Dag 1265-1267

 

“Serubbábel … het klaargemaak …”

(Esra 3:2, OAV)

 

Die gees van Serubbábel is steeds onder die loep. In sy boekie: Zerubbabel and the Two Witnesses spel Frank Borg dit uit: “just as there was a Zerubbabel in the Old Testament who built the physical temple, there is also a New Testament Zerubbabel who builds the Church – or – spiritual temple.” In die vorige Mannas het ons reeds agt manifestasiekenmerke van hierdie korporatiewe gees afgehandel, wat primêr gelowiges in die Bruid van Christus bemagtig om die derde, geestelike tempel te bou.

Die negende karakteristieke kenmerk van die mantel of gees van Serubbábel wat ons wil uitlig, is wat in Esra 3:8 oor hom staan: “Serubbábel, die seun van Seáltiël, ‘(het) ‘n begin gemaak”, en wat in Esra 3:2 staan wat dit (omgekeerd) kompleteer: “en Serubbábel, die seun van Seáltiël, met sy broers, het klaargemaak …”

Gewoonlik is die meeste mense óf beginners óf volvoerders – party het die (klaarblyklik enterpreneuriese) vermoë om dinge te begin, ander om dinge te voltooi of tot volvoering te bring.

Jare gelede was ek baie moedeloos oor myself, omdat ek soveel nuwe dinge begin het, maar veel daarvan uiteindelik nie kon voltooi nie. Ek het besluit ‘n “veelheid van raadgewers” (Spr. 11:14) byeen te roep, of  in Engels: “a counsel of many” (ISV), om saam met my by die Here te hoor oor die oorsprong van hierdie probleem. [Partykeer is ons té betrokke by ‘n saak om regtig te kan hoor wat God daaroor sê, en hoor ons teenstrydige dinge, of ons hoor gekontamineerd, of selfs glad nie – almal het soms ‘n blinde kol ten opsigte van hulle eie antwoorde wat hul van die Here af verwag. Dikwels het ons ook ‘n afgod in die hart, en stuur God ‘n leuengees om ons te antwoord na die afgod in ons hart (1 Kon. 22:22).  As jy onseker is oor ‘n groot besluit, of ‘n saak waaroor jy nié ‘n antwoord by God kry nie, kan ‘n mens vra vir ‘n ‘counsel of many’. Só ‘n ‘counsel of many’, sê Spr. 11:14, bring “wysheid” en ons weet uit 1 Kor. 1:24 “wysheid” is ‘n ander takserende of tipologiese naam vir Christus. As jy ‘n groep gelowiges raadpleeg, jou saak of probleem aan hulle stel, kan ons verwag dat God deur die groepering sy wil sal uitspel.]

Anders as al die ander ‘counsels of many’ wat ek in die verlede gehad of gelei het, het niemand ‘n woord van die Here ontvangt nie, behalwe net een vreemde woord wat ‘n broer gekry het – net een woord: Chrysler. Hy het self nie geweet wat dit beteken nie; ek helaas ook nie. Ek is onverrigter sake weg van die geestelike beraadslaging.

Die volgende dag vertrek ek na Zimbabwe vir ‘n bedieningseis daar, en terwyl ek in die ry staan om in die vliegtuig te klim, draai die man voor my om na my toe en sê totaal uit die wars: “Jy is ‘n Chrysler.” Ek was verstom! Dis al, want hy het toe al omgedraai en in die geharwar van die instappery verdwyn. Ek het hom gesoek, nie gekry nie, tot ek weer terugvlieg, en sowaar, hierdie man is (vreemd genoeg?) was weer voor my in die ry! Ek vra vervaard wat dit sou beteken om ‘n Chrysler te wees, en hy verduidelik – “Walter Chrysler was die eerste persoon wat proefnemings rondom die moderne motorkar gedoen het Hy het die konsep uitgedink en probeer bou, maar uiteindelik as gevolg van sy temperament en ‘n té stadige inwerkingstelling van sy planne die knie moes buig voor Henry Ford, wat die plan verfyn en vervolmaak het en toe die mark grootliks oorgeneem het. Dus, Chryslers is dikwels die visionêre, maar hulle het die Fords nodig om hul drome in die praktyk tot uitvoer te bring.”

Ek was ‘n Chrysler volgens God se taksering. En ja, ek was verseker dit.

Interessant genoeg, in die lig van hierdie getuienis sou Serubbábel nie ingepas het nie, en hierdie negende kenmerk van die gees/mantel van Serubbábel bied derhalwe ‘n alternatief tot óf Chrysler-wees óf Ford-wees – in Serubbábel het albei moes integreer. Serubbábel het dit begin, en Serubbábel sal dit volvoer.

In die Liggaam van Christus is daar te veel inisieerders wat allerhande blink planne het en ywerig aan die werk spring, maar dikwels sonder om die koste te bereken (Luk.14:28). Daarbenewens word baie Fords, meestal late bloomers, dikwels gevange gehou deur hul gebrek aan inisiatief en hulle vrees om iets nuuts te begin. Hulle verkies die gemaksone van waarmee hul besig is en vestig veel eerder iemand anders se besigheid of bediening as om self te probeer.

Die gees van Serubbábel vra dat jy ‘n Chrysler én ‘n Ford moet wees. Elkeen in die Bruid met hierdie mantel is gegrondves in die feit dat God albei se vermoëns/vaardighede vra. Daarom stel Sag. 4:9 dit mooi soos volg: “Die hande van Serubbábel het die fondament van hierdie huis gelê, en sy hande sal dit voltooi …”

Omdat ons in die proses is om te herstel na die wesensaard van God se beeld (2 Kor. 4:4), moet hierdie ‘vermoëns’ in ooreenstemming wees met Jes. 46:9-10 – “Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie; wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen …” Die Bruid beweeg in die volmaakte wil van God, en weet derhalwe wat is God se blouduk vir hul lewens en vir die wêreld, daarom kan hulle maklik iets totaal nuuts begin én die proses voltooi.

Die tiende kenmerk van die gees/mantel van Serubbábel word gehaal uit Sag.4:6 – “Dit is die woord van die HERE aan Serubbábel, naamlik: Nie deur krag of deur geweld nie, maar deur my Gees, sê die HERE van die leërskare.” Die YLT  vertaal dit soos volg: “This is a word of Jehovah unto Zerubbabel, saying: Not by a force, nor by power, But–by My Spirit, said Jehovah of Hosts.”

Die natuurlike mens wil sy reg altyd ten alle koste uitoefen en sy wil laat geskied. Hulle dryf ‘n saak, manipuleer of intimideer, beheer, trek toutjies en oefen druk uit, en dikwels kry hulle baie dinge op hierdie manier gedoen. Hulle verkeer nie in God se rus nie, maar werk met ‘n vooropgestelde agenda wat hulle met mag en krag, en soms selfs subtiele geweld, laat gebéúr.

Dit is helaas nie die werkwyse in die koninkryk van God nie. In die Ou Testament was dit al voorop dat God Hom ontferm en sy volk verlos, “nié deur boog of swaard of oorlog, deur perde of ruiters” (Hos. 1:7) nie. In die Nuwe Testament is dit die absolute riglyn van die Geesvervulde persoon. Sy uitnodiging in Matt. 11:29-30 spel Jesus se gesindheid in hierdie verband/verbond onteenseglik uit:  “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” Paulus sê hierop: “Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was.” (Fil. 2:5). Jesus verduidelik dit eenvoudig en direk in Matt. 20:25–28: “Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar só moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees. En elkeen wat onder julle die eerste wil word, moet julle dienskneg wees; net soos die Seun van die mens nie gekom het om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie.”

‘n Mens sou ‘n studie maak van hierdie lewensingesteldheid van absolute outoriteit gepaardgaande met absolute nederigheid, wat Jesus byvoorbeeld gedemonstreer het. Kyk na hoe hierdie belangrike riglyn later ook Paulus se modus operandi geword het: “net soos ek almal in alles behaag en nie my eie voordeel soek nie, maar dié van baie …” (1 Kor. 10:33). In 1 Kor. 2:4-5 verduidelik hy dit voorts soos volg: “en my rede en my prediking was nie in oorredende woorde van menslike wysheid nie, maar in die betoning van gees en krag, sodat julle geloof nie in wysheid van mense sou bestaan nie, maar in die krag van God. Of Petrus wat homself en andere as apostels beskryf “ook nie as heersers oor die erfdeel nie, maar as voorbeelde vir die kudde” (1 Pet. 5:3) – “nor as domineering over the lots” (ACV).

Baie belangrik om te besef – dit is die Gees wat dinge IN jou bewerk om hierdie gesindheid te ontwikkel en dat dit nie aangeleerde gedrag is nie – “die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp” (2 Kor. 10:4), Eiesinnigheid, ongenaakbaarheid, en wederstrewigheid bedroef die Heilige Gees – “daarom het Hy vir hulle in ‘n vyand verander: Hy self het teen hulle gestry” (Jes. 63:10).

Daar lê ook ‘n geweldige vertroosting in dat jy nie met geweld en krag iets moet probeer doen nie, maar loot deur die Gees.

Die elfde karakteristieke eienskap van die mantel van Serubbábel word in Sag. 4:7 uitgespel: “Wie is jy, groot berg? Voor Serubbábel sal jy tot ‘n gelykte word! En hy sal die sluitsteen te voorskyn bring onder uitroepe van: Genade, genade oor hom!” Hierin lê ‘n geweldige groot waarheid, wat Jesus later ook weer uitgehef het, in Matt. 21:21-22: “Maar Jesus antwoord en sê vir hulle: Voorwaar Ek sê vir julle, as julle geloof het en nie twyfel nie, sal julle nie alleen doen wat met die vyeboom gebeur het nie; maar al sê julle ook vir hierdie berg: Hef jou op en werp jou in die see—sal dit gebeur. En alles wat julle in die gebed vra, sal julle ontvang as julle glo.”

Dit is die salwing van Serubbábel wat hierdie geloofsposisie meebring. Die berg, volgens die Amplified Bible,  is ‘n simbool vir “heaps of human obstacles”. Jesus stel dit nie net in die negatief, naamlik dat probleme aangespreek sal word en dan as ‘t ware verwyder word, nie. Hy kwalifiseer dit dat alles wat julle  (LET WEL: nie net jý nie) in gebed vra, sal julle ontvang as julle glo. Daar is met ander woord ‘n baie spesifieke korporatiefheid betrokke in hierdie mantel of salwing. Die wood hang ten nouste saam met die wonderbaarlike belofte van Jesus in Joh. 15:7 – “As julle in My bly en my woorde in julle, sal julle vra net wat julle wil hê, en julle sal dit verkry.” Die woorde waarna Jesus verwys, is rhema-woorde, met ander woorde die identiteite van elkeen in Christus! As die salwing van Serubbábel die fondament lê, het ons vroeër tot die slotsom gekom, is die rhema-worde die lewende stene waarmee hy dit doen!

Daar lê dus onteenseglik ‘n vermoë in hierdie korporatiewe mantel om die woorde van Christus, die “ancient words”, saam te laat beweeg in ‘n geestelike dinamika en sinergie, ‘n krag (1 Kor. 1:24). Hierdie konglomerate of saamklonteringe noem Eseg. 1:16 “‘n wiel binne-in ‘n wiel”, pockets of unity and excellence, in die groter Bruid, en soos vers 20 sê: “die gees (en krag!) van die wese was in die wiele”.

‘n Interessante Skrif in Jes. 40:4-5 (wat profeties bevestig word in Luk. 3:5-6) stel dit soos volg: “Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet ‘n gelykte en die rotsagtige plekke ‘n laagte word. En die heerlikheid van die HERE sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien: want die mond van die HERE het dit gespreek.” Wat ‘n heerlike vooruitsig as hierdie mantel oor die aarde gaan begin sleep, en Serubbábel klaarmaak wat God met hom begin het!

  • Sela: Verduidelik aan iemand Hab. 2:14 in die lig van die laaste drie paragrawe.
  • Lees: 31-34; Spr. 15-17; Ps. 139
  • Memoriseer: 32:13
  • Delf dieper: Luister die cd-lering van Tom Gouws: Jý is ‘n Wonderteken van die Heerlikheid van God          aan die Einde van die Tye