“En die HERE het die gees van Serubbábel … opgewek …”
(Hag. 1:14, OAV)
Die profetiese gestaltegewing van die Nuwe Jerusalem lê grootliks in die hande van die tipologiese gestalte van Serubbábel, het ons in die vorige Manna gesê.
In Hag. 1:14 word die volgende voorgehou, ‘n gegewe wat elkeen in die Bruid ten nouste raak: “En die HERE het die gees van Serubbábel, die seun van Seáltiël, die goewerneur van Juda, en die gees van Josua, die seun van Jósadak, die hoëpriester, en die gees van die hele oorblyfsel van die volk opgewek. En toe het hulle gekom en die werk begin aan die huis van die HERE van die leërskare, hulle God.” In Manna Dag 1174 is die konsep van ”die gees van die oorblyfsel” verduidelik, en analoog daaraan is dit duidelik dat “die gees van Josua” en “die gees van Serubbábel” almal korporatiewe mantels is wat die bemagtiging van verskeie baie spesifieke take meebring. Die gees van Serubbábel is derhalwe ‘n gees wat jy ook kan ontvang om die fondament van die Nuwe Jerusalem te lê. Wat sou dit behels?
Een van die belangrikste openbaringe rondom die gees van Serubbábel lê in die gematria van die woord, wat ‘n totaal is van 241. Een van die woorde wat dieselfde gematria het, is אמר, oftewel ‘êmer, wat in sy dinamiese ekwivalent in Grieks beteken: rhema! [Onthou in Dag 1176 het ons uitgewys dat die woorde tabernakel en rhema dieselfde gematriese waarde het!] Dit hou in dat dít waarmee Serubbábel die tempel herbou, is die Bruid se rhema-woorde, of dan: “lewende stene” (1 Pet. 2:5)! Alle prosesse waarmee die Bruid besig is om netwerking en korrespondensie van rhemawoorde met mekaar te bewerkstellig, is ‘n uitvoering van die korporatiewe gesag van Serubbábel. Indien hierdie aksies ook van jou waar is, funksioneer jy in die gees of met die mantel van Serubbábel.
Alles wat ons dan nou van die historiese Serubbábel weet, moet binne hierdie oorkoepelende werksaamheid van die mantel, wat daarop gerig is om die Nuwe Jerusalem te bou, verstaan word:
- Eerstens: Serubbábel het die eerste groep Jode, afgerond 42 000 in getal, uit Babiloniese beleg gelei, ‘n sterk aanduiding van die 42ste geslag tot in die 1000ste geslag! Lees weer Manna Dag 364-365 om die simboliese betekenis van die 42ste geslag te begryp. [Oor die getal vrygemaaktes, raadpleeg Tollington se navorsing: Tradition and Innovation in Haggai and Zechariah 1–8 , p.132.]
- Ten tweede: Hy was die goewerneur van die Persiese provinsie van Juda (Hag.1:1), derhalwe kan ons met sekerheid sê dat hierdie mantel net in die Bruid funksioneer, en helaas nie in die kerk nie.
- Derdens: Alhoewel hy uit die Dawidiese saadlyn kom, en derhalwe uit die koninklike stam van Juda, was Serubbábel duidelik nie ‘n koning nie. Bes moontlik omdat hy uit die nageslag van Gonja kom, van wie Jer. 22:30 geprofeteer is dat niemand uit sy nageslag “op die troon van Dawid” sal sit nie. Sy broederlike saamloop met die hoëpriester Josua bied duidelik die tipologie van die priester-koning-kombinasie, wat die grondslag van die nuwe priesterorde van Melgisédek verteenwoordig. Duidelik stel dit ‘n nuwe bedeling voor wat nie deur die fisiese gerig word nie, maar deur die geestelike.
- In die vierde plek: Serubbábel se vader se naam is Pedája (1 Kron. 3:19, nie Jósadak, soos Hag. 1:14 meld nie – daar is ‘n goeie rede vir die oënskoulike ‘fout’), wat beteken: “Jehovah has ransomed”, met ander woorde: God het die losprys betaal. Die seun, Serubbábel, se naam beteken: “sown in Babylon”, en een van sý seuns se name is Ohel (1 Kron. 3:20), wat beteken: “tent” (BDB). In die generasielyne kan die simboliese en identiteitsduiding mooi uitgelees word – God het die (ver)lossingsprys betaal sodat ‘n nageslag wat gesaai was in die koninkryke van die wêreld losgekoop kan word sodat hulle ‘n tabernakel/tent van die Allerhoogste kan word. Al die ander kinders van Serubbábel se name dui op die goddelike natuur wat hierdie tabernakelnageslag besit, insluitende Sélomit, die enigste dogter, wie se naam beteken “peaceableness” (Strong), ‘n duidelike permutasie van Jeru-salem.
- Vyfdens: Die Jewish Encyclopedia bied ‘n baie belangrike ander betekenis-moontlikheid van die woord Babilon (wat allerweë as verwarring of chaos vertaal word). In die Babiloniese taal is dit saamgestel uit “bab” (poort) and “ili” (God), letterlik dan: “die poort van God”! In die lig van wat ons in Manna Dag 1238-1240 geleer het, word die gelowige dan ten spyte van sy omstandighede ‘n poort tot ‘n hoër geestelike dimensie vir ander! Die salwing of mantel van Serubbábel is bepaald ‘n roeping met’n korporatiewe doel.
- In die sesde plek: In Esra 1:8 word die leser bekend gestel aan een van die hooffigure van die tempelherstelwerk, naamlik “Sésbassar, die vors van Juda”. Vreemd genoeg, hierdie “koning” verdwyn vroeg reeds abrup van die toneel, en Serubbábel neem sonder enige verduideliking sy plek in. Dit word nêrens in die teks gesê nie, maar Bybelkommentators meen daar is genoeg rede dat Sésbassar die Babiloniese naam van Serubbábel is (The Complete WordStudy Dictionary). Sésbassar beteken: “worshipper of fire” (BDB). Tipologies is dit van waarde, want as koning Kores se naam beteken: “possess thou the fire” (BDB) het hierdie gesamentlike korporatiewe mantel ten nouste te doen met die doping met vuur, die noodsaaklikheid om deur die wesensaard van God te transmuteer tot die derde dimensie. [Dit is uitvoerig in allerlei fasette bespreek vanaf Manna Dag 662 – Dag 761.]
- En dan, sewende: Hag. 2:23 konstateer die volgende: “In dié dag, spreek die HERE van die leërskare, sal Ek jou neem, Serubbábel, …, my kneg, spreek die HERE …” Hierdie uitdrukking, “my kneg”, wat duidelik ‘n term of endearment van God in die Skrifte is, kom baie min voor, maar dit word oorvloedig ten opsigte van koning Dawid gebruik (2 Sam. 3:18; 7:5; 1 Kon. 11:13, o.a.). In sy boek: Zemah and Zerubbabel: Messianic Expectations in the Early Postexilic Period (p. 232) wys Walter Rose daarop dat dit die implikasie het dat Serubbábel soos sy vader Dawid as koning sal regeer, wat egter nooit gebeur het nie. Wat wel hierdeur duidelik blyk, is dat ‘n geestelike siening van koningskap hierdeur ingelei word. Noodwendig lê dit dan dadelik ‘n verband met die feit dat Jesus deurgaans, van sy geboorte af (Matt. 2:2), tot met sy kruisiging (Matt. 27:37) “die Koning van die Jode” is, terwyl Hy nooit fisies so ‘n posisie ingeneem het nie (Joh. 18:37). Duidelik word Serubbábel ook gelyk gestel aan hierdie geestelike tipe koningskap, veral as Jesus ook in die profetiese Jes. 42:1 “my Kneg wat Ek ondersteun” genoem word.
In die volgende Manna hervat ons hierdie kensketsing van die gees van Serubbábel.
- Sela: Dink jy jy besit die gees van Serubbábel of ken iemand wat daarin loop?
- Lees: 23-25; Spr. 10-11; Filemon; Ps. 49
- Memoriseer: 49:15
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Charl Coertzen: Om Babilon te ontwortel: Heiligmaking in die derde dimensie