Dag 1272-1273

 

“Gee ag op wat julle wedervaar het!”

(Hag. 1:4, OAV)

Die dertiende karakteristieke kenmerk van die mantel of gees van Serubbábel wat ons wil uitlig, kan geïllustreer word uit ‘n deel van Haggai se profesie aan Serubbábel in Hag. 1:4-7: “Is dit vir julle self wel tyd om in julle betimmerde huise te woon, terwyl hierdie huis in puin lê? So sê die HERE van die leërskare dan nou: Gee ag op wat julle wedervaar het: julle het baie gesaai, maar min ingebring; julle het geëet, maar nie tot versadiging nie; julle het gedrink, maar nie genoeg gekry nie; julle het jul geklee, maar nie warm geword nie; en wie hom vir loon verhuur, verhuur hom om dit in ‘n stukkende beurs te steek. So sê die HERE van die leërskare: Gee ag op wat julle wedervaar het!”

Let op die dubbele klem wat geplaas word op die sin: “Gee ag op wat julle wedervaar het!”, wat later ook in Hag. 2:15 vooropgestel word: “Merk dan nou tog op, van hierdie dag af terug!” Dit spel uit dat elke mens wat graag met/binne die mantel van Serubbábel wil loop, ‘n bepaalde verstaan van sy pad tot hier toe moet hê, moet besin oor alles wat gebeur het tydens daardie reis, en sodoende perspektief verkry oor God se hand in die saak.

Daar word in die bostaande perikoop ‘n vyfstuks swaarkrydinge genoem wat dalk met jou kon gebeur het, wat deel is van God se gepredestineerde pad vir jou, en in vers 9 ‘n bykomende twee:

  1. julle het baie gesaai, maar min ingebring” – die woordjie “saai” kan letterlik of figuurlik gebruik word, en sluit enigiets in waar jy jou geld, goed, tyd, ens. gebruik het, vanweë watter rede ook al, met die hoop op ‘n vermeerdering of ‘n goeie uitkoms, maar waar die opbrengs of die verloop of uiteinde daarvan jou teleurgestel het. Dit kan selfs dui daarop dat jy iets vir God gegee of gedoen het (miskien ook saad/geld/tiendes, of spesifieke opdragte/ampte/werke, en so meer), en dat jy ervaar dat dit alles tevergeefs was. In Lev. 26:20 word dit eweneens soos volg uitgespel: “En julle krag sal tevergeefs verbruik word, want julle land sal sy opbrings nie gee nie, en die bome van die land sal hulle vrugte nie gee nie.” Daar is ‘n bepaalde tevergeefsheid wat van jou meester maak, dit wat die Prediker (Salomo) se inslag en skering-motief is in sy boek (Pred. 1:2; 2:17; 3:19; 12:8). Hierdie toestand karteer Moses as ‘n vloek van die Here, en nie noodwendig iets wat Satan of die Bose aan jou doen nie: “Jy sal baie saad op die land uitbring, maar min insamel; want die sprinkaan sal dit afeet. Wingerde sal jy plant en bewerk maar geen wyn drink of wegbêre nie; want die wurm sal dit opeet. Olyfbome sal jy hê in jou hele grondgebied, maar jy sal jou nie met olie salf nie; want jou olywe sal afval. Seuns en dogters sal jy verwek, maar hulle sal vir jou nie wees nie; want hulle sal in gevangenskap gaan. Al jou bome en die vrugte van jou land sal die sprinkaan in besit neem.” (Deut. 28:38-42). Let asseblief op –  “Die HERE sal teen jou stuur die vervloeking, die verwarring en die bedreiging in alles waar jy jou hand aan slaan, wat jy moet doen …” (Deut. 28:20). Duidelik bewerk God hierdie sake om jou aandag te kry, en jou dan opnuut te rig.
  2. julle het geëet, maar nie tot versadiging nie”; en
  3. julle het gedrink, maar nie genoeg gekry nie” word saam behandel, want die semantiese paar van ‘eet’ en ‘drink’ is natuurlik gekoppel, maar ook só as geestelik ekwivalent. Daar is kere dat God “ the basic necessities, plain bread and water to begin with” (Jes. 3:1. MSG) verwyder, maar dit staan ook metafories uiteraard vir alles wat fisies hongersnood en waternood impliseer, soos Eseg. 4:17 uitspel: algehele “gebrek aan brood en water”. Dit bring noodwendig mee: “Honger, ook dors was hulle; hulle siel het in hulle versmag.” (Ps. 107:5). Die gebrek het volgens hierdie Skrif voorts invloed op die sielsvlak: wil, intellek en emosie. Maar dit is veral die geestelike honger en dors wat geïmpliseer word: “Kyk, daar kom dae, spreek die Here HERE, dat Ek ‘n honger in die land stuur, nie ‘n honger na brood nie en nie ‘n dors na water nie, maar om die woorde van die HERE te hoor.” (Amos 8:11). Jesus dui die metaforiese verband hiervan onteenseglik aan in Matt. 5:6 – “Salig is die wat honger en dors na die geregtigheid, want hulle sal versadig word.” In Joh, 6:35 word dit eweneens uitgespel: “En Jesus sê vir hulle: Ek is die brood van die lewe; wie na My toe kom, sal nooit honger kry nie; en wie in My glo, sal nooit dors kry nie.” Daar is baie gelowiges wat heeltyd geestelik onvervuld voel, en nie deur die brood van die Liggaam/Woord (Eseg. 3:1-3; Op. 10:9-10) of die water van die Gees (Joh. 7:38) gevoed word nie. As dit die geval is, moet ons ag gee op wat ons wedervaar, en God se aangesig soek, in plaas daarvan om net verkeerdelik te aanvaar Hy wil nie met ons praat nie.
  4. julle het jul geklee, maar nie warm geword nie” laat die klem uiteraard nie net val op fisiese bekleding nie, maar spesifiek soos Paulus in Rom.13:14 dit geestelik bedoel: “Maar beklee julle met die Here Jesus Christus, …” Hierdie bekleding is dan inderdaad ook ‘n bekleding met die groot verskeidenheid inweefsels en attribute van ‘n roeping. Om met Christus beklee te wees, beteken om ‘n mantel (van ‘n salwing) te dra. Hierdie mantelvorming (om met Christus beklee te word – Gal. 3:27) beteken volgens Rom. 13:14 die volgende: “beklee julle met die Here Jesus Christus, en maak geen voorsorg vir die vlees om sy begeerlikhede te bevredig nie”. Dit gaan dus oor die verwerwing van “die goddelike natuur” (2 Pet. 1:4). As jy jou mantel ontvang het, en jy loop nie daarin nie, is jy geklee, maar jy word nie warm nie.
  5. en wie hom vir loon verhuur, verhuur hom om dit in ‘n stukkende beurs te steek” dui op ‘n voortdurende vermindering en verlies op alle vlakke. Selfs al is die arbeider sy loon werd (1 Tim. 5:18), laat God toe dat sy lewensonderhoud geroof word – hy kan dikwels nie eens sê waarheen sy swaarverdiende geldjies heen verdwyn nie. Dit is nie God se wil nie, maar God sal dit gebruik om jou aandag te vestig daarop dat jy besig is om iets rondom jou roeping en verkiesing te mis.
  6. Julle het uitgesien na baie, en kyk, dit het min geword” is ‘n duidelike aanduiding van teleurstelling in dit wat jy gedink het God vir jou moet laat verkry – die dag as “die drag van die olyfboom sal teleurstel” (Hab. 3:17) moet jy besef dat God jou aandag probeer kry. Jy mis iets groot. Die uitgestelde hoop maak die hart siek (Spr. 13:12)
  7. en julle het dit in die huis gebring, maar Ek het dit weggeblaas” is die duidelikste aanduiding dat God se hand daarin is om selfs soms traumatiese of slegte dinge met jou te laat gebeur, sodat Hy jou aandag kan vestig daarop dat jy soms jou lewe moet verloor voordat jy jou lewe kan red (Mark. 8:35).
  • Sela: Gee ag op wat jy wedervaar het.
  • Lees: 149; Jos. 9-12; Spr. 22-23
  • Memoriseer: 22:29
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die Verstaan van Slegte Gebeure in die      Volmaakte Wil van God