Dag 1313-1315

 

“En wanneer die duisend jaar voleindig is,

sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word …”

(Op. 20:2, OAV)

Die vorige Manna het die begrip vandag in die Skrif ondersoek, en aangetoon dat dit die teleskopering is van die einde as jy (vandag) gehoorsaam is. Derhalwe is vandag as jy gehoorsaam is, ook die Sabbat, of dan: die voleindiging. Dit is omdat God nét in vandag is. Die chronostyd word met ander woorde opgehef wanneer mens hierdie rus betree, en die meganisme om dit te laat gebeur, is gehoorsaamheid vandag. Dít is die kern van jou vasstaan in jou posisie in Christus, die Dag van Shalom, die Hoof. Streng gesproke is dit ook tegnies nie vandag as ‘n 24-uur-periode nie, maar eerder ‘n posisie van NOU.

Ons het die vorige Manna afgesluit met die volgende samevatting: Die Liggaam van Christus moet ‘n totaal nuwe manier van dink bekom wat aan hierdie ander realiteit waarin ons eintlik leef, sal beslag gee. Daar lê krag en ongekende kreatiewe potensiaal verhul in die bewussyn van VANDAG, wat tans grootliks deur ons diachronies-psigologiese beperking van verlede, hede en toekoms gereguleer word. Jy kan jouself nié vind deur in die verlede te delf of enigiets in die toekoms te projekteer nie.

Die vrederyk wat ‘n duisend simboliese jaar duur, is met ander woorde die toestand van rus wat God belowe aan diégene wat vandag gehoorsaam is aan sy stem.

‘n Gegewe wat dikwels gebruik word binne Pinkster- en Charismatiese vooruitskouing as die sogenaamde duisendjarige vrederyk ter sprake is, is dat die duiwel daarná vir ‘n kort tydjie ontbind word. Waarom, sou mens noodwendig vra? Hy is dan klaar oorwin, klaar gebind, en daar het nou (binne hierdie siening) ‘n duisend jaar verloop waartydens net vrede op die aarde geheers het? Hoekom nou? Dit maak geensins sin nie.

Op. 20:2-3 hou dit spesifiek soos volg voor: “En hy het die draak gegryp die ou slang wat die duiwel en die Satan is en hy het hom gebind duisend jaar lank, en hom in die afgrond gewerp en hom toegesluit en dit bo hom verseël, sodat hy die nasies nie meer sou verlei totdat die duisend jaar voleindig is nie. Daarna moet hy dan ‘n kort tydjie ontbind word.” Die afloop hiervan word verduidelik in verse 7-9a: “En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel …”

Ons het in Manna 1034-1306 gesê ons sal later hierna terugkeer. Toe is ook verduidelik die draak/slang/duiwel/Satan woon in die grondelose put van die menslike natuur, die hart. Hy is in Génesis reeds deur God vervloek tot die stoflike realm waaruit die mens geneem is. Dié demoniese ondergrond moet nou in die hart gebind word, met ander woorde “be rendered powerless” (Rom. 6:6, TCNT).

Maar hy kan daaruit vrygelaat word uit eie keuse, vir “‘n kort tydjie”, in Grieks die woordjie “mikros”! Die sleutel hiertoe is die frase ”‘n kort tydjie”, “a little time” (KJV), “a short time” (ALTNT), “a little while” (CEV), “a litle season” (Geneva), “for a while” (TCNT), “briefly” (MSG), getranslitereerd ‘n “mikros chronos”!

Jy as gelowige verkeer in Christus in hierdie rus van God vandag, maar jý kies uiteindelik om as gevolg van ontrouheid deur jou eie begeerlikheid gevang te word (Spr. 11:6). Jak. 1:14-15 spel dit so eenvoudig soos volg uit: “Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word. Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.”

Onthou, sonde is hier nie dinge wat jy verkeerd doen nie – dit is hamartia, om jou merk of skeppingsdoel te mis. Jy val dan ná jou verkeerde keuse uit die rus van vandag. Dit gaan dus duidelik oor ‘n bepaalde keuse wat jy moet maak om voortdurend die lewe te kies (Deut. 30:19). As jy die dood kies, met ander woorde kies om buite die “woorde van die ewige lewe” (Joh. 6:68) te wees, maak jy vir ‘n kort tydjie die deksel van die hart se bose ondergrond oop, en laat jy Satan uit sy gebondenheid vry in jou lewe. Dit bring “allerhande bittere afguns en selfsug … wanorde en allerhande gemene dade” (Jak. 3:14 &16) na vore.

Hierdie realiteit wat hier verduidelik word, word profeties uitstekend toegelig deur Sag. 5:5-8: “Daarop kom die engel vorentoe wat met my gespreek het, en sê vir my: Slaan tog jou oë op, en kyk wat daar te voorskyn kom. Toe sê ek: Wat beteken dit? En hy antwoord: Dit is die efa wat te voorskyn kom. Verder het hy gesê: So lyk hulle in die ganse land. En meteens word daar ‘n looddeksel opgelig, en daar was ‘n vrou wat binne-in die efa sit. En hy sê: Dit is die goddeloosheid. En hy het haar binne-in die efa teruggewerp en die looddeksel op die opening daarvan gegooi.” ‘n Efa is ‘n Egiptiese woord wat “measure” beteken (Easton’s Bible Dictionary). In die Ancient Hebrew Dictionary of the Bible word hierdie woord piktoraal voorgestel deur ‘n jukstaponering van horings en lippe. Dié piktograaf van die horings verteenwoordig krag of sterkte, en die lippe verteenwoordig die mond óf “any type of hole. The nostrils (holes) are for breathing.” Duidelik het hierdie teenstander “die krag van die vyand” (Luk. 10:19) en moet ek en jy nooit “die krag van die sonde” (1 Kor. 15:56) onderskat nie.

In hierdie afgrond van die hart, of efa, woon die goddeloosheid, lewe afwagtend en haal woedend of met seksuele passie asem deur oopgesperde neusvleuels (“heavy in passion or anger” – AHDB) en wag dat jou begeerte die looddeksel lig, sodat jy tot sonde verlei kan word. Daarom stel Paulus in Ef. 4:27  dit kategories: “en gee aan die duiwel geen plek nie”.

Uit bogenoemde is duidelik hoe die duiwel “vir ‘n kort tydjie” uit die gevangenis vrygelaat word. Maar wat beteken dit dat hy sal uitgaan “om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel …”

‘n Groot faktor in die verkeerde interpretasie van hierdie passasie is die vertaling van die woordjie “nasies”. In Grieks kan die grondwoord inderdaad só vertaal word, veral verwysende na Paulus se benoeming van heidene/”Gentiles” (as groepering teenoor Jode). Maar dit kan ook gewoon vertaal word met mense (“the people”), soos die Bishops Bible, CEV, Geneva Bible en Tyndale Bible dit vertaal, of die goddelose (“Gentiles”) soos die Jubilee Bible dit vertaal. Volgens Thayer kan die begrip ook beteken: “a multitude, company, troop swarm, a multitude of individuals of the same nature”.

Die wortelwoord hiervan is die woordjie ethō, wat beteken: “to be used”! To be used by whom? Deur die duiwel! 1 Joh. 3:8 spel dit raak uit: “Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af.” Ook Joh. 8:44  verduidelik dit mooi: “Julle het die duiwel as vader, en die begeertes van julle vader wil julle doen.”

Daarom is dit moontlik vir 1 Joh. 3:9 om te kan sê: “Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie …”

Tog pla die feit met hierdie invalshoek dat dit die individu is wat die deksel by wyse van spreke lig, maar mense (meervoud) daardeur beïnvloed word. Dít is egter uit Bybelse oogpunt geen vreemde implikasie nie. Wanneer ék sondig, sê Heb. 12:15 byvoorbeeld, word “baie hierdeur besoedel”. Kyk na die volgende voorbeelde wat tot dieselfde implikasie lei:

  • “En Moses het vir Aäron gesê: Wat het hierdie volk jou gedoen, dat jy so ‘n groot sonde oor hulle gebring het?” (Eks. 32:21)
  • “En Hy sal Israel oorgee vanweë die sondes van Jeróbeam wat hy gedoen het en waarmee hy Israel laat sondig het.” (1 Kon. 14:16)
  • “Ja, uit julle self sal daar manne opstaan wat verkeerde dinge praat om die dissipels weg te trek agter hulle aan.” (Hand. 20:30)
  • “Julle roem is nie mooi nie. Weet julle nie dat ‘n bietjie suurdeeg die hele deeg suur maak nie?” (1 Kor. 5:6)
  • “Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes.” (1 Kor. 15:33)
  • “En saam met hom het ook die ander Jode geveins, sodat selfs Barnabas hom laat meevoer het deur hulle geveins.” (Gal. 2:13)
  • “Maar die onheilige, onsinnige praatjies moet jy vermy; want hulle sal al verder voortgaan in goddeloosheid, en hulle woord sal voortwoeker soos ‘n kanker …” (2 Tim. 2:16-17)
  • “en baie sal hulle verderflikhede navolg, en om hulle ontwil sal die weg van die waarheid gelaster word …” (2 Pet. 2:2).

Miskien is die volgende gedeelte die mees beskrywende van kinders van God wat reeds oorwinning oor die Bose by die kruis verkry het (Kol. 2:14-15), maar steeds die looddeksel van die ongeregtigheid in hulleself oopmaak: “(V)eral die wat die vlees in vuile begeerlikheid agternaloop en die heerskappy verag … Hulle is waterlose fonteine, miswolke voortgedrywe deur ‘n stormwind, vir wie die donkerheid van die duisternis vir ewig bewaar word. Want deur trotse woorde vol onsin uit te spreek, verlok hulle deur begeerlikhede van die vlees en ongebondenheid die wat waarlik die mense ontvlug het wat in dwaling wandel. Hulle belowe vryheid aan hulle, terwyl hulle self slawe van die verdorwenheid is; want waar ‘n mens deur oorwin is, daarvan het hy ook ‘n slaaf geword. Want as hulle, nadat hulle deur die kennis van die Here en Saligmaker, Jesus Christus, die besmettinge van die wêreld ontvlug het, hulle tog weer deur hierdie dinge laat verstrik en oorwin word, dan het vir hulle die laaste erger geword as die eerste. Want dit sou vir hulle beter wees as hulle die weg van die geregtigheid nie geken het nie, as dat hulle, nadat hulle dit leer ken het, hulle afkeer van die heilige gebod wat aan hulle oorgelewer is. Maar oor hulle het gekom wat die ware spreekwoord sê: Die hond het omgedraai na sy eie uitbraaksel, en die gewaste sog om in die modder te rol.” (2 Pet. 2:10 & 17-22).

Ons moet verse 8-9 van Op. 20 binne hierdie nuwe perspektief verduidelik: “en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel …”

Wie beïnvloed word deur die golf van ongeregtigheid wat soos suurdeeg deursuur (1 Kor. 5:6-9), is van groot belang. Ons probeer in die volgende Manna dit uitpluis.

  • Sela: Verduidelik aan iemand die geheimenis van Op. 20:7-8
  • Lees: 1 Kon. 1-9
  • Memoriseer: 1 Kon. 1:39
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: So Gemaak en so laat Staan? – “die gees van selfverbetering”