“Laat U Koninkryk kom … soos in die hemel, so ook op die aarde” (Mat 6:10, OAV)
Om ‘n paar los drade van die afgelope week net weer saam te vat: God se begeerte is om sy Koninkryk weer onder sy heerskappy te verenig. As deel van hierdie plan het God besluit om die aarde, wat in die begin saam met die hemel geskep is (Gen 1:1), te “ontwikkel”, by gebrek aan ‘n beter woord. Op daardie stadium was die aarde “woes en leeg”, en vol duisternis (vers 2). Dus was hierdie ruimte void of God, want God is lig, en geen duisternis is in Hom nie (1 Joh 1:5).
Die aarde was dus duidelik deel van Satan se domein waaroor hy geheers het. In hierdie demoon-infested ruimte moes God die eerste skuif maak om sy Koninkryk weer onder sy Koningskap te verenig. En sy strategie is: die mens. God spreek allereers die aarde aan en laat Sy lig daarin manifesteer (vers 3). Hierdie Lig was die teenwoordigheid van God, nie die natuurlike lig van die son of die maan nie – dié het Hy eers op die vierde dag geskep (verse 14-19)! God klee die aarde só in dat die kroon van sy skepping, die mens, die aarde kan bewoon en Sy Goddelike heerskappy daar kan vestig.”U het hom ‘n weinig minder as die engele gemaak; met heerlikheid en eer het U hom gekroon en hom oor die werke van u hande aangestel. Alle dinge het U onder sy voete gestel. Want in die onderwerping van alle dinge aan hom het Hy niks uitgesonder wat aan hom nie onderworpe is nie.” (Heb 2:7-8).
Maar, soos Satan, was Adam en Eva nie robotte wat God net blindelings gehoorsaam het nie. Hulle het ook keuse gehad en kon dit uitoefen. Hulle het die vryheid van die wonderbaarlikste woonplek gehad en het die voorreg gehad om met hul God in die koelte van die aandwind te wandel (Gen 3:8), want hulle geesdimensie het verhouding met God moontlik gemaak.
Die eerste mens het die duidelike opdrag van God gekry om nié te eet van die boom van die kennis van goed en kwaad nie. Omdat Satan, die god van hierdie wêreld (2 Kor 4:4), die reg het op sy domein, het hy deur sy “craftiness” (2 Cor 11:3, ASV), vir Eva verlei en sy het Adam in sonde, en uit sy skeppingsdoel, laat val. En die res van die mensdom het in Adam hierdie posisie van gevallendheid ingeneem – ons het geestelik “in Adam (ge)sterwe” (1 Kor 15:22).
Hierna kon die mens nie meer in verhouding tot God staan sonder die eksterne hulp van offers en die eksterne regulering van die wet nie. En dit alles was “tydelike” en “onvolmaakte” offers en regulerings. (Later meer hieroor.) God se doel om die Koninkryk van God deur die mens – in wie Hy sy Gees geblaas het, maar wie dit verloor het deur die sondeval – te laat gebeur, kon dus nie plaasgevind nie.
God se Seun, in alle opsigte mens, maar sonder sonde (Heb 4:15), moes die volmaakte Offerlam word om die sondeskuld van die mensdom te kom dra.
Om hierdie rede is Sy koms deur Johannes die Doper só aangekondig: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” (Mat 3:2). Jesus se eerste openbare bediening het só begin: “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” In vers 23 word gesê hy het oral “die evangelie van die koninkryk” gepreek (sien ook vers 35). Van Paulus word in Hand 28:30-31 gesê: “En Paulus het twee volle jare in sy eie gehuurde huis gebly en almal ontvang wat na hom gekom het, terwyl hy die koninkryk van God gepreek en onderrig gegee het.”
Die evangelie van die koninkryk van God is die enigste evangelie wat daar bestaan. Ons het dit ongelukkig vereng tot bloot die evangelie van redding. Redding is maar net die eerste tree, die eerste stap – daarna moet jy instap in die volheid van die heerskappy van God waardeur die koninkryk kom, soos in die hemele, so ook op die aarde (Mat 6:10).
Die koninkryk van God word dus gevestig in/op “die koninkryke van die wêreld” (Mat 4:8). Dit verklaar die uitdrukking dat gelowiges in die wêreld is, maar nie van die wêreld nie (sien ook Joh 17:16). Die wedergeboorte is die enigste proses waardeur God jou van die een koninkryk na die ander koninkryk “oorbring”. Kol 1:13 stel dit pragtig só: “Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde.” Die wedergeborene word dus ‘n ambassade van die lig binne die koninkryk van die duisternis. Joh 12:46 stel dit mooi as Christus sê: “Ek het as ‘n lig in die wêreld gekom, sodat elkeen wat in My glo, nie in die duisternis sou bly nie.”
Maar, dit alles in aggenome, is dit baie belangrik om hierdie week se lering oor wedergeboorte en die koninkryk van God te knoop met die derde belangrike tema van die week: Dying to self. Joh 12:24 (ja, die Skrif wat jy gisteroggend gememoriseer het!) is die sekerste teken dat jy wedergebore is: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, as die koringkorrel nie in die grond val en sterf nie, bly dit alleen; maar as dit sterf, dra dit veel vrug.”
- Sela: Robin Mark se lied: All for Jesus, spel dit so uit:
“Jesus, all for Jesus,
All I am and have and ever hope to be.
All of my ambitions hopes and plans
I surrender these into Your hands.
For it’s only in Your will that I am free.”
Gebruik die lied as riglyn om jou eie lewe voor God te ondersoek.. Skryf jou worstelinge met God daaroor in jou joernaal neer.
- Lees: Gen 13 & 14: Ps 13 & 14; Joh 13 & 14.
- Memoriseer: Joh 13:34-35; Joh 14:6.
- Vir dieper delf: Luister na die cd-lering van Tom Gouws oor: “Die DNA van God: Lig”