“U het my omswerwinge getel; hou my trane in u kruik; is hulle nie in u boek nie?” (Ps 56:8, OAV)
Die hele ekskursie wat ons rondom die Bible codes geloop het, was net om jou een ding aan die verstand te bring, soortgelyk aan dit wat God volgens Eks 17:14 (OAV) met Josua wou doen: “Toe sê die HERE vir Moses: Skrywe dit as ‘n aandenking in ‘n boek en prent dit Josua in …” ☺
Weet dus: Jy is ingegraveer in die Woord: jou ganske geskiedenis, jou toekoms, alles wat van voor die grondlegging van die wêreld netjies deur die voorkennis van God (1 Pet 1:2) opgeskryf is in sy Boek (Ps 139: 16). “Gaan nou in, skryf dit op ‘n tafel in hulle teenwoordigheid en teken dit op in ‘n boek, dat dit kan bly vir later dae, vir altyd, tot in ewigheid.” (Jes 30:8). Uiteraard is dit wat in die toekoms is, steeds verseël (Jes 29:11-12), want God laat ons nie speel met enige vorm van toekomsvoorspel nie (2 Kon 17:17; Eseg 21:21; Hand 16:16). [As jou oog al ingestel is op merkers van paradigmatiese lees, sou jy dadelik in hierdie Skrifgedeeltes ‘n interessante patroon gesien het!] Kortom, soos die Skrif hierbo sê: Hy het jou omswerwinge getel; jou trane is elke druppel gebêre; as al hierdie minuskele detail in sy Boek is, verseker dan ook jou roeping en verkiesing!
Ons is tans besig met die afdeling oor hoe hoor ‘n mens die stem van God, en dan meer spesifiek: hoe praat God met ons deur die Woord. Maar as jy die Bybel as ‘n boek sien wat los van jou is, kan jy dit nie gebruik as “lamp vir jou voet en lig vir jou pad” (Ps 119:105) nie. Trouens, die gebruik van hierdie spesifieke Skrifgedeelte het al só geyk geraak dat die Here God ons in die geheimenisse van die res van Ps 119 (wat die langste hoofstuk in die Bybel is, en ELKE VERS handel oor die Goddelike Woord – hoe kan dit anders?) moet inneem, sodat ons die vrees van die Here kan terugkry rondom sy Woord. Jes 66:2 sê nie verniet nie: “Maar op hierdie een sal Ek let: op hom wat … bewe vir my woord.”
Kyk dan in hierdie lig weer na Ps 19:7-12: “Die wet van die HERE is volmaak: dit verkwik die siel; die getuienis van die HERE is gewis: dit gee wysheid aan die eenvoudige. Die bevele van die HERE is reg: hulle verbly die hart; die gebod van die HERE is suiwer: dit verlig die oë. Die vrees van die HERE is rein: dit bestaan tot in ewigheid; die verordeninge van die HERE is waarheid – tesame is hulle regverdig. Hulle is begeerliker as goud, ja, as baie fyn goud; en soeter as heuning en heuningstroop. Ook word u kneg daardeur gewaarsku; in die onderhouding daarvan is groot loon. Die afdwalinge – wie bemerk hulle? Spreek my vry van die wat verborge is.” Sela asseblief.
In Luk 8:10 spel Christus dit uit: “Aan julle is dit gegee om die verborgenhede van die koninkryk van God te ken …” Maar Dawid kwalifiseer dit in Ps 25:14: “Die verborgenheid van die HERE is vir die wat Hom vrees, en sy verbond om hulle dit bekend te maak.” Dis ook jou erfdeel.
- Sela: Vat die challenge en begin Ps 119 werklik bestudeer.
- Lees: 1 Sam 13; Ps 135; Luk 10
- Memoriseer: Luk 10:20
- Vir dieper delf: Lees JJ Blunt se klassieke Undesigned coincidences in the Old & New Testament.