Dag 1252

 

“He gets power from the Mighty One of Jacob,

from the Shepherd, the Rock of Israel.”

(Gen. 48:3, ERV)

 

In Manna 1241-1243 het ons vir eers die prominente Skrif van 1 Kon. 18:31-32a ‘n wyle agterweë gelaat. Hierdie Skrif lê ‘n verband tussen Elia en Jakob, waarop die profeet hom beroep: “Daarop neem Elía twaalf klippe volgens die getal van die stamme van Jakob se kinders tot wie die woord van die HERE gekom het om te sê: Israel sal jou naam wees—en hy bou met die klippe ‘n altaar in die Naam van die HERE.” In die uitpluising daarvan het dit ons gelei tot Jakob se worsteling by die Jabbok met die Almagtige, waaraan ons toe uitvoerig aandag geskenk het.

Nou wil ons net kyk na een spesifieke vers wat vir ons die Almagtige, hier die Magtige genoem, verder beskryf. Dit wil voorkom asof uit die Naam YHWH die Naam Almagtige gevloei het. En dit lyk uit hierdie Skrif wat ons nou gaan bekyk, asof uit die Magtige daar twee verdere Name van God/Jesus spruit.

Op Jakob se sterfbed, in Gen. 49:24, profeteer hy: “Die boogskutters het hom wel geprikkel en hom beskiet en hom bestry, maar sy boog het sterk gebly, en die arms van sy hande was buigsaam, deur die hande van die Magtige van Jakob—daarvandaan waar die Herder, die Rots van Israel, is …”

In die aanvang van die profesieë, maak Jakob dit duidelik aan sy seuns dat hy eintlik nie oor hulle onmiddellike toekoms profeteer nie: “Daarna het Jakob sy seuns geroep en gesê: Kom bymekaar, dat ek julle kan verkondig wat julle aan die einde van die dae sal wedervaar.” (Gen. 49:1). Hoe kan hulle dit aan “die einde van die dae” eers kan wedervaar? Die NJB noem dit “in the final days” en YLT “the latter end of the days”. Die Apostolic Bible Polyglot wat die Hebreeus in Griekse ekwivalente aanbied, lees dit absoluut as die einde van tye, of dan die eindtyd. Ons weet wel dat hierdie “einde van die tye” begin het met die opstanding van Jesus uit die dode – ‘n Skrif soos 1 Joh. 2:18 spel dit byvoorbeeld onteenseglik uit: “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is.” (In ag genome dat hierdie sendbrief volgens die kommentaar in The Life Application Bible geskryf is tussen 85 en 90 n.C., beteken dit ons is vir baie lank al reeds in hierdie “einde van die tye”.)

Wat sou dit dan beteken as Jakob dít dan as sy aanhef aan sy seuns bied voor hy by die detail van sy profesie aan sy twaalf seuns kom?

Die antwoord is eintlik eenvoudig, maar nie voor die hand liggend nie. In die volgende Manna neem ons dit verder.

  • Sela: Het jy dalk die antwoord hierop?
  • Lees: 7-9; Spr. 2
  • Memoriseer: 7:7
  • Delf dieper: Luister na Briers Uys se cd-lering: Die Transisie van Doringboom tot Amandelbruid –                Wrestling for your Identity