“Want waar twee of drie in my Naam vergader, daar is Ek in hul midde.”
(Matt. 18:20, OAV)
Noudat ons die verskillende kerkleierstrukture verduidelik het en die Bybelse perspektief daarop gebied het, moet dit geëvalueer word in die lig van wat die gees van Serubbábel as impetus tot bediening in ons tyd vereis. As korporatiewe gees is dit absoluut belangrik dat enige kerkordesisteem wat die klem op die enkeling laat val, wat ander beheer en oor/vir hulle besluit, uit wans is.
Dít is die geval met die Episkopaliaanse hiërargie, die demokratiese – én die outokratiese gemeenteleierskapsmodel (die “set man”-model).
Oor die eersgenoemde twee modelle, wat bykans 85% van alle kerkregerings dek, hoef ons nie veel meer te sê nie. Dit is sisteme wat nie uit God gebore is nie, maar gegrondves is in humanitêre oorweginge en mensverheerliking.
Oor die laaste sisteem moet ‘n laaste belangrike saak aangesny word. Dit is ‘n snel groeiende beweging wat ernstige gevare inhou rondom die volvoering van God se agendavir ons tyd. Die belangrikste Skrif wat deur hierdie groep post-Charismate voorgehou word om hul konsep van die “set man” te regverdig, is Num. 27:15-17: “And Moses spake unto the Lord, saying, let the Lord, the God of the spirits of all flesh, set a man over the congregation, which may go out before them, and which may go in before them, and which may lead them out, and which may bring them in; that the congregation of the LORD be not as sheep which have no shepherd.”
Hierdie Ou-Testamentiese Skrif word sonder konteksverrekening klinkklaar as ‘n Nuwe-Testamentiese waarheid voorgehou. Die Ou Testament het spesifiek gehandel oor die lotgevalle van ‘n volk, Israel, en God se saadlyn wat in en deur spesifiek mense voortgeplant het. Hierdie “set man” was pregedetermineer om God se agenda uit te speel. Maar die Nuwe Testament bring ‘n totaal nuwe bedeling in die gees tot stand. Nóú word alle wedergeborenes deel van die lewende Liggaam van Christus, en is die een lid geensins belangriker as ‘n ander lid nie. Dit gaan oor die multiplisiteit en gediversifiseerdheid van die totale Liggaam, waar elke lid sy prominente funksie/roeping het om te vervul. Elkeen in die Liggaam van Christus is dus ‘n “set man”!
Die enigste model wat derhalwe Bybels verantwoordbaar is, is die Presbiteriaanse Liggaambestuur. Die woord presbiteriaal kom van die Griekse woord presbiter, wat ‘ouderling’ of ‘oudste’ beteken. (Dit het uiteraard nie noodwendig met ouderdom te doen nie, maar met geestelike outoriteit.) Hierdie stelsel verskil van al die ander stelsels omdat dit die huisgemeente beskou as ’n selfstandige sigbare openbaring van die Liggaam van Christus. Elke gemeente is volledig kerk. Die huisgemeente kom tot openbaring omdat daar gelowiges is, met ander woorde, nie omdat daar ’n priester, pous, pastoor, dominee of “set man” is nie.
- Sela: Funksioneer jou gemeentestruktuur soos die Skrif voorhou?
- Lees: 119:1-88
- Memoriseer: 119:36 (vra jou gemeente dié vraag af)
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Hanno Pienaar: Die regering van ouderlinge in die gemeente