“Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik.
En God het sommige in die gemeente gestel …”
(1 Kor. 12:27-28a, OAV)
Noudat ons die verskillende kerkleierstrukture verduidelik en die Bybelse perspektief daarop gebied het, moet dit geëvalueer word in die lig van wat die korportiewe gees van Serubbábel as impetus tot bediening in ons tyd vereis. As korporatiewe gees is dit absoluut belangrik dat enige kerkordesisteem wat die klem op die enkeling laat val, wat andere beheer en oor/vir hulle besluit, uit wans is.
Dít is die geval met die Episkopaliaanse hiërargie, die demokratiese – én die outokratiese gemeenteleierskapsmodel (die “set man”-model). Waak teen die absoluut beperkende invloed wat hierdie mensgemaakte godsdienssisteme op die ontwikkeling van die organiese Christelike Liggaam het. Mensgemaakte godsdienssisteme word daaraan gekenmerk dat hulle bedryf en beplan word deur mense wat soos dié met die bou van die toring van Babel daarop ingesel is om vir hulleself naam te maak (Gen. 11:4).
Die Presbiteriaanse Liggaamsorde is die resultaat van ‘n organiese groei wat natuurlikerwys gestalte kry deur ‘n ruimte te skep waarbinne verhouding voorop staan en die Heilige Gees alle ledemate ontwikkel en gebruik. Dit kom tot uitdrukking (“are expressed”) deur twee geestelike interaktiewe wetmatighede in die Liggaam: enersyds die interne gemeentebedienaars (wat die dienswerk van ‘n voorganger/voorloper, ouderlinge en diakens is) en andersyds die uitreikende Liggaamsbedienaars (wat die dienswerk van die sogenaamde vyfvoudige bediening behels).
[Dit is geweldig belangrik dat uitgespel word dat hiermee nié bedoel word dat enige van die dienswerkbenoemings enigsins “titels” as sodanig, eksterne aanwysings, kunsmatige posisies, of wat ook al, is nie – dis hoogstens funksionele benoemings van mense wat ‘n getuienis dra dat hulle die Liggaam rééds dien met bepaalde gawes wat God aan hulle uitgedeel het. Die sogenaamde “New Apostolic Movement” wat selfaangestel in die Charismatiese denkklimaat die natuurlike wêreld probeer organiseer rondom geestelike posisies, is net ‘n ou wysie op ‘n nuwe deuntjie, ‘n eeue-oue kerkordestruktuur in ‘n nuwe verpakking. Dit bou nie soseer die Liggaam nie, maar bou individuele bedieninge. Onthou: die leierskap-ondersteuning wat God die Liggaam bied, is ‘n endoskelet (soos die mens s’n, onsigbaar maar funksioneel dáár), nie ‘n eksoskelet (soos byvoorbeeld ‘n krap s’n ekstern en beperkend nie). Die ware leierskap groei saam met die Liggaam en bied ondersteuning sonder om sigself sigbaar voorop te stel.
Frank Viola skryf sonder om doekies om te draai oor hierdie eweneens vals nuwe outoriteitstruktuur wat wêreldwyd voorgehou word: “Still more disappointing, every titled ‘apostle’ in the new apostolic movement that I know of fiercely defends those church practices that are rooted in pagan tradition and have been hindering the headship of Jesus Christ and the full functioning of His body for the last eighteen hundred years. For these reasons, I’m monumentally unimpressed with the ‘new apostolic movement.’” (http://frankviola.org/2010/10/27/rethinking-the-five-fold-ministry/)]
In Ef. 2:19-22 word die organiese groeiproses van die Liggaam mooi verduidelik: “So is julle dan nie meer vreemdelinge en bywoners nie, maar medeburgers van die heiliges en huisgenote van God, gebou op die fondament van die apostels en profete, terwyl Jesus Christus self die hoeksteen is, in wie die hele gebou, goed saamgevoeg, verrys tot ‘n heilige tempel in die Here, in wie julle ook saam opgebou word tot ‘n woning van God in die Gees.” Daarom dat 1 Pet. 2:5 alle gelowiges aanmoedig: “laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom”. Hierdie opbouing geskied in en deur die vyfvoudige bediening (Ef. 4:12), wat meestal van buite die (huis)gemeente kom. Hulle “onderrig in die openbaar en in … huise” (Hand. 20:20).
Uit hierdie gedeelte is dit duidelik dat binne die oprigting van hierdie geestelike huis die apostels en profete verantwoordelik is vir die lê van die fondament van die geestelike huis. Hierdie twee funksionarisse van die Liggaam beweeg in die breër Liggaam rond, dikwels ná die aanvoorwerk van ‘n evangelis se arbeid om mense te sensitiseer vir God en sy agenda (Hand. 11:24), en volg deur die leiding van die Heilige Gees God se natuurlike formasievorminge op. Dié wat deur hierdie bediening geraak en gemobiliseer word, het noodwendigerwys behoefte aan deelwees aan ‘n Liggaam – ons weet immers wat Jesus uitgewys het: “Hieraan sal almal weet dat julle my dissipels is, as julle liefde onder mekaar het.” (Joh.13:35). Die (huis)gemeente kan die beste beskryf word deur Deut. 33:27 – “Die ewige God is ‘n woning, en onder—ewige arms …”
Dit is op hierdie stadium dat die uitreikende Liggaamsbedienaars, hulle wat as apostels en profete geroep is, dan inbeweeg en ‘n fondament vir die ekklesia, die gemeenskap van die gelowiges, lê. Hand. 4:33 vertel hoe dit in die prototipiese gemeentes in die tyd van Handelinge gegaan het: “En met groot krag het die apostels getuienis gegee van die opstanding van die Here Jesus, en groot genade was oor hulle almal.” Hierdie groeperinge van gelowiges sal veral geleer word wat Heb. 5:12 noem: “die eerste beginsels van die woorde van God”, wat ook “melk en nie … vaste spys” is nie. 1 Pet. 2:2 benoem dit gepas “die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei”, Daar word ook in Heb. 6:1 daarna verwys as “die begin van die prediking aangaande Christus”.
In die byeenkoms van gelowiges is daar mettertyd ‘n akkumulasie op twee vlakke. Eerstens vind daar ‘n vermeerdering van die woord van God én daar vind ‘n vermeerdering van dissipels plaas (Hand. 6:7) In Hand. 2:47 word dit só gestel: “En die Here het daagliks by die gemeente gevoeg die wat gered is.” Ook Hand. 5:14 wys uit hoe die “vermeerdering van die heerskappy” (Jes. 9:7) stelselmatig realiseer: “En daar is meer en meer gelowiges in die Here bygevoeg, menigtes van manne sowel as vroue …”
In die gemeente is daar meermale iemand met “gifts of administration” (1 Kor. 12:28, NIVUK) wat die noodsaaklike reëlings tref van hoe en waar die gelowiges “van huis tot huis” (Hand. 2:46; 5:22) vergader. Soos die mense die “woord met blydskap aanneem”, word hulle gedoop en hande opgelê deur hulle wat reeds die Heilige Gees ontvang (Hand. 8:15 & 17) het. Hand. 2:42 hou voor wat voorts plaasgevind het in die gemeentes: “En hulle het volhard in die leer van die apostels en in die gemeenskap en in die breking van die brood en in die gebede. “
Soos die (huis)gemeente gereeld ontmoet, die “onderlinge byeenkoms” gereeld bywoon (Heb. 10:25), sal ‘n bepaalde herder mettertyd uit die groepering kristalliseer en verantwoordelikheid neem vir die geestelike versorging van die groep. Omdat die uitreikende Liggaamsbedienaars nie noodwendig lokaal en gereed beskikbaar is nie, sal hy/sy die gemeente herderlik versorg, maar dikwels ook as voorloper of voorganger dien. Hierdie persoon vorm ook meestal die skakel met die apostels en profete. Ons lees byvoorbeeld in Hand. 15:22 dat Bársabas, en Silas “voorgangers onder die broeders was”. Die skrywer van die Hebreërboek meld teen die einde daarvan spesifiek: “Groet al julle voorgangers …”
Uit Rom. 12:8 leer ons dat voorgangerskap spesifiek een van die gawes van God is (iets anders as die gawes van Christus, en die gawes van die Heilige Gees), en dat die manifesterende/omderskeidende eienskap daarvan ywer is: “wie ‘n voorganger is, (doen dit) met ywer”. Dit is absoluut verstaanbaar, want daarsonder sal die kohesie en samebinding van die groepering onteenseglik taan. Dawid as voorloper bid byvoorbeeld in Ps. 69:9 – “Want die ywer vir u huis het my verteer …” Hierdie Godgegewe ywer (Hoogl. 8:6) maak seker dat daar nie perverte en onordelike dinge met die gemeente gebeur nie (Joh. 2:17). Daarbenewens – ywer verwek ywer, leer Eseg. 8:3 ons, en in ooreenstemming daarmee wys Paulus uit in 2 Kor. 8:7-8 dat dit liefde in die gemeente opwek. God ontferm Hom dan oor die hele huis as daar ywer is vir sy heilige Naam (Eseg. 39:25). Hierdie ywer “vir julle aan julle” moet “duidelik kan word voor God” (2 Kor. 7:12).
Soos Titus as voorloper uitgewys is in die gemeente as gevolg van die demonstrasie van sy ywer (2 Kor. 8:16) vir die gemeente, sal daar in iedere gemeente ‘n persoon opstaan wat duidelik soveel ywer het dat hy/sy ander mense sal aanspoor (2 Kor. 9:2). Hy/sy word dan sodoende een van die interne gemeentebedienaars wat die dienswerk van ‘n ouderling verrig. Mettertyd sal daar nog betroubare manne en vroue uitmunt daarin om die gemeente deur hul leer en lewe voor te gaan. Hulle is herders en leraars, die twee eerste tipes van die vyfvoudige bediening wat in die huigemeente begin gestalte kry.
Die apostels en profete van buite bevestig dan na ‘n verloop van tyd die leierskap van die (huis)gemeente formeel: “En hulle het in elke gemeente vir hulle ouderlinge gekies, en hulle, ná gebed en vas, opgedra aan die Here in wie hulle geglo het.” (Hand. 14:23; lees ook Tit. 1:5). Daarná – en dit is van groot belang – onderwerp die vyfvoudige bediening te wille van die goeie orde hul aan die ouderlinge van die (huis)gemeente. Sodoende word verseker dat daar nooit ‘n monopolie van geestelike outoriteit moontlik is nie.
Dit is noodwendig dat die “apostels en ouderlinge” derhalwe dikwels in interaksie met mekaar is om bepaalde vraagstukke en probleme te ondersoek, op te los en om verslag te doen van al die dinge wat God met hulle gedoen het (Hand. 15:2-6). Hulle maak bepaalde “verordeninge”, met ander woorde vaste besluite wat met vas en gebed verkry is (Hand. 14:23), wat op almal van toepassing is (Hand. 16:4). Alles gebeur in en deur verhouding.
Paulus noem in 1 Tim. 4:14 ouderlingskap ‘n genadegawe wat nie verwaarloos moet word nie, en hy meld dat dit aan iemand baie spesifiek gegee word “deur die profesie met die handoplegging van die ouderlinge”. Wanneer die apostels en profete na ‘n tyd van bediening in die (huis)gemeente kan sien wie die persone is wat die roeping van ouderling uitvoer, word hulle aangestel en met handoplegging binne die amp verseël. Hulle is nou, voor God, verantwoordelik vir die gemeentelede. Paulus stel dit soos volg in Hand. 20:28 – “Gee dan ag op julleself en op die hele kudde waaroor die Heilige Gees julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy deur sy eie bloed verkry het.” Die vyfvoudige bediening van buite is nou – wat gemeentesake betref – ondergeskik aan die outoriteit van die apostels en profete. Die Skrif ag ouderlinge geweldig hoog, soos 1 Tim. 5:17 ook duidelik uitspel: “Laat die ouderlinge wat goed regeer, dubbele eer waardig geag word, veral die wat arbei in woord en leer.”
Met verloop van tyd sal gemeentelede ook met behulp van die vyfvoudige bediening van buite deur geestelike vaderskap verder begelei word in hul genadegawe(s) van Christus, en mettertyd ook na buite beweeg in hierdie al groeiende reservoir van menslike potensiaal met ‘n Goddelike mandaat.
- Sela: Funksioneer jou gemeente soos die lering dit voorhou?
- Lees: 119:89-176; Ps. 50; Ps. 20; Rigt. 1-4;
- Memoriseer: 119:139 (hoe mooi pas dit hier!)
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Karin Aucamp: 2+5=7 : die Vyfvoudige Bediening, Roeping en Verkiesing