hy ‘n verheerlikte Liggaam verkry. Noudat ons deur die doping met die Gees nie net die Heilige Gees ontvang nie (Joh. 1:33), maar ook ‘die saad van Christus” (1 Tim. 3:16), word ons ingedoop in die Liggaam van Christus (Gal. 3:27) – “Want ons is almal ook deur een Gees gedoop tot een liggaam.” (1 Kor. 12:13). Ná ons val uit die voortyd is ons in die eerste Adam met ‘n vleeslike liggaam beklee (Gen. 3:21); met die doping in Christus word ons beklee met die Laaste Adam met ‘n ewige, onsienlike, geestelike, verheerlikte korporatiewe Liggaam beklee en vervul met “‘n lewendmakende Gees’ (1 Kor. 15:45).
Soos my individuele swakheid en dood in die Liggaam van Christus bedek word, word daar Goddelike krag in die Liggaam opgewek – “So werk die dood dan in ons, maar die lewe in julle.” Hierdie proses word verder so mooi toegelig deur Kol. 2:11b-12: “deur die liggaam van die sondige vlees af te lê in die besnydenis van Christus … (word) julle saam met Hom begrawe is in die doop, waarin julle ook saam opgewek is deur die geloof in die werking van God wat Hom uit die dode opgewek het.” Van nou af is ons “egter nie in die vlees nie, maar in die Gees, as naamlik die Gees van God in julle woon. Maar as iemand die Gees van Christus nie het nie, dié behoort nie aan Hom nie. Maar as Christus in julle is, dan is die liggaam dood vanweë die sonde, maar die gees is lewe vanweë die geregtigheid.” (Rom. 8:9-10)
Met dit as konteks, kan ons begin kyk na die masskrif hierbo in Op. 12:10: “Toe hoor ek ‘n groot stem in die hemel sê: Nou het die heil en die krag en die koningskap die eiendom
van onse God geword, en die mag van sy Christus; want die aanklaer van ons broeders is neergewerp, hy wat hulle aanklaag voor onse God, dag en nag.”
Wanneer word die heil (= redding), die krag, en die koningskap die MAG (of KRAG) van God se Christus? “Nou”, wanneer “die aanklaer van ons broeders” neergewerp word. Wanneer ek en jy ons broers aankla oor hulle swakhede, verval die krag wat in Christus opgewek word! Die aanklaer van ons broers is LANKAL oorwin by die kruis, en uitgeklee (Kol. 2:15) – “He stripped all the spiritual tyrants in the universe of their sham authority at the Cross” (Msg). In Manna Dag 832 is dit spesifiek uitgespel aan die hand van “M. Scott Peck wat in sy boek People of the Lie gesê is: “Satan has no power except in a human body … The only power that Satan has is through human belief in its lies.” (pp. 236-237). In hierdie Manna het ons uitgewys dat Satan vir gelowiges in wese ‘n brullende, maar weliswaar ‘n tandelose leeu is. Tog is dit skokkend om te besef dat Satan vir gelowiges nét ‘n mond het, en dat sy grootste bedreiging daarin setel dat hy deur sy voertaal, leuens, ons gevange hou. Nié net is dit deur wat ander van ons sê nie, maar veral deur wat hy in ons kop vir ons wysmaak.
Belangrik nou – dit is die aanklaer van ons broeders waarop ons ag moet gee en nooit weer daaraan meedoen nie.
- Sela: Wat is dus die verheerlike Liggaam?
- Lees: 4-6; Joh. 21; Spr. 1
- Memoriseer: 21:11
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd: Starve the Devil to death – twee prototipes van Phineas