Dag 1253-1255

 

“Want ons het hier geen blywende stad nie,

maar ons soek die toekomstige.”

(Heb. 13:14, OAV)

 

Ons is besig met die profetiese Skrif in Gen. 49:1 waar Jakob sy seuns geroep het en aan hulle/ons verkondig het wat hulle/ons aan die einde van die dae sal wedervaar. Dit is nou baie belangrik dat ons die verband moet sien – dít wat Jakob nou aan sy seuns verduidelik, is waarop Elia hom in 1 Kon. 18:31-32a beroep: “Daarop neem Elía twaalf klippe volgens die getal van die stamme van Jakob se kinders tot wie die woord van die HERE gekom het om te sê: Israel sal jou naam wees—en hy bou met die klippe ‘n altaar in die Naam van die HERE.”

Om die nageslag te herinner aan hierdie verbond van God met Jakob moes die hoëpriester ‘n borsplaat dra waarop daar twaalf (edel)stene geset was, wat verteenwoordigend is van die twaalf stamme (Eks. 39:9-14). Hierdie borsplaat moes die hoëpriester deurgaans “op sy hart dra voor die aangesig van die HERE” (Eks. 28:30). Die twaalf stene wat Elia gebruik in sy transisietog is ‘n ander weergawe van dieselfde tipologie, iets wat duidelik op die eindtydbruid slaan.

As daar in Heb. 11:8-9 verduidelik word oor Abraham se geloofsreis, word Isak en Jakob as mede-erfgename van dieselfde belofte binne dieselfde groepering in hul geloofsreise geplaas, wat hier soos volg benoem word: “die plek wat … (hulle) as ‘n erfenis … (sou) ontvang”; ‘n plek waarnatoe “hy … weggetrek (het) sonder om te weet waar hy sou kom”. Dit word ook genoem “die land van belofte”, en al die patriarge, Jakob inkluis, het in hierdie ruimte gewoon “soos in ‘n vreemde land en in tente”. Heb 11:10  spel dit dan uit wat hierdie stad is: “Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.” En later in Heb. 13:14 word dit raak gesê: “Want ons het hier geen blywende stad nie, maar ons soek die toekomstige.” [Toekomstige word nader aan die oorspronklike in die ABP vertaal as: “the one about to be”!]

As Johannes, die apostel, wat ook die boek Openbaring geskryf het, in die voorlaaste hoofstuk van die Bybel die Bruid van Christus getoon word, is dit in ‘n vreemde beeld – dié van ‘n stad: “Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam.” (Op. 21:9), en ook: “En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is.” (vers 2). Hierdie is die simboliese, geestelike stad wat Abraham, Isak en Jakob verwag het!

Die stad wat hierbo afgebeeld is, is met ander woorde ‘n blote versinsel, want die stad lyk bepaald nie só nie. Die beskrywing wat daarvan gegee word in Op. 21 is bloot simbolies. Dis geweldig belangrik dat ons verstaan dat dit ‘n konkrete Bruid is (met ander woorde bestaande uit fisiese, konkrete mense), maar dat hulle simbolies ‘n stad voorstel. Dis nie vreemd in die Bybel nie – ‘n groot verskeidenheid metafore word dwarsdeur die Bybel gebruik om die Bruid te beskryf, byvoorbeeld:

  • as die berg Sion (Heb. 12:22)
  • as “planting van die Here” (Jes. 61:3), met ander woorde: ’n plantasie (Rigt. 9), “grove” (2 Kon. 19:23; Jes. 44:14; 15:13; Miga 3:12) of paradys (Gen. 2:9)
  • as ‘n masjien, ‘n tipe “combine harvester” met wiele binne wiele (Eseg. 1)
  • as ‘n weermag (Joël 2)
  • as gérubs (Eseg. 10), en dan ook:
  • as die “gebou van God” (1 Kor. 3:9).

Die Bruid word dus hier spesifiek in Op. 21:9b-10 voorgehou as die Nuwe Jerusalem. Lees dit nou in samehang: “Kom hierheen, ek sal jou die bruid toon, die vrou van die Lam. En hy het my in die gees weggevoer op ‘n groot en hoë berg en my die groot stad getoon, die heilige Jerusalem, wat uit die hemel van God neerdaal; …”. Daar is ’n duidelike metaforiese gelykstelling tussen die Bruid en die stad (die Nuwe Jerusalem).

Noodwendig moet ’n mens die geestelike Jerusalem vergelyk met die fisiese stad Jerusalem, en oor daardie korrespondensie sou ’n mens weliswaar ’n ganse boek kan skryf. In ’n ligter trant het G.K. Chesterton, in sy boek The New Jerusalem, die volgende te sê: “I need not say I did not expect the real Jerusalem to be the New Jerusalem; a city of charity and peace, any more than a city of chrysolite and pearl. I might more reasonably have expected an austere and ascetic place, oppressed with the weight of its destiny, with no inns except monasteries, and these sealed with the terrible silence of the Trappists; an awful city where men speak by signs in the street.”

Dwarsdeur die wêreld se geskiedenis was/is Jerusalem sentraal – Jerusalem as die middelpunt van die wêreld, soos Eseg. 5:5 en 38:12 dit voorhou, is ikonies-simbolies eweneens die sentrum van belangstelling. Die Psalmdigter se versugting in Ps. 137: 5-6 stel die bykans universele ideële koestering van die fisiese stad Jerusalem digterlik mooi: “As ek jou vergeet, o Jerusalem, laat my regterhand dan homself vergeet! Laat my tong kleef aan my verhemelte as ek aan jou nie dink nie, as ek Jerusalem nie verhef bo my hoogste vreugde nie.” Maar selfs Jesus bevestig die sentraliteit van Jerusalem as Hy dit as die oorsprong vanwaar die evangelie verkondig moet word, uithef en vooropstel: “en bekering en vergewing van sondes in sy Naam verkondig word aan al die nasies, van Jerusalem af en verder” (Luk. 24:47).

In Ps. 68:16 benoem Dawid Jerusalem as “die berg wat God begeer het vir sy woning”, daar waar “die HERE sal … woon tot in ewigheid”. Dis die rede dat die vroeë kerkvader Augustinus vir Jerusalem dan ook in sy klassieke boek genoem het: The City of God. Vandag nog word Ps. 122 voorgedra om mense se affiniteit teenoor hierdie Godstad in geen onseker terme uit te spel nie: “‘n Bedevaartslied. Van Dawid. Ek was bly toe hulle vir my gesê het: Laat ons na die huis van die HERE gaan! .Ons voete staan in jou poorte, o Jerusalem! Jerusalem wat gebou is soos ‘n stad wat goed saamgevoeg is, waarheen die stamme optrek, die stamme van die HERE—’n voorskrif vir Israel! —om die Naam van die HERE te loof. Want daar staan die stoele vir die gereg, die stoele van die huis van Dawid. Bid om die vrede van Jerusalem; mag hulle wat jou liefhet, rustig lewe! Mag daar vrede wees in jou skanse, rus in jou paleise! Ter wille van my broers en my vriende wil ek spreek: Vrede in jou! Ter wille van die huis van die HERE onse God wil ek die goeie vir jou soek.”

Tog, anders wat die naam van Jerusalem in die vooruitsig stel, was dit deur die eeue helaas nié die stad van shalom (salem) nie, maar van eindelose stryd en onvrede. Tog word dit tot vandag toe die stad van Dawid genoem (2 Sam. 5:6-12) omdat Dawid die fondasiesteen op die bergvesting Sion gelê het. In Matt. 5:35 word dit selfs genoem: “die stad is van die groot Koning”. Inderdaad: “in Salem (het) sy tent verrys en in Sion sy woning” (Ps. 76:2).

Die gebou-metafoor rondom Jerusalem is miskien die dwingendste metafoor wat rondom die stad gebruik word – dit is immers hoe Jerusalem in Ps. 122 hierbo voorgehou is: “Jerusalem wat gebou is soos ‘n stad wat goed saamgevoeg is”. Dié spesifieke kensketsing is eintlik baie belangriker as wat dit toevallig lyk. Vergelyk die volgende twee Nuwe-Testamentiese Skrifte oor die Liggaam van Christus, en die metaforiese verband tussen die fisiese Jerusalem en die “Jerusalem daarbo” (Gal. 4:26)

  • “in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here …” (Ef. 2:21).
  • “uit wie die hele liggaam—goed saamgevoeg en saamverbind deur die ondersteuning wat elke lid gee volgens die werking van elke afsonderlike deel in sy mate—die groei van die liggaam bevorder vir sy eie opbouing in liefde” (Ef. 4:16)

Die ERV-vertaling spel uit dat die Nuwe Jerusalem “is joined together in Christ” (Ef. 2:21). Daar is dus ’n duidelike transponering van fisiese Jerusalem na geestelike Jerusalem, soos wat Jes. 52:1-2 dit profeties-beeldend mooi uitspel: “Ontwaak, ontwaak, beklee jou met sterkte, o Sion, trek jou sierlike klere aan, o Jerusalem, heilige stad! Want in jou sal verder geen onbesnedene of onreine meer kom nie. Skud jou los uit die stof, staan op, sit neer, o Jerusalem! Maak los die bande aan jou hals, o gevangene, dogter van Sion!” Die stoflike, ou Jerusalem word afgeskud, en word nou die geestelike, nuwe Jerusalem. Daarom dat Heb. 12:22 dit uitspel in geen onseker terme nie: “Maar julle het gekom by die berg Sion en die stad van die lewende God, die hemelse Jerusalem …”

  1. Preston Elby skryf in sy Kindle-boek: The Heavens Declare: “This entrance into the realm of the heavenly city is not future, not off in space: this is where we NOW have come. We are now seated in the heavenly places, we have now entered in through the gates of the city, we are now walking the streets of gold — walking out the divine nature of God. We have a right to the tree of life in the midst of the paradise of God. While multitudes look for a literal city from outer-space, we are come to the New Covenant City of inner-space, where Christ in us is our hope of glory! How few realize this precious truth! And this city to which we are come, this heavenly Jerusalem, IS THE M-O-T-H-E-R OF US ALL!”

Onthou Jakob se profesie in Gen. 49:1 oor die “einde van die dae”? Die profeet Jesaja (2:2-3) beskryf wat sal gebeur in/vanaf hierdie Nuwe Jerusalem waar die geestelike Sion is: “En aan die einde van die dae sal die berg van die huis van die HERE vasstaan op die top van die berge en verhewe wees bo die heuwels, en al die nasies sal daarheen toestroom. En baie volke sal heengaan en sê: Kom laat ons optrek na die berg van die HERE, na die huis van die God van Jakob, dat Hy ons sy weë kan leer en ons in sy paaie kan wandel. Want uit Sion sal die wet uitgaan en die woord van die HERE uit Jerusalem.” Daar word uit die Nuwe Jerusalem geregeer.

Hoe word ’n mens deel van hierdie Nuwe Jerusalem? In die profetiese Psalm 87 word die geheimenis geopenbaar oor dié “stad van God” (vers 3): “En van Sion sal gesê word: Man vir man is daarin gebore … Hierdie een is daar gebore.” (verse 5 en 6). As die Nuwe Jerusalem wel in die toekoms lê, soos so baie Bybelkommentators en gelowiges beweer, is daar geen kans dat ek en jy en al die generasies gelowiges voor ons daarin kan wees nie, want ons is dan helaas nie fisies daarin gebore nie.

Hierdie profetiese psalm maak net enigsins sin as die New Jerusalem geestelik is en die toegang daarin ’n geestelike (weder)geboorte is (Joh. 3:3 & 5)! Dis al manier hoe verklaar kan word dat Heb. 12:22 konstateer dat ons reeds in die Nuwe Jerusalem is.

Vir die volgende klompie Mannas gaan ons net eers die Nuwe Jerusalem verken in simboliese begeleiding van die stad. Ons neem ’n aanvang by die wonderbaarlike geestelike beginsel wat moet meebring dat die Nuwe Jerusalem “die hele gebou”/”die hele Liggaam”, “goed saamgevoeg” moet wees.

  • Sela: Verduidelik aan iemand hoekom die Nuwe Jerusalem ‘n simboliese en nie ‘n fisies stad is nie.
  • Lees: 10-14; Spr. 3-5; Ps. 37
  • Memoriseer: 37:9b (wat ‘n Godgevalle sinchronisasie)
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die Huis wat Jesus wil kom bewoon