Dag 130

 

“dinge, waarvan sommige swaar is om te verstaan, wat … mense verdraai, net soos die ander Skrifte, tot hul eie verderf” (2 Pet 3:16, OAV)

Volgens die versgedeelte hierbo is dit moontlik dat ons die Skrif verkeerd kan lees. Vandag wil ons ‘n paar beginsels uitspel hoe die Woord van God reg gelees moet word. Met die volg van die Bybel se “gebruiksaanwysings” kan ‘n gelowige dus verseker weet dat God deur die Woord met jou praat. 

Die belangrikste beginsel in die lees en die verklaar het ons reeds veel klem op gelê: jy kan die Woord net lees onder die leiding van die Heilige Gees (Mat 22:29; Luk 24:45; Kor 3:14-16). Vir iemand wat nie wedergebore is nie, bly die Skrif geslote, en moet dit verklaar word (Hand 8:35; 18:28; 28:23; Luk 24:27). Selfs dan sal hulle dit moeilik of glad nie verstaan nie. (Mat 13:13, 19; 1 Kor 2:14). Selfs ‘n graad in die teologie is waardeloos vir ‘n nie-wedergebore – hy kan met al daardie kennis niks van die Bybel verstaan nie – dit bly vir hom helaas ‘n geslote boek.

In die tweede plek moet jy duidelik verstaan dat die Skrif uiteenval in twee verbonde. Streng gesproke is ons verdeling van die Bybelboeke soos dit aangebied word, nie korrek nie. Die Ou Verbond eindig na regte eers wanneer Jesus uit die dood opstaan, met ander woorde met Mat 28, Mark 16, Luk 24 en Joh 20, dan eers breek die Nuwe Verbond aan. Alles daarvoor, moet derhalwe ook gelees word as ‘n ander bedeling, in die lig van Christus wat dit voltooi het (Mat 5:17)! Jesus probeer deurgaans in Mat 5 hierdie “ander” manier van die Ou Testament lees deur Hom as die Nuwe Testamentiese Vervuller of Bril te gebruik. Byvoorbeeld, in vers 21-22: “Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: Jy mag nie doodslaan nie, maar elkeen wat doodslaan, moet verantwoording doen voor die gereg. Maar Ek sê vir julle dat elkeen wat vir sy broeder sonder rede kwaad is, verantwoording moet doen voor die gereg; en elkeen wat vir sy broeder sê: Raka! moet verantwoording doen voor die Groot Raad; en elkeen wat sê: Jou dwaas! moet verantwoording doen in die helse vuur.” Dieselfde beginsel verduidelik Hy dan ook ten opsigte van ander wettiese voorskrifte. Dus, selfs al spel die Bybel sekere dinge uit, moet jy – as dit Ou Verbond is, dit lees binne die vervulling daarvan in Christus. Dit is dus verkeerd om net verse te vat uit die Ou Verbond en dit afgeslote aan te bied as riglyn – dit moet deur die filter van die Nuwe Verbond gelees word.

Derdens: alles wat in die Woord staan, kan nie noodwendig geclaim word nie. Baie groot misverstande, verydelde hoop, en erger dinge het al gebeur omdat mense sogenaamd “vasstaan op die Woord”. Jy kan net ‘n belofte of oortuiging uit die Woord neem as die Heilige Gees dit self vir jou gegee het. Baie mense het sulke lyste beloftes waarop hulle staan, maar dit is nooit deur die Heilige Gees as belofte gegee nie. Byvoorbeeld: iemand is siek, en ek wil hom vertroos en dan gaan soek ek ‘n Skriffie oor genesing. Dit is misbruik van die Skrif, en grens selfs aan witchcraft. Moet nie die Woord van God gebruik as ‘n welwillendheidsboekie nie – al die beloftes is nie noodwendig vir jou nie – NET as God dit vir jou persoonlik of profeties gee, kan en moet jy daarop staan.

  • Sela:  Herondersoek met die Heilige Gees alle Skrifte waarop jy staan of dit werklik van God af gekom het.
  • Lees: 1 Sam 16; Ps 138; Luk 13
  • Memoriseer:  Luk 13:24
  • Vir dieper delf:  Lees hoofstuk 13 in Venter & Gouws se Die verbond en die vervalsing.