“He will swallowed up death in victory …”
(Jes. 25:8, ACV)
Die sestiende kenmerk van die gees van Serubbábel se werking in die Bruid is steeds onder die loep. Ons ondersoek hoe hierdie korporatiewe mantel die hemel en die aarde kan laat bewe, en in dié uitpluising daarvan het ons stilgestaan by die drogbeelde uit die vleeslike denkwêreld dat daar eendag ‘n fisiese vernietiging van hemel en aarde sal wees.
Die laaste Manna is afgesluit met die belangrike Skrif in Ps. 102:25 – “In die voortyd het U die aarde gegrondves …” Met die sondeval is die aarde vervloek as gevolg van die mens, wat beteken dat soos daar ’n ewige, ongekontamineerde “innerlike mens” is, is daar bepaald ’n ewige aarde wat ongekontamineerd bestaan. God se Meesterplan is dat die feilbare, sondige, tydelike en dood-deelagtige entiteit deur die onfeilbare, rein, ewige entiteit verswelg sal word, 2 Kor. 5:4 sê: “sodat die sterflike deur die lewe verslind kan word”, of soos Jes. 25:8 (ACV) dit stel – “He will swallowed up death in victory …”
Dit is geweldig insiggewend om te besef dat hierdie proses lank terug reeds begin het, en wel met die aartsvader Noag se totale gehoorsaamheid aan God. Noag word vier maal in ‘n perikoop in die Skrif uitgesonder as een van drie geestelike vaders wie se geregtigheid as wonderteken deur God vooropgestel word (Eseg. 14:14, 16, 18 & 20).
Met Noag se geboorte is indertyd die volgende geprofeteer, ‘n duidelike belofte vir die ganse mensdom: “Toe Lameg honderd twee en tagtig jaar oud was, het hy ‘n seun verwek en hom Noag genoem, want hy het gesê: Dit is hy wat ons sal troos oor ons werk en oor die moeitevolle arbeid van ons hande wat voortkom uit die aarde wat die HERE vervloek het.” (Gen. 5:28-29). Daarom, byvoorbeeld, dat J. Vernon McGee, in sy studie: Thru the Bible ’n uitsonderlik belangrike opmerking oor Noag maak: “Now as this man Noah comes forth from the ark, he stands in a most unique position. He stands in the position of being the head of the human race again—the same position Adam had. It is said that we are all related to Adam, but we are closer kin than that: we are all related in Noah. In one sense, Noah is the father of all of us today.” Sela.
Die naam van hierdie seun van Lameg was ‘n profetiese merker vir die ganse mensdom wat ná hom die aarde sou bewandel. Lameg se profetiese woord oor sy seun as wonderteken het eweneens die lewe van die res van die mensdom ná hom ten nouste beïnvloed. Onthou – die totale mensdom is op hierdie stadium gedompel in die verval wat die oorgeërfde sondestaat hul gelaat het, en die loon daarvan is verval, verwording, ontluistering, wat uiteindelik alles kulmineer in die dood (Rom. 6:23). Dit het God berou dat Hy die mens gemaak het: “Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in Sy hart. En die HERE sê: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; want dit berou My dat Ek hulle gemaak het.” (Gen. 6:5-7).
Let wel – met Noag sou die verval van die mens nie gestuit word nie, maar dit wat hy verteenwoordig sou ‘n poort oopmaak vir die herstel van die aarde, wat saam met die mens vervloek is en derhalwe “aan die nietigheid onderworpe” (Rom. 8:20) is. Hierdie man, Noag, se naam beteken rus, “signifying ‘to sigh, to breathe, to rest, to lie down’” (Albert Barnes’ Notes on the Bible). Hy sou die prototipe word van ‘n posisie van rus te midde van ons werk en ten spyte van die moeitevolle arbeid van ons hande, wat die aarde – wat die HERE vervloek het – moet bewerk, sodat daarop geleef kan word, al sou dit alles tevergeefs wees, soos die Prediker dit ondubbelsinnig uitgespel het: “Alles tevergeefs, sê die Prediker, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs! Watter voordeel het die mens van al sy moeite waarmee hy hom vermoei onder die son? Die een geslag gaan, en die ander geslag kom, en die aarde bly vir ewig staan … Al die dinge is so vermoeiend, geen mens kan dit uitspreek nie; die oog kry nie genoeg van sien nie, en die oor word nie vol van hoor nie … Daar is geen nagedagtenis van die voorvaders nie; en ook van die nageslagte wat kom, sal daar geen nagedagtenis wees by die wat later sal wees nie … Dit is ‘n moeilike taak wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel. Ek het al die werke gesien wat onder die son gedoen word, en kyk, dit was alles tevergeefs en ‘n gejaag na wind.” (Pred. 1:2-4, 8, 11-13).
Hierdie condition humane, hierdie algemene menslike toestand van verval (“alle vlees het sy wandel op die aarde verderwe” – Gen. 6:12). moes op ‘n manier kumulatief opgehef word deur Noag as wonderteken, maar nie as ‘n enkele gebeurtenis wat ipso facto die herstel bring nie, nee. [Net ter vergelyking – Jesus se kruisdood is vir alle mense (Joh. 3:16), tog word nie alle mense gered nie – hulle moet Hom eers aanneem (Joh. 1:12). Die doping met die Heilige Gees is vir alle vlees (Hand. 2:17), maar hulle moet dit persoonlik deur handoplegging ontvang (Hand. 8:17). Die voorhangsel het wel eenmaal histories geskeur (Matt. 27:51), maar die voorhangsel moet eers persoonlik in elkeen ‘ingeskeur’ word deur die doping in Christus (Gal. 3:27) voor hul persoonlik daardeur kan ‘ingaan’ (Heb. 10:20).]
Noag se ark land ná die vloed op die kruin van die berg Ararat, en die betekenis van hierdie woord is vir die ganse mensdom van die uiterste belang! Volgens Brown-Driver-Brigg’s Hebrew Definitions beteken die woordjie ărâraṭ: “the curse reversed”.
MAAR, die vloek is bepaald nié ipso facto opgehef nie – bloot die potensiaal om die vloek om te keer, is deur God daargestel, die moontlikheid, die geleentheid. En dit vra ‘n bepaalde posisie van rus!
Hierdie toestand sou eers ten volle verwerklik kan word as die Messias, die Gesalfde, sou kom, en sê: “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus [NOAG] gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus [NOAG] vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig.” (Matt. 11:28-30).
Gaan vir ‘n oomblik net terug na God se belofte aan Noag ná hy vir die HERE ‘n altaar gebou en brandoffers gebring het wat vir God ‘n lieflike, aangename geur gebied het (Gen. 8:21-22), en sien presies wat Hy sê. Twee dinge hef Hy pertinent uit. Allereers: “En Ek sal verder nie meer al die lewende wesens tref soos Ek gedoen het nie.” (21b). Die BBE vertaal dit as: “never again will I send destruction on all living things as I have done”. God stel hom nie op teen die mens nie, maar bring ‘n bepaalde wetmatigheid in wat die mens moet dwing tot versoen met sy Skepper. Hy verwyder nie strafgerig nie, maar gebruik dit om die mens te tug tot gehoorsaamheid (Spr. 3:12; Heb. 12:6; Op. 3:19). Kyk na die volgende voorbeelde wat in die Ou Testament voorgehou word:
- “Sion sal deur strafgerig verlos word en die van hom wat terugkeer, deur geregtigheid.” (Jes. 1:27)
- “as die Here die onreinheid van die dogters van Sion afgewas en die bloedskulde van Jerusalem daaruit weggespoel het deur die Gees van strafgerig en die Gees van uitdelging” (Jes. 4:4)
- “Maar hoog sal die HERE van die leërskare wees deur die strafgerig, en die heilige God sal Hom as die Heilige laat ken deur geregtigheid.” (Jes. 5:16)
- “Want met vuur en met sy swaard sal die HERE strafgerig hou oor alle vlees, en hulle wat deur die HERE verslaan is, sal baie wees.” (Jes. 66:16)
- “En Ek sal my heerlikheid onder die nasies bring, en al die nasies sal my strafgerig sien wat Ek voltrek het, en my hand wat Ek op hulle gelê het.”(Eseg. 39:21)
- “Kyk, ek maak jou bekend wat aan die einde van die strafgerig sal gebeur, want dit sien op die bepaalde tyd van die einde.” (Dan. 8:19).
Uit hierdie sestal verse leer ons dat God strafgerig gebruik om ons te rig om nie die geroepe pad byster te laat raak nie. Kyk hoe netjies word dit deur Heb. 12:5b-8 & 10b-13 gekontekstualiseer: “My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie … Hy tug ons tot beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word. Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is. Daarom, rig die slap hande en die verlamde knieë weer op; en maak reguit paaie vir julle voete, sodat wat kreupel is, nie uit lit raak nie, maar liewer gesond gemaak word.” In 2 Kor. 4:17 word dit kort en kragtig gestel: “ons ligte verdrukking wat vir ‘n oomblik is, bewerk vir ons ‘n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid”.
Hiermee dan die eerste been van God se belofte aan Noag ná hy vir die HERE ‘n altaar gebou en brandoffers gebring het wat vir God ‘n lieflike, aangename geur gebied het – Hy sal strafgerig gebruik om sy seuns te bou. Die tweede saak wat Hy pertinent uithef, word gevind in Gen. 8:22 – “Van nou af sal al die dae van die aarde, saaityd en oestyd, koue en hitte, somer en winter, dag en nag nie ophou nie.” Hiermee stel Hy breedweg die kosmiese wetmatigheid van oorsaak en gevolg in teen die agtergrond van ononderhandelbare Goddelike orde wat sal meewerk tot die herstel/wederoprigting van alle dinge (“restoration of all things” – Hand. 3:21, ACV).
Albert Barnes, in sy kommentaar oor die boek Génesis, noem hierdie nuut-ingestelde geïnstitusionaliseerde Goddelike wetmatigheid en orde “the blessedness of a perpetuated life”. Hy stel dit dan onvergeetlik mooi: “Let not us, then, who flow in the full tide of the latter day, despise the rudiment of blessing in the first form in which it was conferred on Noah and his descendants; but rather remember that is not the whole content of the divine good-will, but only the present shape of an ever-expanding felicity, which is limited neither by time nor sense.”
Noag en wat hy simboliseer bring ’n wetmatigheid in wat deur bepaalde orde en ’n saai-en-maai prinsiepe dinge sal vermeerder, en dit wat Goddelik vermeerder, die “vermeerdering van die heerskappy en tot vrede sonder einde, op die troon van Dawid en oor sy koninkryk, om dit te bevestig en dit te versterk deur reg en deur geregtigheid, van nou af tot in ewigheid. Die ywer van die HERE van die leërskare sal dit doen.” Ongelooflik!
Meer oor hierdie geheime wetmatigheid van “an ever-expanding felicity” wat kulmineer in die duisendjarige vrederyk in die volgende Manna.
- Sela: Vind uit wat die woordjie “felicity” hierbo beteken in die frase “an ever-expanding felicity”.
- Lees: 18-21; 1 Sam. 1-2; 2 Pet. 2-3; Ps. 113
- Memoriseer: 2 Pet. 3:10 (watter heerlike sinchronisasie!)
- Delf dieper: Luister na die cd-lering van Hanno Pienaar: Vermeerdering van Heerskappy