Dag 1277-1278

 

“Then rose up Zerubbabel …”

(Esra 5:2, AMP)

Die karakteristieke kenmerke of eienskappe van die mantel of gees van Serubbábel is al redelik wyd gedek – veertien aspekte daarvan het al onder die loep gekom.

Die vyftiende kenmerk van hierdie korporatiewe mantel word uitgelig uit Esra 5:2 – “Toe het Serubbábel, die seun van Seáltiël, en Jésua, die seun van Jósadak, klaargemaak …” In die Engels word dit meer korrek voorgehou as “Then rose up Zerubbabel …”

Wanneer daar in die Skrif gesê word dat iemand opstaan, of daar is die imperatief dat hy/sy moet opstaan, is dit dikwels nié net ‘n verandering van ‘n sit/lê-posisie tot in ‘n staande posisie nie. Meer dikwels is dit ‘n oproep tot die persoon om in sy/haar skeppingsdoel op te staan.

In 1 Kon. 10 word dit mooi simbolies uitgewys. Hierdie gedeelte handel oor die koningin van Skeba wat gehoor het van die uitsonderlike wysheid van God wat in hierdie man te vinde was, en dan word dit aan haar gedemonstreer aan die hand van ‘n klompie sake: “En toe die koningin van Skeba die gerug van Salomo hoor in verband met die Naam van die HERE, het sy gekom om hom met raaisels op die proef te stel. En sy het na Jerusalem gekom met ‘n baie groot trek, met kamele wat speserye en ‘n menigte goud en edelgesteentes dra; en toe sy by Salomo inkom, het sy met hom gespreek oor alles wat in haar hart was. En Salomo het haar al haar woorde verklaar; geen woord was vir die koning te diepsinnig om haar dit te verklaar nie. Toe die koningin van Skeba dan al die wysheid van Salomo sien en die huis wat hy gebou het, en die voedsel van sy tafel en hoe sy dienaars sit en sy bediendes staan, en hulle klere, en sy dranke en sy trap waarmee hy opklim in die huis van die HERE, was daar in haar geen gees meer nie. Daarop sê sy aan die koning: Die woord was waarheid wat ek in my land gehoor het oor u en oor u wysheid; en ek het die woorde nie geglo nie, totdat ek gekom en my oë gesien het; en kyk, die helfte is my nie meegedeel nie. U oortref in wysheid en in welvaart die gerug wat ek gehoor het. Gelukkig is u manne, gelukkig hierdie dienaars van u wat gedurig voor u staan, wat u wysheid hoor.”

Elke een van die sewe dinge sien wat sy sien van die wysheid (= die Christus – 1 Kor. 1:24), laat haar sonder gees! ‘n Mens sou vir elkeen ‘n tipologiese pendant kon bied (sien lering in Delf Dieper!), maar staan soos dit hierbo voorgehou word, moet duidelik na iets veel meer verwys as die blote staande posisie. Dit verwys onteenseglik na hoe elkeen van hierdie diensknegte van Salomo in hul skeppingsdoel opgestaan het! Dáárdeur is die koningin se asem uit die seile geslaan!

Maar dit gebeur deur die hele Bybel, dat as God jou aanspreek en beveel om op te staan, het dit bykans altyd te doen met om in jou roeping op te staan. Kyk na die volgende voorbeelde vir wie dit gesê word:

  • Hagar: “Staan op, tel die seun op en hou hom vas met jou hand, want Ek sal hom ‘n groot nasie maak.” (Gen. 21:18)
  • Balak: “Staan op Balak, en hoor! Luister na my, seun van Sippor!” (Num. 23:18)
  • Moses: “Staan op, gaan heen om voor die volk uit verder te trek, dat hulle kan inkom en die land in besit neem wat Ek aan hulle vaders met ‘n eed beloof het om aan hulle te gee.” (Deut. 10:11)
  • Josua: “Staan op! Heilig die volk …” (Jos. 7:13)
  • Barak: “Staan op, Barak! en voer jou gevangenes weg, seun van Abinóam!” (Rigt. 5:12)
  • Gideon: “En daardie nag het die HERE vir hom gesê: Staan op, gaan af in die laer, want Ek gee dit in jou hand.” (Rigt. 7:9)
  • Elia: “Daarop gaan hy lê en raak onder ‘n besembos aan die slaap; en kyk, daar raak ‘n engel hom aan en sê vir hom: Staan op, eet!” (1 Kon. 19:5)
  • Esra: “Staan op, want die saak rus op u, en ons staan by u; wees sterk en handel!” (Esra 10:4)
  • Esegiël: “En Hy het vir my gesê: Mensekind, staan op jou voete, dat Ek met jou kan spreek … Hy sê toe vir my: Mensekind, Ek stuur jou na die kinders van Israel …” (Eseg. 2:1 &3)
  • Daniël: “En hy het vir my gesê: Daniël, geliefde man, gee ag op die woorde wat ek met jou spreek, en gaan staan op jou staanplek, want ek is nou na jou gestuur. En terwyl hy hierdie woord met my spreek, het ek bewende gaan staan.” (Dan. 10:11)
  • Petrus: “Toe kom daar ‘n stem na hom: Staan op, Petrus …” (Hand. 10:13)
  • Paulus: “Maar rig jou op en staan op jou voete, want hiertoe het Ek aan jou verskyn om jou te bestem tot ‘n dienaar en getuie van die dinge wat jy gesien het en van die dinge waarin Ek nog aan jou sal verskyn, terwyl Ek jou verlos uit die volk en die heidene na wie Ek jou nou stuur, om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van die Satan tot God, sodat hulle deur die geloof in My vergifnis van sondes en ‘n erfdeel onder die geheiligdes kan ontvang.” (Hand. 26:16-18)
  • Johannes: “Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid.” (Op. 11:1)

In die poëtiese boek, Hooglied, verteenwoordig Salomo die Bruidegom en die Bruid word bes moontlik deur hierdie koninklike Sulammitiese vrou (Hoogl. 6:13) verteenwoordig. In Hoogl. 2:10 word sy só aangespreek: “My beminde begin toe en sê vir my: Staan op, my vriendin, my skone, kom dan tog!” Hierdie is derhalwe ‘n oproep vir alle gelowiges, soos dit ook in Jes. 60:1 profeties geproklameer word: “Staan op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die HERE gaan oor jou op.”

Die “opstaan” as spesifieke aksie is bes moontlik omdat die gelowige aangespreek word wat nog in die vleeslikheid van die sekulêre lewe, in Adam, slaap, soos Paulus in Ef. 5:14 dit mooi stel: “Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.”

Dit is oor hierdie gelowiges wat nóg nie in hul skeppingsdoel opgestaan het nie, waaroor Dan. 12:2 profeteer: “En baie van die wat in die stof van die aarde slaap …” En dis tot hulle wat die dringende oproep kom.

In die volgende Manna meer oor hierdie vers.

  • Sela: Het jy al in jou skeppingsdoel opgestaan? Hoekom sê jy so?
  • Lees: 19-22; Spr. 27-28
  • Memoriseer: 27:17
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die Uur het aangebreek; Word wakker,

                staan op!