“uit die duisternis geroep …”
- 2:9, OAV)
As subtema tot die uitgebreide sestiende kenmerk van die gees van Serubbábel se werking in die Liggaam van Christus het ons in die vorige klompie Manna ekstensief geskryf oor die sogenaamde ‘duisendjarige vrederyk’. Daar is oortuigend uitgewys dat die term op foutiewe aannames en Skrif-eksegese berus, en bepaald nié op ‘n fisiese tydperk van duisend jaar dui nie, maar ‘n simboliese tyd van rus.
Die enigste manier waarop die aan duister oorgelewerde mens RUS kan vind op hierdie doderyk wat ons aarde noem, is as hy uit dié bodemlose put kan ascend.
Maak net eers vir jouself dít vas – die mensdom word “uit die duisternis geroep … tot sy wonderbare lig” (1 Pet. 2:9). Op verskeie plekke in die Skrif word hierdie toestand absoluut eksplisiet só uitgespel, en dit karakteriseer ‘n doelgerigte wegbeweeg van duisternis na lig:
- “Die volk wat in duisternis wandel, het ‘n groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het ‘n lig geskyn.” (Jes. 9:2)
- “Staan op, word verlig; want jou lig kom, en die heerlikheid van die HERE gaan oor jou op. Want kyk, die duisternis sal die aarde oordek en donkerheid die volke; maar oor jóu sal die HERE opgaan, en sy heerlikheid sal oor jou gesien word. En nasies sal trek na jou lig, en konings na jou stralende opgang.”
- “die volk wat in duisternis sit, het ‘n groot lig gesien, en die wat sit in die land en skaduwee van die dood, vir hulle het ‘n lig opgegaan” (Matt. 4:16)
- “waarmee die opgaande Lig uit die hoogte ons besoek het, om te skyn oor die wat in duisternis en doodskaduwee sit, om ons voete na die pad van vrede te rig” (Luk. 1:78b-79)
- “Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here—wandel soos kinders van die lig … en hou nie gemeenskap met die onvrugbare werke van die duisternis nie …” (Ef. 5:8 & 11)
- “Hy wat ons verlos het uit die mag van die duisternis en oorgebring het in die koninkryk van die Seun van sy liefde” (Kol. 1:13)
- “Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ‘n dief sou oorval nie. Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie. Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees. Want die wat slaap, slaap in die nag; en die wat dronk word, is in die nag dronk. Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees …” (1 Thes. 5:4-8)
- Sela: Het jy uit die duisternis na die lig beweeg? Wandel jy in die lig (Ef. 5:8)?
- Lees: 2 Sam. 8-10
- Memoriseer: 2 Sam. 8:15
- Delf dieper: Luister na Hanno Pienaar se cd-lering: Laat daar lig wees!