Dag 128

 

 “want die letter maak dood, maar die gees maak lewend” (2 Kor 3:7, OAV)

Noudat ons beter begrip het van die belangrikheid van die Woord van God, is dit van groot belang om ons as lesers se hantering daarvan te presiseer. Maar voordat ons daarby uitkom, is dit belangrik om hierdie saak vas te maak. Baie mense lees en gebruik die Bybel onwetend as afgod, of as toormiddel om heksery te pleeg.

Om dit te verduidelik, kan ‘n mens die goeie voorbeeld gebruik van die koperslang in die woestyn. Num 21:4-22 vertel van die Israeliete se omswerwinge in die woestyn en hoe hulle ongeduldig geword het, en teen Moses en teen God gemurmureer het, en gesê het: “Waarom het U ons uit Egipte laat optrek om in die woestyn te sterwe? Want daar is geen brood en geen water nie, en ons siel walg van die ellendige kos.” (vers 5).

Toe stuur die HERE giftige slange onder die volk wat die volk gebyt het; en baie mense uit Israel het gesterwe. Toe die volk na Moses kom en vergifnis vra, bid Moses vir hulle, en sê die HERE aan Moses: Maak ‘n giftige slang en sit dit op ‘n paal; dan sal elkeen wat gebyt is en daarna kyk, lewe. “Toe het Moses ‘n koperslang gemaak en dit op ‘n paal gesit: en as ‘n slang iemand gebyt het en hy kyk na die koperslang, het hy in die lewe gebly.” (vers 9).

Die koperslang is op ‘n paal verhef, en elkeen wat daarna kyk, is genees. Dus word jy gebyt deur ‘n regtige giftige slang, jou oë soek die koperslang op die paal, en as jy dit sien, behold, dan is jy genees. Interessant genoeg, het God nie net die slange weggeneem, soos destyds met die plae in Egipteland nie. ‘n Proses van redding word ingebou in die vervalle toestand. Die Bybel spel dit nie uit nie, maar ek vermoed dit is net die opstandiges en die murmureerders wat gebyt is deur die slange, en hulle moes geleer het om te submit aan God en hulle oog op Hom te hou. 

Dat redding die onderliggende boodskap van hierdie Ou Testamentiese gebeure was (ook vir die persone met wie dit indertyd gebeur het), is bepaald so, want Jesus verwys hierna in Joh 3:14-15 (ja, net vóór die belangrike 3:16!): “En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” 

Maar met die verloop van tyd het die Israeliete die koperslang op die paal anders begin hanteer, en dit as ‘n objek van redding en nie meer as die reddende manifestasie van God se teenwoordigheid gesien nie. Daarom het koning Hiskia, sê 2 Kon 18:4, “terwyl hy die hoogtes afgeskaf en die klippilare verbreek en die heilige boomstamme omgekap het, ook die koperslang wat Moses gemaak het, stukkend gestamp, omdat die kinders van Israel tot op dié dae daarvoor offerrook laat opgaan het; en hy het dit Nehústan genoem”. Nehustan beteken: dis net koper, niks meer nie!

Die Bybel is ‘n doodgewone boek, blote ink op papier. Dis nie ‘n afgod of toormiddel nie. As jy nie deur die Gees wat dit geskryf het gelei word nie, sal die Bybel se letters vir jou dood bedien.  

  • Sela:  Lees 2 Kor 3:14-17 en bid dat God hierdie sluier in jou lewe sal verwyder.
  • Lees: 1 Sam 14; Ps 136; Luk 11
  • Memoriseer:  Luk 11:2-4
  • Vir dieper delf:  Luister na Tom Gouws se cd oor: Die prototipe as Bybelse interpretasiemodel