
“vandag het Ek self U gegenereer”
(Heb. 1:5, OAV)
Ons is besig met die laaste samevattings van die vrederyk. In die vorige Manna is uitgewys dat die begrip “vandag” ‘n teleskopering is van die einde as jy (vandag) gehoorsaam is. Derhalwe is vandag as jy gehoorsaam is, ook die Sabbat, of dan: die voleindiging. Dit is omdat God nét in vandag is. Die chronostyd word met ander woorde opgehef wanneer mens hierdie rus betree, en die meganisme om dit te laat gebeur, is gehoorsaamheid vandag. Dít is die kern van jou vasstaan in jou posisie in Christus, die Dag van Shalom, die Hoof.
Om hierdie begrip van die vrederyk vandag dan ook verder te verdiep, is dit belangrik om na hierdie soortgelyke Skrifte te kyk:
- “Ek wil vertel van die besluit: Die HERE het aan My gesê: U is my Seun, vandag het Ek self U gegenereer.” (Ps. 2:7)
- “soos daar ook in die tweede psalm geskrywe is: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer.” (Hand.13:33)
- “Want aan wie van die engele het Hy ooit gesê: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer? en weer: Ek sal vir Hom ‘n Vader wees, en Hy sal vir My ‘n Seun wees?” (Heb. 1:5)
- “So het Christus ook Homself nie verheerlik om Hoëpriester te word nie, maar Hy het Hom verheerlik wat vir Hom gesê het: U is my Seun, vandag het Ek U gegenereer.” (Heb. 5:5)
Hierdie Skrif, en enkele ander wat in die Bybel herhaal word, is vir ons groot belang in die verstaan van die “generering” (“procreate, beget, born of, bring forth, be delivered of, birth, give being”) van Jesus. Die ontstaan van Jesus is nie ‘n histories gedetermineerde tyd nie – dit is vandag, die uitdeinende ewige tydruimte van shalom, waarbinne die Hoof gestalte gekry het, en waaruit alle dinge ontstaan het.
In piktorale Hebreeus word die begrip ‘vandag’ voorgehou as twee gejukstaponeerde simbole, naamlik enersyds ‘n hand en andersyds bewegende waters (voorgestel deur ‘n watergolfie). Die Ancient Hebrew Lexicon of the Bible benoem dit dan ook baie gepas as “working water”. 2 Pet. 3:5 verduidelik dit soos volg: “dat daar van lankal af hemele was en ‘n aarde wat uit water en deur water ontstaan het deur die woord (Logos) van God”. Hierdie kreatiewe ewige baarmoeder is die oorsprong van alle dinge, en is gevul met primordiale waters, soos Heb. 11:3 dit ook eksplisiet uitspel: “Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie.” Die enigste verruiming van die Skrif in 2 Pet. 3:5 is dat dit dáár Logos is, maar in Heb. 11:3 egter die woordjie rhema is. Die Logos (= Jesus) het tóé reeds bestaan uit die rhema-woorde (die Liggaam van Christus). Sela!
Hierdie woord vir ‘vandag’ in Hebreeus dui eintlik op soveel ander begrippe wat onteenseglik NIE vandag (in temporale sin) is nie, dit hef in ‘n groot mate eintlik die afgemete tydsbegrip van “vandag” totaal op! Volgens Brown-Driver-Briggs’ Hebrew Definitions kan “vandag” die volgende beteken:
- “day (as opposed to night)”
- “a 24 hour period”, soos gedefinieer deur die begrippe ‘aand’ en ‘more’ (soos in Gen. 1, wat tot en met Dag 4 toe die son geskape is, glad nié ‘n 24-uur-periode was nie);
- “as a division of time”
- “a working day, a day’s journey”
- “lifetime”
- “a period (general)”
- “a year”
Volgens die King James Concordance word die Hebreeuse woord vir “vandag” (yôm) ‘n totaal van 2239 keer vertaal, met só ‘n wydlopende hoeveelheid vertalings as: “day, days, daily, time, chronicles, (for) ever, long, continually, fulle, when, while, year, years, yearly, age, time, always, always, now, life, whole, required, season, space, evermore, live, old, perpetually, presently, afternoon, midday, ago, birthday, continuance, elder, livest, liveth, outlived, overlived, remaineth, require, then, trouble, weather, young, younger”.
Duidelik verskil die Midde-Oosterse gebruik van die term geweldig van die Westerse gebruik. Selfs die ekwivalente woord vir ‘vandag’ in Grieks, sēmeron, word nie net gebruik vir ‘n afgebakende 24-uur-periode nie. Renn se Expository Dictionary of Bible Words sê as toeligting hiertoe: “‘Time’ in both Old and New Testaments is not to be regarded as merely a ‘quantitative’ phenomenon (i.e. a measurement of duration), but rather a fully ‘qualitatative’ one, partaking of particular characteristics such as purpose, rasionale, redemptive-historical significance, and, most importantly, implemented by God himself, the Creator of time.” (p. 976, my uitheffing).
Hierdie verstaan van die begrip ‘vandag’ gee nou ook linguisties gewig aan die argument in die vorige Manna dat “vandag” nie soseer ‘n tydsbegrip is nie, maar ‘n teleskopering is van die einde as jy (vandag) gehoorsaam is. Derhalwe is vandag as jy gehoorsaam is, ook die Sabbat, of dan: die voleindiging, die konsummasie/eenwording met die Hoof, die volheid van Christus.
Hier onder haal ons nou ‘n klompie Ou-Testamentiese voorbeelde aan van ‘n totale betekenisverruiming in die gebruik van die begrip ‘vandag’. Kyk of jy dit kan raaksien:
- “En Abraham het dié plek genoem: Die HERE sal voorsien! Sodat vandag nog gesê word: Op die berg van die HERE sal dit voorsien word.” (Gen. 22:14)
- “Maar Moses het aan die volk gesê: Wees nie bevrees nie, staan vas en aanskou die verlossing van die HERE wat Hy vandag vir julle sal bewerk; want soos julle die Egiptenaars vandag sien, sal julle hulle nie weer sien in ewigheid nie.” (Eks. 14:13)
- “Toe sê Moses: Eet dit vandag, want dit is vandag die sabbat van die HERE. Vandag sal julle dit nie in die veld kry nie.” (Eks. 16:25)
- “Toe het Moses gesê: Vul vandag julle hand om te offer aan die HERE—want elkeen is teen sy seun en teen sy broer—sodat Hy vandag ‘n seën oor julle kan gee.” (Eks. 32:29)
- “Kyk, die HERE onse God het ons sy heerlikheid en sy grootheid laat sien, en ons het sy stem uit die vuur gehoor; vandag het ons gesien dat God met die mens spreek en hy in die lewe bly.” (Deut. 5:24)
- “Kyk, ek hou julle vandag seën en vloek voor—“ (Deut. 11:26)
- “Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag …” (Deut. 30:19)
- “Ook van vandag af is Ek dit, en niemand red uit my hand nie; Ek werk, en wie kan dit keer?” (Jes. 43:13)
Maar dis veral in die Nuwe Testament dat hierdie betekenisverruiming van die begrip ‘vandag’ ‘n baie belangrike sleutel inhou. Kyk na die volgende drie voorbeelde:
- “gee ons vandag ons daaglikse brood” (Matt. 6:11)
- “Maar wat dink julle? ‘n Man het twee kinders gehad, en hy gaan na die eerste en sê: Kind, gaan werk vandag in my wingerd.” (Matt. 21:28)
- “Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie.” (Heb. 3:13)
Dit is egter veral Luk. 23:43 wat uitwys hoe allerbelangrik die regte verstaan van die begrip ‘vandag’ is: “En Jesus antwoord hom: Voorwaar Ek sê vir jou, vandag sal jy saam met My in die Paradys wees.” Daar is soveel verkeerde dogma gebou rondom die misverstaan van “vandag” in hierdie vers.
Terug na die begin van hierdie Manna waar die vier herhalende Skrifte aangehaal is waar God telkemale met nadruk sê dat Hy sy Seun vandag gegenereer het. Lees hiermee saam Spr. 8:23, waar Jesus (gepersonifieer as die Wysheid – 1 Kor. 1:24) aan die woord is: “Van ewigheid af is ek geformeer, van die begin af, van die voortyd van die aarde af.” Hier word dus ‘n ekspliete verband gelê tussen die begrippe “ewigheid”, “die begin”, “die voortyd” (of “ander realiteit”). Dit beteken dat die “tyd” en/of “plek” waar Jesus geformeer is, daardie ROSH of HOOF, is die ewigheid/ander realiteit, maar die Skrif noem dit op hierdie vier plekke “Vandag”! Dus – die ander realiteit (of voortyd), of ewigheid word geteleskopeer in VANDAG!
Met dit as agtergrond is dit dan makliker om te verstaan wat Paulus bedoel as hy in Hand. 17:28 dit só uitspel: “want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons”. ‘n Mens sou derhalwe ook die begrippe ewigheid/ander realiteit/vandag kan noem “in Hom”!
In die gedeelte in Heb. 3, waar die klem gelê word daarop dat ons “vandag” sy stem moet hoor (vers 7), word die rede vir dwaling gestel as ‘n verharde of verbitterde of ongehoorsame hart (vers 10), wat veroorsaak dat hulle nie VANDAG die sabbatsrus kan ingaan nie (vers 11) en dus “van die lewende God afvallig word” (vers 12). Die woordjie “afvallig” beteken volgens The Complete WordStudy Dictionary : “to withdraw, remove oneself, forsake, desert, retire, cease from something”, spesifiek dan jou geroepenheid en identiteit IN HOM. Daarom spel vers 13 dit uit dat ons ‘n baie bepaalde verantwoordelikheid rondom mekaar as “deelgenote van die hemelse roeping” (vers 1) het om mekaar vandag ernstig aan te moedig, “to call near” (Strong): “Maar vermaan mekaar elke dag so lank as dit vandag genoem word, sodat niemand van julle deur die verleiding van die sonde verhard word nie.” Sodoende word ons ook “deelgenote van Christus” (vers 14), so lank as dit vandag genoem word!
Die Liggaam van Christus moet ‘n totaal nuwe manier van dink (Rom. 12:2; Ef. 4:23; Kol. 3:10) bekom wat aan hierdie ander realiteit waarin ons eintlik leef, sal beslag gee. Daar lê krag en ongekende kreatiewe potensiaal verhul in die bewussyn van VANDAG, wat grootliks deur ons diachronies-psigologiese beperking van verlede, hede en toekoms gereguleer word. Jy kan jouself nié vind deur in die verlede te delf of enigiets in die toekoms te projekteer nie. Begin die krag van vandag soek; bring die sakrament van nou.
- Sela: Leef jy in die diktering van gister en môre?
- Lees: 2 Sam. 17-24
- Memoriseer: 2 Sam. 24:14
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Staan op die Skouers van Geloofshelde en sien die Verskyning van Jesus