“Hy wat alle dinge gebou het, is God.”
(Heb. 3:4, OAV)
Die Bruid, weet ons reeds, word simbolies gelyk gestel aan ‘n gebou (1 Kor. 3:9) of
‘n stad (Op. 21:10). Vroeër, in Op. 3:12, word die Bruid genoem: “die stad van my God, … die nuwe Jerusalem”. ‘n Gebou of ‘n stad word met fisiese stene gebou (Gen. 11:3; Eks. 1:14; 2 Sam. 12:31), en derhalwe sal die Bruid as konstruk met “lewende stene” (1 Pet. 2:5) gebou word. Wat presies beteken dit?
Voordat ons gaan probeer om hierdie vraag te beantwoord, is dit belangrik om ter inleiding iets meer te sê oor die fundamentele belang van boukunde in die Bybel, fisies sowel as geestelik.
Die Dictionary of Biblical Imagery stel hierdie kortbegrip van die aksie “om te bou” voorop: “To build is to exercise a primal urge to impose human order and control on the materials with which the world presents us. It is an implied resistance to both inertia and decay, and it answers to a deep-seated human need to produce something tangible and permanent.” (p. 128).
Dwarsdeur die Bybelse geskiedenis word verslag gedoen oor hierdie aksie tot konstruksie, met allerlei materiale, wat beslag gee aan die Prediker se diktum: daar is altyd ‘n bepaalde “tyd om … te bou”. In die Bybel is bou altyd ten nouste gemoeid met God se bouershand – “As die HERE die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou …” (Ps. 127:1a).
Benewens die voorbeelde van dit wat gebou word in die Skrifte, hou die Bybel ook ‘n God voor wat bou! God is immers die Meesterbouer en Oprigter van die ganse universum. Vir Job vra Hy: “Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? Gee te kenne as jy insig het. Wie het sy afmetinge bepaal? —jy weet dit mos! Of wie het daaroor die meetsnoer gespan? Waar is sy fondamentklippe op ingesink? Of wie het sy hoeksteen gelê?” (Job 38:4-6). In Jes. 48:13 spel Hy dit uit: “My hand die aarde gegrond, en my regterhand die hemele uitgesprei …”. Ja, Ps. 104:2b-3 vertel ons hoe Hy “die hemel uitspan soos ‘n tentdoek” en “sy solders bou in die waters”. Kyk na die ekstase van die Kunstenaarskepper soos dit verbeeld word in Spr. 8: 26-29: “toe Hy die aarde en die velde en al die stoffies van die wêreld nog nie gemaak het nie. Toe Hy die hemele berei het, was ek daar; toe Hy ‘n kring afgetrek het op die oppervlakte van die wêreldvloed; toe Hy die wolke daarbo bevestig het, toe die bronne van die wêreldvloed sterk geword het; toe Hy vir die see sy grens gestel het, dat die waters sy bevel nie sou oortree nie; toe Hy die fondamente van die aarde vasgelê het—“, alles pertinente bou-aksies.
Daarbenewens is om te bou die primêre metafoor-aksie waarmee God se menigvuldige werkinge beskryf word. Hy “bou” byvoorbeeld die vrou wat hy uit Mens se sy haal: “En die HERE God bou die rib wat Hy van die mens geneem het, tot ‘n vrou en bring haar na die mens.” (Gen. 2:22). Analoog hieraan bou Hy Jerusalem (Ps. 147:2) en bou Hy die oorblyfsel van Juda (Jer. 31:4 & 27). Op simboliese vlak bou Hy ‘n veilige omgewing vir sy mense (Ps. 69:35; Jes. 44:26), trouens: Verlossing as sodanig is God se bouprojek: “We have a strong city, Salvation City, built and fortified with salvation. Throw wide the gates so good and true people can enter.” (Jes. 26:1b-2).
Die belangrikste konkrete bouprojekte, tot op die kleinste detail en absolute presisie, is dié van die tabernakel en die tempel.
Uiteraard gaan die natuurlike die geestelike vooraf (1 Kor. 15:46), en daarom word God se bouery in die Nuwe Testament toenemend geestelik, alhoewel geensins minder reëel nie. Elke gelowige word nou individueel opgebou as ‘n tempel (1 Kor. 3:16; 6:19), “gewortel en opgebou in Christus” (Kol. 2:7), maar ook word alle gelowiges korporatief tot tempel of tabernakel opgebou (2 Kor. 6:16) as “die huis van God, wat die gemeente van die lewende God” (1 Tim. 3:15) is. As “huisgenote van God” word ons “gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees” (Ef. 2:19b-22). Deur verskeie aksies bewerk God dat hierdie Liggaamshuis opgebou word: Rom. 14:19; 15:2; 1 Kor. 8:1; 10:23; 14:3, 5, 12 & 26; 2 Kor. 10:8; 12:19; 13:10; Ef. 4:12 & 29; 1 Thess. 5:11.
In Heb. 3:4 word die kruks van alles hierbo netjies uitgespel: “Hy wat alle dinge gebou het, is God.”
Fundamenteel hiertoe is Jesus se belofte aan Petrus in Matt. 16:18 – “Jy is Petrus, en op hierdie rots sal Ek my gemeente bou, en die poorte van die doderyk sal dit nie oorweldig nie.” Dáárdie Rots, weet ons teen hierdie tyd, “die rots was Christus” (1 Kor. 10:4). Die ekklesia of Liggaam van Christus word gebou op/in/deur die openbaring van wie Jesus die Christus is. En die boustene is dan uiteraard die rhemawoorde! Die Goddelike identiteite van elkeen van die Bruid vorm die “lewende stene” waarvan 1 Pet. 2:5 hierbo praat.
God se diepste begeerte is om ‘n stad te bou met rhemawoorde! Volgens Heb. 11:10 droom Hy deur vader Abraham van ‘n stad “wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is” en wat “die heerlikheid van God” (Op. 21: 21:11) in verbysterende volheid in hom het, ‘n huis met baie kamers wat Hy sélf gebou het (Joh. 14:2-3).
Dit sal die Mannaleser absoluut loon om eers weer Dag 587-589 te gaan lees. Daardie spesifieke Manna bied ‘n eksegese van die moeilike en dikwels misverstane Joh. 14, die gedeelte waar Jesus aan sy dissipels (en aan ons) verduidelik dat Hy weggaan (vers 3), ‘n plek gaan voorberei (vers 2), maar weer sal terugkom en by die gelowige kom woning maak (vers 23). Ons het in dié Manna uitgewys Joh 14 toon dat Jesus gegaan het om vir ons ‘n plek te gaan voorberei, maar dis nie ‘n huis in die hemel nie, dis ‘n topos in Hom. HY is immers die Weg. Die plek daarheen weet ons, en die weg ken ons. IN HOM lewe ons, beweeg ons, en is ons (Hand. 17:28).
Dis tog belangrik om daarop te let dat Jesus wel heengegaan het om ‘n plek voor te berei, maar duidelik is dit ‘n geestelike ruimte of topos of “’n gebou … van God” (2 Kor. 5:1), “‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele”. Ons verlang, sê Paulus, “om met ons woning uit die hemel oorklee te word” (vers 2). Dít gebeur terwyl ons nog in die lewe is, soos in Dag 610 uitvoerig verduidelik is.
- Sela: Maak seker jy verstaan Joh. 14 in terme van die bou-metafoor.
- Lees: 15-18; Spr. 6-7
- Memoriseer: 6:6-19
- Delf dieper: Luister na Philip Degenaar se cd-lering: Die Vermeerdering van Outoriteit in Jou Tempel