Dag 1301-1303

 

“All the Books of the Prophets and the Law of Moses told what was going to happen up to the time of John.”

(Matt. 11:13, CEV)

Ons is nou al vir verskeie mannas besig met die uitgebreide sestiende kenmerk van die gees van Serubbábel se werking in die Liggaam van Christus. Dit handel oor God se restourasieproses met alle geskape dinge, om alles te bring tot ‘n staat van onwankelbaarheid (Heb. 12:26-29), oftewel ewigheid. Breedweg gesien laat hierdie korporatiewe mantel die hemele en alles op die ganse aarde bewe. Daar is ook stilgestaan by die drie teorieë oor die duisendjarige vrederyk.

In die vorige Manna is ook uitgewys hoe die Charismatiese beskouing meen dat die duisendjarige vrederyk aan die einde van die kerkera sal plaasvind.

Die teoloog, prof. Johan Malan, noem uit hierdie perspektief die volgende kenmerke van die sogenaamde duisendjarige vrederyk op sy webwerf http://www.bibleguidance.co.za/. Dit is ‘n goeie samevatting van baie boeke oor hierdie onderwerp, soos byvoorbeeld John F. Walvoord se The Millennial Kingdom: A Basic Text in Premillennial Theology en J. Dwight Pentecost se Things to Come: A Study in Biblical Eschatology:

  • God sal in die Persoon van Jesus Christus op aarde regeer. ‘n Teokratiese wêreldregering sal dus gevestig word (Luk. 1:31-33; Op. 19:15; Jes. 11:5-16).
  • Die troon van Christus sal in Jerusalem wees (Sag. 8: 22; Jes. 2:2-3; 24:23).
  • Sy regering sal deur geregtigheid gekenmerk word (Jes. 1:26-27; Jer. 23:5-6).
  • Daar sal vrede wees. Nasies sal nie meer leer om oorlog te voer nie (Jes. 2:4; Miga 5:4).
  • Satan sal gebind wees sodat hy die nasies nie kan verlei nie (Op. 20:1-4).
  • Die geredde Israel sal hulle verbly in die Here en die hele wêreld evangeliseer (Jes. 12:3-6, 27:6, 40:9).
  • Deur hulle evangelisasie sal hulle die wêreld vol vrugte maak (Jes. 27:6) en die Here sal geëer word (Jes. 28:5).
  • Die aarde sal vol wees van die kennis van die Here soos die waters die seebodem oordek (Hab. 2:14).
  • Daar sal nie siekte wees nie: “Geen inwoner sal sê: ek is siek nie” (Jes. 33: 24).
  • Mense sal hoë ouderdomme bereik. ‘n Man van 100 jaar oud sal as ‘n kind beskou word (Jes. 65:20-23).
  • Die natuur, wat as gevolg van die sondeval aan die nietigheid onderworpe is, sal gedeeltelik herstel word. Die hele skepping wag met reikhalsende verwagting op die openbaarmaking van die kinders van God (Rom. 8:19-22; Jes. 41:18-20).
  • Tye van ekonomiese voorspoed sal aanbreek. Wanneer dit planttyd is, sal die vorige oes nog nie eers klaar ingesamel wees nie (Jes. 55:13; Amos 9:13-14; Joël 3:18).
  • Daar sal ‘n ten volle ontwikkelde, ekonomies voorspoedige gemeenskap wees wat in die behoeftes van die Koning se onderdane sal voorsien (Jes. 65:21-23).
  • Harmonie sal in die diereryk heers. Die leeu sal by die lam lê en gras vreet soos ‘n os, omdat die Here ‘n nuwe verbond met die diere en visse van die see sal sluit (Jes.11:6-9, 65:25; Hos. 2:17).

Ons gaan nie nou die aannames hierbo punt vir punt hanteer nie, maar vir eers ‘n paar algemene opmerkings hieroor in die lig van vorige openbaringe maak:

  • ‘n Oplettende leser sal onmiddellik raaksien dat velerlei van die Skriftuurlike ‘bewyse’ wat hierbo aangebied word, uit die Ou Testament is. Die ganse Ou Testament is hoofsaaklik ‘n verslag van God se verbondsverhouding met Israel en het as sodanig nié toepassingsgeldigheid op enigeen buite daardie spesifieke verbond nie. Alhoewel die hele Skrif, Ou Testament ingesluit, vir ons in die nuwe verbond gebied word en “nuttig (is) tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid” (2 Tim. 3:16), is daar bepaalde en duidelike gebruiksvoorwaardes wat verreken moet word. Dit kan nie goedsmoeds aangebied word as Skriftuurlike motivering vir Nuwe-Testamentiese gelowiges nie, want hulle is in totaal ander verbond met God as diegene van die ou verbond.
  • 11:13 is ‘n belangrike sleutel tot hierdie saak – “Want al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer.” Die CEV-vertaling stel dit nog duideliker: “All the Books of the Prophets and the Law of Moses told what was going to happen up to the time of John.” Dit beteken al die Ou-Testamentiese profesieë is vervul teen die tyd van Johannes die Doper! In Hand. 3:22-24 verduidelik Petrus dit voorts soos volg: “Want Moses het tot die vaders gespreek: Die Here julle God sal vir julle ‘n Profeet verwek uit julle broeders net soos ek is; na Hom moet julle luister volgens alles wat Hy met julle sal spreek. En elke siel wat nie na dié Profeet luister nie, sal uit die volk uitgeroei word. En ook al die profete van Samuel af en die wat gevolg het, almal wat gespreek het, het ook hierdie dae aangekondig.”
  • Paulus stel dit baie duidelik in 1 Kor. 15:50 – “vlees en bloed (kan) die koninkryk van God nie … beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie”. As Jesus dan onomwonde dit só eksplisiet gestel het, dat “die koninkryk van God is binne-in julle” (Luk. 17:21), en ons steeds in ons gebroke liggame leef – “dra ons die doding van die Here Jesus in die liggaam om” (2 Kor. 4:10), ten spyte daarvan dat die koninkryk kom (Matt. 6:10). Dit vra vir ‘n totaal ander beskouing dan van wat op die fisiese aarde (gaan) gebeur en met gelowiges wat ten spyte van gebrokenheid, siekte en dood rééds die ewige lewe leef (Joh. 17:3).
  • Jesus is nie nou meer ‘n sigbare Persoon nie – hy is ‘n “lewendmakende Gees” (1 Kor. 15:45) wat nét in gees aanbid en gedien kan word (Joh. 4:23-24). As elke oog Hom kan sien met sy parousia (Op. 1:7), sy verskyning, spel 1 Joh. 3:2 uit: “ons weet dat ons, as Hy verskyn, … ons Hom sal (geestelik) sien soos Hy is”, dit is as Gees!
  • In Hand. 1:6 word die Jode se politieke verwagting teenoor Jesus uitgespel, naamlik of Hy die koninkryk van Israel weer gaan oprig as teenvoeter vir die Romeinse oorheersing. Pilatus vra Hom of Hy die posisie van die koning van die Jode (wat pertinent aan Dawid belowe is – Jer. 33:17, en daarmee saam: Jesus is uit die direkte geslagslyn van koning Dawid – Matt. 1:6) gaan inneem (Joh. 18:33). Sy antwoord hierop is baie spesifiek negatief: “Jesus answered, ‘My Kingdom is not an earthly kingdom. If it were, my followers would fight to keep me from being handed over to the Jewish leaders. But my Kingdom is not of this world.’” (NLT). Dus sal God nié in die vleeslike Persoon van Jesus Christus op aarde regeer nie. In 8:15-16 word God se bloudruk vir aardse regering voorgehou: “Deur my regeer die konings en stel die maghebbers vas wat reg is; deur my heers die vorste en die edeles, al die regters van die aarde.” Sy heerskappy word derhalwe eksplisiet oorgedra na die Liggaam van Christus, want hulle sal “as konings op die aarde regeer” (Op. 5:10). In Op. 22:5 word dit onomwonde uitgespel: “hulle sal as konings regeer tot in alle ewigheid”.
  • Die troon van God is in die hemel (Matt. 5:34), en dis waar Jesus ook langs sy Vader sit (Heb. 12:2). Die Bruid is immers rééds óók daar in hul geesdimensie “saam opgewek en saam laat sit in die hemele in Christus Jesus” (Ef. 2:6). Die simboliese nuwe Jerusalem, wat nié ‘n fisiese stad is nie, maar ‘n groepering gelowiges genaamd die Bruid (Op. 21:9-10), daal neer uit die geestelike realm na die fisiese realm (Op. 21:2-3), met God in hul midde: “En ek, Johannes, het die heilige stad, die nuwe Jerusalem, sien neerdaal van God uit die hemel, toeberei soos ‘n bruid wat vir haar man versier is. En ek het ‘n groot stem uit die hemel hoor sê: Kyk, die tabernakel van God is by die mense, en Hy sal by hulle woon, en hulle sal sy volk wees; en God self sal by hulle wees as hulle God.” Dit is duidelik nie net een, enkele gebeurtenis nie, maar ‘n progressiewe “loosed away” van die een realm na die ander, van die een manier van dink tot ‘n ander manier van dink, van ‘n vleeslike natuur tot ‘n geestelike natuur, van een staat van bestaan tot ‘n ander. Letterlik word daar beslag gegee aan 1 Kor. 15:47 –  “Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel. Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense. En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.” Op die nuwe aarde sal “die troon van God en van die Lam sal daarin wees” (Op. 22:3) – hierdie nuwe aarde is egter primêr die gelowige wat ‘n nuwe skepping in Christus is – “die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword” (2 Kor. 5:17). Die koninkryk kom dus BINNE-IN julle, sé Jesus (Luk. 17:21).
  • Die konsep dat Satan vir duisend jaar gebind gaan word (Op. 20:2) kan onmoontlik binne ‘n fisiese tydsraamwerk geïnterpreteer word, want volgens Heb. 2:14 het Jesus deur sy kruisdood die duiwel tot niet gemaak. ‘n Totale herverstaan van hierdie demoniese realm in gelowiges se lewe is derhalwe absoluut noodsaaklik.
  • Die leeu wat by die lam lê en gras vreet soos ‘n os is uiteraard nie ‘n fisiese realiteit nie, maar duidelik Bybelse beeldspraak. Die vers is deel van die perikoop in Jes. 11, wat handel oor die karakteraard van die Messias, Jesus, en hoe sy dood, opstanding en lewe in die gees daarna die orde in die wêreld sal begin verander. Daar is geen “nuwe verbond” met die diere en visse van die see – Albert Barnes se Notes on the Bible spel dit raak uit: “Together the words express, that God would withhold the power of all enemies, visible or invisible; worldly or spiritual. Each also may denote some separate form or character of the enemy.” Ons weet dat “stof sal die voedsel van die slang wees” (Jes. 65:25) was indertyd al deel van die vloek van die slang in Gen. 3:14.

Daar bestaan duidelik soveel mitologisering en oorleweringe oor hierdie duisendjarige vrederyk. In die volgende Manna kyk ons na die Bybelse verklaring van hierdie totaal misverstane konsep.

  • Sela: Besef die belangrikheid daarvan om die Bybel in konteks te lees en te interpreteer.
  • Lees: 1 Sam. 21-29
  • Memoriseer: 1 Sam. 24:10
  • Delf dieper: Gaan luister na Tom Gouws se cd-lering: Hoe die Bybel Vra om Gelees te word