“Dit is die Gees wat lewend maak … die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.” (Joh 6:63, OAV)
In 2 Kor 3:14-17 word die hantering van die Bybel onder leiding van die Heilige Gees raak verduidelik: “Maar hulle sinne is verhard. Want tot vandag toe bly by die lesing van die Ou Testament dieselfde bedekking sonder dat dit opgelig word, die bedekking wat in Christus vernietig word. Ja, tot vandag toe, wanneer Moses gelees word, lê daar ‘n bedekking oor hulle hart; maar wanneer hulle tot die Here bekeer is, word die bedekking weggeneem. Die Here is die Gees, en waar die Gees van die Here is, daar is vryheid.”
Die aanvangsgedeelte, wat sê: “hulle sinne is verhard”, dui duidelik dat hulle nie die stem van God hoor nie (Heb 3:15; 4:17). Mense wat nie die stem van God hoor nie, met ander woorde nie die Bybel lees onder leiding van die Heilige Gees nie, het ‘n sluier wat hul verstand bedek van dit wat die Woord waarlik sê, maak nie saak hoeveel teologiese grade hulle in Bybelse eksegese het nie – hulle KAN dit nie verstaan nie. Maar die eenvoudigste persoon, selfs ‘n kind (Ps 8:2; Mat 11:25; 21:16), kan dit verstaan as die Heilige Gees “die bedekking wegneem”! Só kan Petrus en Johannes in Handelinge 4 as ongeleerde en eenvoudige manne, maar “vervul met die Heilige Gees” (vers 8) met die hele volk spreek, met die priesters en die hoofman van die tempel en die Sadduseërs (vers 1), met owerstes en ouderlinge en skrifgeleerdes (vers 5), met “Annas, die hoëpriester, en Kájafas en Johannes en Alexander en almal wat van die hoëpriesterlike familie was” (vers 6), met die “owerstes van die volk en ouderlinge van Israel” (vers 8)! En dan getuig vers 13: “En toe hulle die vrymoedigheid van Petrus en Johannes sien en verstaan dat hulle ongeleerde en eenvoudige manne was, was hulle verwonderd en het hulle as metgeselle van Jesus herken.”
Duidelik het hierdie twee eenvoudige en ongeleerde manne die Man op die paal, Jesus, die vleesgeworde Woord geken, en daarom is die bedekking van Hom in die Ou Testament afgehaal. Daarom kon hulle met vrymoedigheid met almal praat en die geleerdes leer, want hulle het die openbaring gehad. Openbaringskennis beteken dat al die doeke waarmee Jesus as Woord toegedraai is, van sy geboorte (Luk 2:7), tot met sy sterfte (Luk 24:12), afgehaal is – die sluiers wat Hom verhul het, is verwyder!
Lasarus, wat ook uit die dood opgestaan het, nes Jesus, het uit die grafkelder gekom “aan hande en voete met grafdoeke gebind, en sy gesig was toegedraai met ‘n doek. Jesus sê vir hulle: Maak hom los en laat hom gaan.” (Joh 11:44). Maar Jesus nie! Joh 20:5-7: “En terwyl (die dissipel) neerbuk, sien hy die doeke lê; maar hy het nie ingegaan nie. Toe kom Simon Petrus agter hom aan en gaan in die graf en sien die doeke lê; en die doek wat op sy hoof was, sien hy nie by die doeke lê nie, maar opgerol op een plek afsonderlik.”
- Sela: Vra God om al die sluiers van dogma (“ek dog ma dis die waarheid”) om jou af te haal.
- Lees: 1 Sam 15; Ps 137; Luk 12
- Memoriseer: 1 Sam 15:23 (‘n baie belangrike woord)
- Vir dieper delf: Lees hfst 17 in Juan Ortiz se God is closer than you think.