“In die voortyd het U die aarde gegrondves …”
(Ps. 102:25, OAV)
Ons is besig om die sestiende kenmerk van die gees van Serubbábel se werking in die Bruid te probeer verstaan. Vir eeue al is die ‘apokaliptiese’ betekenis wat geheg word aan die aarde wat bewe en die hemelliggame wat val en verbygaan ‘n skrikaanjaende vooruitsig vir mense, gelowiges inkluis. Maar met die vorige Manna het ons geleer hierdie verstaan is dié van die “carnal mind” (Kol. 2:18, Rotherham). Nie verniet nie het Hy Jes. 45:18 (NJB) vir ons as ewige verwysingspunt gegee: “For thus says Yahweh, the Creator of the heavens — he is God, who shaped the earth and made it, who set it firm; he did not create it to be chaos, he formed it to be lived in …” Wat ‘n absoluut duidelike woord is dit nie! Derhalwe blý die volgende uitsprake van God geldig, en Hy is nie ‘n mens dat Hy kan lieg nie (Num. 23:19):
- “Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.” (Ps. 37:29)
- “En Hy het sy heiligdom soos hemelhoogtes gebou, soos die aarde wat Hy vir ewig gegrondves het.” (Ps. 78:69).
- “Hy het die aarde gegrond op sy grondveste, sodat dit vir ewig en altyd nie wankel nie.” (Ps. 104:5)
- “Die een geslag gaan, en die ander geslag kom, en die aarde bly vir ewig staan.” (Pred.1:4)
- “Salig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde beërwe.” (Matt. 5:5)
Hiermee saam kom ons by ’n geweldige belangrike insig oor die aarde, in die woorde van Ps. 102:25 – “In die voortyd het U die aarde gegrondves …” As die aarde in die voortyd geskape is, (en hierbo derhalwe telkemale as ewig benoem is), beteken dit die aarde was “in die begin” (Gen. 1:1) onsigbaar, want volgens 2 Kor. 4:18 is “die sigbare dinge … tydelik, maar die onsigbare ewig”. Gen. 2:7 spel uit dat die mens (‘âdâm) geformeer uit die stof van die aarde (‘ădâmâh). Albei was ewig en derhalwe onsigbaar, alhoewel reëel (= werklik, wesenlik, inderdaad bestaande, teenoor denkbeeldig, ideëel – HAT). Sela.
Met die sondeval is die aarde vervloek as gevolg van die mens – “vervloek is die aarde om jou ontwil” (Gen. 3:17). Dit beteken dat soos daar ’n ewige “innerlike mens” (Rom. 7:22; 2 Kor. 4:16; Ef. 3:16) is, is daar bepaald ’n ewige aarde wat ongekontamineerd bestaan. God se Meesterplan is dat die feilbare, sondige, tydelike en dood-deelagtige entiteit deur die onfeilbare, rein, ewige entiteit verswelg sal word – soos 2 Kor. 5:4 sê: “sodat die sterflike deur die lewe verslind kan word”, of Jes. 25:8 (ACV) – “He will swallowed up death in victory …”
Ons ondersoek dit verder in die volgende Manna.
- Sela: Probeer aan iemand verduidelik hoedat iets onsigbaar is, maar tog reëel is.
- Lees: 15-17; 2 Pet. 1
- Memoriseer: 2 Pet. 1:4 (watter mooi sinchronisasie!), asook vers 10
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Gideon van Eeden: Die ewige skepping in Christus