Dag 1280-1281

 

“En wat het jy wat jy nie ontvang het nie?”

(1 Kor.4:7, OAV)

Ons bekyk tans oorsigtelik die verskillende kerkleierstrukture wat daar bestaan, en het reeds verduidelik wat beteken die Episkopaliaanse hiërargie, die Presbiteriaanse kerkstruktuur en die demokratiese – gemeenteleierskapsmodel.

Die vierde tipe leierskapstruktuur wat in kerke gevind word, is die outokratiese – onafhanklike model. Hierdie model werk met ‘n spesifieke leiersfiguur, dikwels baie charismaties met sterk leierseienskappe. Hy/sy is dikwels selfaangestel, totaal onafhanklik en beskou hulself as die sogenaamde “set man” in die gemeente. Daar is dikwels ander persone wat in leierskap dien, maar hulle is eintlik net daar om die roeping, visie en salwing van die sogenaamde “set man” te volvoer. Die mense in die gemeente se funksie is om die visie en roeping van die ‘set man” te help volvoer.

Hierdie “set man” is ‘n afleiding van die woordjie uit onder andere Esra 5:2 wat ingebed is in die frase “rose up” hierbo. Dit is die Arameense woord qûm, wat volgens Strong beteken: “appoint, establish, make, raise up self, (a-) rise (up), (make to) stand, set (up)”.

In sy boek, The Ministry of the Saints, gee Mark Hanby ‘n verduideliking van hierdie begrip: “Set ministry is the one who is set over a work by God. Unlike religious systems, God establishes any work (including a local church) by giving a vision to a man and commissioning that man to establish the work. The set minister may be gifted in any of the fivefold ministry gifts, but the office of a set minister is the office of an apostle. God always chooses a man, never a system. Those who aid the set minister in the establishment of a work can also be viewed as part of the set ministry.” (p. 162).

Daar word baie lukrake uitsprake gemaak rondom die legitimiteit en geestelike statuur van hierdie sogenaamde “set man position”:

  • hulle noem dikwels die “set man” ook ‘n koning, asof alle wedergeborenes nie wel ook geroep is tot koningskap nie (Op. 5:10)
  • hy/sy word “die gesalfde” genoem, en dikwels word Ps. 105:15 as waarskuwing voorgehou aan die gemeente of buitestaanders: “Raak my gesalfdes nie aan en doen my profete geen kwaad nie.” Daarmee word bedoel dat die “set man” onaantasbaar is, eintlik kan doen wat hy/sy wil, want hulle dra onoorwaardelike sanksionering van God. Dis uiteraard totaal onskriftuurlik. Volgens Ef. 5:21 moet almal “aan mekaar onderdanig” wees “in die vrees van God”. Fil. 2:3 spel dit uit: “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.” Weliswaar moet ons gehoor gee aan Heb. 13:17, wat ons vermaan – “Wees gehoorsaam aan julle voorgangers en onderdanig, want hulle waak vir julle siele as diegene wat rekenskap moet gee, sodat hulle dit met blydskap kan doen en nie al sugtende nie; want dit is vir julle nie nuttig nie.” Maar dit beteken nie die “set man” het ‘n carte blanche bloot omdat hy/sy ‘n sogenaamde gesalfde is nie – immers weet ons dat die hele Liggaam van Christus “gesalfdes” is onder die hoofskap van Jesus die Gesalfde (Dan. 9:25-26; Hand. 4:26; Ps. 133).
  • almal in die gemeente wat nie streng onderdanig is aan die “set man” nie, word getakseer as “blindes en lammes”. Op ‘n webwerf wat hierdie dogma propageer, word die volgende oor hierdie tipe lidmaat gesê: “The lame symbolizes those who cannot walk into the vision of the set man. The blind represent those who cannot see the vision of the set man. These mentalities prevent the church from executing the purposes of God. A sentimental leader will tolerate these mentalities at the expense of the purpose of God.” (http://www.apostolicleader.co.za/index.php/abc-1-complete/38-14-set-man-principles). Die meerderwaardigheid van hierdie taksering spreek vanself. Maar dit is duidelik ook nie ‘n Bybelse standpunt nie. In 1 Kor. 4:7 stel Paulus dit onomwonde: “Want wie trek jou voor? En wat het jy wat jy nie ontvang het nie? En as jy dit dan ontvang het, waarom roem jy asof jy dit nie ontvang het nie?” Johannes die Doper stel dit in Joh. 3:27 eweneens veel sterker: “Johannes antwoord en sê: ‘n Mens kan niks aanneem as dit hom nie uit die hemel gegee is nie.” Daarmee saam, soos 1 Pet. 4:10 dit stel: “Namate elkeen ‘n genadegawe ontvang het, moet julle mekaar daarmee dien soos goeie bedienaars van die veelvuldige genade van God.”

‘n Goeie prototipiese voorbeeld van die mentaliteit van so ‘n “set man”, vind ons in 3 Joh. 1:9 – “Ek het aan die gemeente geskrywe, maar Diótrefes, wat onder hulle die eerste wil wees, steur hom nie aan ons nie.”

Hierdie kerksisteem is eintlik niks anders nie as ‘n narcissitiese, outokratiese beheer, al sou daar byvoorbeeld ondergeskiktes in leierskap wees. Tendense in die tipe bediening is die volgende:

  • Nét die gesalfde leier doen die preekwerk. Hy vlieg byvoorbeeld rond om op een dag by verskillende geaffilieerde kerke te wees, of videos of direkte internetstroming van sy/haar openbare optredes word deurgaans vir almal aangebied. Bykans niemand anders word toegelaat om die Woord te bedien nie.
  • Dikwels word gevind dat die vrou van die gesalfde leier as onderleier van die gemeente geplaas word, gewoonlik in outoriteit bo die ander ouderlinge.
  • Profesie word dikwels ingespan om die gemeente te beheer en te manipuleer. Dit word nie getoets nie en as “thus sayeth the Lord” voorgehou.
  • Die leier neem ook besluite sonder om aan die res van die gemeente verantwoording te doen, bloot op grond van sy/haar gewaande status.
  • Die “set man” neem outokratiese besluite oor finansies, personeel, algemene sake – sy woord is wet en word gelyk gestel aan die woord van God.
  • Die kerksisteem bring onteenseglik slawe voort, helaas nie seuns nie.
  • Daar word duidelik ‘n eie koninkryk gebou, en nie die koninkryk van God nie. Die “set man” verkondig dikwels dat die gesalfdes uitermate geseën is, en dat hul huise, juweliersware, eiendomme, klere en motors dit moet weerspieë In sy gedig ‘elia en die baälprofete’ verwoord Tom Gouws dit in sy digbundel Ligloop soos volg:

 

vir dié wat ons goue pastoor so sien volhard

in die belofte van die nuutste mercedes, ná al die smart

van sy egskeidings, preek mammon vanaand ewe hard

Dit is absoluut duidelik dat hierdie “set-man”-teologie ‘n ernstige gevaar inhou vir God se bloudruk van kerkwees. Weliswaar is daar “gifts of administration” (1 Kor.12:28,  NIVUK) in die Liggaam, maar dit is ‘n dienswerk, nie ‘n beheermaatreël nie.

  • Sela: Herken jy hierdie leierskapstruktuursoort?
  • Lees: Rut 1-4; Spr. 30-31; Ps. 129
  • Memoriseer: 30:4 (en beantwoord die vraag)
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Waar Pas jy binne die Vyfvoudige Bediening?