“Nou dan, skep moed, Serubbábel, …”
(Hag. 2:4, OAV)
Ons is tans besig met die karakteristieke kenmerke of eienskappe van die mantel of gees van Serubbábel, en het al dertien aspekte daarvan uitgewys.
Die veertiende kenmerk word gehaal uit Hag. 2:4-5: “Nou dan, skep moed, Serubbábel, spreek die HERE, en skep moed, Josua, hoëpriester, seun van Jósadak, en skep moed, julle almal, volk van die land, spreek die HERE, en werk! Want Ek is met julle, spreek die HERE van die leërskare, met betrekking tot die verbond wat Ek met julle gesluit het by julle uittog uit Egipteland, en my Gees sal in julle midde bestendig bly; wees nie bevrees nie!”
Niemand anders nie as God bemoedig die oorblyfsel om nie moed te verloor nie. Drie keer word vooropgestel: “skep moed!”. Hierdie uitdrukking het egter baie nuanses in die Hebreeuse taal, en die verskillende vertalings gee só daaraan beslag:
- “be strong” (ACV)
- “take strength” (ABP)
- “cheer up!” (CEV)
- “take courage” (DRB)
- “don’t be discouraged” (ERV)
- “be of good courage” (Geneva)
- “’So get to work” (Msg)
- “be brave” (NCV)
- “take heart” (NET)
Ten spyte daarvan dat gelowiges in die Bruid weet waarvoor hul geroep is, veroorsaak die omvang van die taak, die grootsheid van die gedagte daaraan, die enorme teenstand en struikelblokke, die hoeveelheid werk, die beperkinge wat persoonlike omstandighede meebring, en so meer, dikwels dat ‘n mens moed verloor. Jy word oorweldig deur skynbaar onoorkomelike reuse wat die beloofde land bewaak. Partykeer is dit die lank wag vir die regte omstandighede wat jou wil laat tou opgooi. Dit veroorsaak dikwels ‘n uitsigloosheid, neerslagtigheid, swartgalligheid, selfs depressie by mense wat vroeër vuur en vlam was.
Hierdie krisis rondom visie en roeping gebeur nie net met mense wat swak staan in hul “allerheiligste geloof’ (Jud. 1:20), oftewel hul derdedimensiegeloof, dit is: geloof in hul hoër roeping en verkiesing, nie, nee. Dwarsdeur die Bybel word groot leiers en epogmakende voorlopers onderweg in die volvoering van hul roeping deur God of andere aangespoor om aan te gaan. Kyk na die volgende voorbeelde:
- “En Hy het aan Josua, die seun van Nun, bevel gegee en gesê: Wees sterk en vol moed, …” (Deut. 31:23; herhaal in Jos. 1:6 & 9)
- “En Dawid het aan sy seun Salomo gesê: Wees sterk en vol moed, en voer dit uit; vrees nie en wees nie verskrik nie, want die HERE God, my God, sal met jou wees; Hy sal jou nie begewe en jou nie verlaat nie, totdat jy al die dienswerk aan die huis van die HERE voltooi het.” (1 Kron. 28:20)
- “So sê die HERE van die leërskare: Laat julle hande sterk wees, julle wat in hierdie dae sulke woorde gehoor het uit die mond van die profete op die dag toe die fondament gelê is van die huis van die HERE van die leërskare, die tempel, om gebou te word.” (Sag. 8:9)
- “Waak, staan in die geloof, wees manlik, wees sterk.” (1 Kor. 16:13)
- “Eindelik, my broeders, word kragtig in die Here en in die krag van sy sterkte.” (Ef. 6:10)
As Paulus aan sy geestelike seun, Timótheüs, skryf om hom te bemoedig, bied hy ‘n belangrike sleutel aan my en jou wat ons in dieselfde bootjie as hy bevind: “Jy dan, my seun, wees sterk deur die genade wat in Christus Jesus is …” (2 Tim. 2:1). Onthou – as daar geskryf word: Jesus Christus, is die klem op Jesus as die seun van God. As daar geskryf word Christus Jesus, is die Christus, die gesalfdes van die Bruid, voorop. Hierdie vers spel uit daar is ‘n bepaalde genade wat in die Christus gesetel is wat kan meebring dat jy sterk en manmoedig word.
[Vroue moet tog nie voel hul word hier uitgesluit nie. In die Bybelse idioom word vader/seun/man in hierdie konteks nie geslagtelik bedoel nie, maar in terme van geestelike verhoudings. Vroue is dus ook manmoedig, by spreke van wyse – daar is immers nie meer “man en vrou nie” (Gal. 3:28). Dít net terloops.]
Dit is dus van die allergrootste belang dat die Bruid deur die korporatiewe mantel van Serubbábel bewus gemaak word van die spesifieke genade wat daar in die Christus vir ons tot hulp weggelê is. Voorts spel Paulus in Fil. 4:13 uit: “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.” Die Christus bied dus nie net genade nie, maar ook krag, en volgens 1 Kor. 1:24, ook wysheid. Genade, krag en wysheid is die drie bemagtigingsmiddele wat deur ons verbintenis met die ware Liggaam van Christus ons in staat stel om die moedeloosheid, uitsigloosheid, depressie, en vrees oor die volvoering van die taak wat ons opgelê is, te oorkom. Ons weet egter dikwels net nie hoe dit IN CHRISTUS verkry moet word nie. Paulus maan ons om te “kan weet wat God ons uit genade geskenk het” (1 Kor. 2:12).
[Net nog ‘n kantaantekening – hierdie genade, krag en wysheid verkry ons in al drie dimensies uiteraard primêr by God, want Hy is die Voorsiener daarvan (genade: Gen. 6:8; 2 Kron. 33:12; Spr. 3:34; 2 Kor. 8:1; Ef. 3:2 & 7; Tit. 2:11; krag: Eks. 15:2; Deut. 4:37; 2 Sam. 22:40; Matt. 6:13; Rom. 1:20; 2 Kor. 13:4; en wysheid: Eks. 31:6; 1 Kon. 4:29; Esra 7:25; Spr. 2:6; Rom. 11:33; Ef. 1:8). In die eerste en tweede dimensie is Hy uiteraard “die God van alle genade self “ (1 Pet. 5:10), maar in die derde dimensie is daar ‘n verruimende, addisionele genade, krag en wysheid wat IN CHRISTUS gesetel is wat die Bruid kan bemagtig. Paulus praat bes moontlik van hierdie genade in 2 Kor.1:15 as hy daarna verwys as “‘n tweede genade”. Dit is ‘n “genade, wat groter geword het deur so baie mense” (2 Kor 4:15), of dit is “groter genade”, soos Jak. 4:6 onderskeidend daarna verwys.]
Hierdie “genade van Christus (wat julle) geroep het” (Gal. 1:16) is deel van die evangelie van die heerlikheid (2 Kor. 4:4), of dan die evangelie van Christus (Rom. 15:29). Die Bruid verkry hierdie genade, dit word hulle deel “by die openbaring van Jesus (die) Christus” (1 Pet. 1:13).
Dis belangrik om te besef dat die enkeling in die Liggaam van Christus nét kan deelhê aan hierdie heerlikheid as hulle aktief funksionerend in die Liggaam is. Daarbuite bestaan dit nie! Ons sien dit pragtig geïllustreer aan die hand van twee mooi voorbeelde uit die boek Handelinge:
- Ons lees in Hand. 11:22-23: “En die berig hiervan het die gemeente wat in Jerusalem was, ter ore gekom en hulle het Bárnabas afgestuur om die land deur te gaan tot by Antiochíë. Toe hy daar kom en die genade van God sien, was hy bly en het almal vermaan om met hartlike voorneme aan die Here getrou te bly …”
- “En die menigte van die wat gelowig geword het, was een van hart en siel, en nie een het gesê dat iets van sy besittings sy eie was nie, maar hulle het alles in gemeenskap gehad. En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal. Want niemand onder hulle was behoeftig nie; want almal wat besitters van gronde of huise was, het dit verkoop en die prys van wat verkoop is, gebring en aan die voete van die apostels neergelê. En aan elkeen is uitgedeel volgens wat hy nodig gehad het.” (Hand. 4:32-35)
Hierdie genade is absoluut duidelik nié die genade waardeur hulle gered is nie (Hand. 15:11; Ef. 2:5 & 8); hierdie vermeerderde genade kry gestalte in en deur die getuienis van die korporatief. Om hierdie rede word die groepering waarbinne jy as deel van die Bruid funksioneer die “wolk van getuies” (Heb. 12:1) genoem, wat in die Ou Testament die “ark van die Getuienis” (Eks. 25:22) heet. Daarom sal die Bruid oorwin “deur die woord van hulle getuienis” (Op. 12:11). Só word almal in die Bruid “deelgenote in die genade” (Fil. 1:7), en word die genade van God gesien. Sela!
Binne hierdie korporatiewe funksionering se getuienisse word die genade uiteraard vir die enkelinge vermeerder (2 Pet. 1:2), en soos hulle (volgens Num. 4:5) tipologies oordek word met die voorhangsel (= Liggaam van Christus – Heb. 10:20 & Ef. 5:30) as covering of bekleding (Rom. 13:14), bepaald ‘n korporatiewe mantel van die Gesalfde, vermeerder ook die krag en die wysheid! Dit alles geskied in en deur die ontsaglike krag van rhema-woorde in gemeenskap, “tot lof van die heerlikheid van sy genade waarmee Hy ons begenadig het in die Geliefde” (Ef. 1:6). Sodoende kan ons verstaan wat 1 Tim.1:14 beteken: “En die genade van onse Here was baie oorvloedig met geloof en liefde wat in Christus Jesus is.”
Kyk hoe mooi word dit verwoord in Ef. 2:7 – “sodat Hy in die eeue wat kom, kan betoon die uitnemende rykdom van sy genade in goedertierenheid oor ons in Christus Jesus”.
Bepaald is elkeen in die Bruid gered deur genade, maar ook geroep deur hierdie ander genade “wat ons gered en geroep het met ‘n heilige roeping, nie volgens ons werke nie, maar volgens sy eie voorneme en genade wat ons van ewigheid af in Christus Jesus geskenk is” (2 Tim. 1:9).
In hierdie lig gesien, is dit absoluut meer verstaanbaar dat die Bybel afgesluit word met dié baie spesifieke sin: “Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen.” (Op. 22:21). In bykans al die sendbriewe klink hierdie sin telkens op – dit is asof die apostels heeltyd die Liggaam se aandag daarop wil vestig dat hulle bewus moet wees van hierdie uitsonderlike genade, wat hul sal bemagtig om tot alle dinge in staat te wees. Dit is derhawe ook ‘n absoluut gepaste sluitsteen van die evangelie van Christus.
Terug by die aangehaalde gedeelte uit Hag. 2:4-5 hier bo, waar Serubbábel et al., aangemoedig word om “moed te skep”, to‘be strong”, “take strength”, “cheer up!”, “take courage”, “don’t be discouraged”, ‘be of good courage”, “get to work”, “be brave”, “take heart”. Ál die aksies is enigsins moontlik deur die genade van Christus, want daardeur vind die Bruid deurentyd die getuienis: “my Gees sal in julle midde bestendig bly; wees nie bevrees nie!”
Nou dan, skep moed, Serubbábel.
- Sela: Verduidelik hierdie geestelike wetmatigheid aan iemand.
- Lees: 13-18; Spr. 24-26
- Memoriseer: 25:2
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die ontsaglike krag van rhema-woorde in gemeenskap.