“… die Gog en die Magog …”
(Op. 20:8, OAV)
In die vorige Manna het ons uitvoerig gekyk na die vrederyk wat ‘n duisend simboliese jaar duur, wat die toestand van rus is wat God belowe aan diégene wat vandag gehoorsaam is aan sy stem. Daar is ook stilgestaan by Op. 20:2-3, wat voorhou dat die Satan in daardie tyd gebind is.
Jou gehoorsaamheid aan die stem van die Heilige Gees hóú die looddeksel op die oorwonne teenstander.
Ook het ons probeer peil wat sy vrylating ná die duisend jaar “vir ‘n kort rukkie” simbolies dan nou beteken. Ons is besig om oor die afloop hiervan in verse 8-9 te besin: “En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel …”
Hierdie uiteensetting wat volg, kan baie tegnies voorkom, maar probeer asseblief deurdruk met die ontvouende argument, want nié net wys dit uit dat ‘n verkeerde vertaling tot geweldige dogmatiese gekkighede kan aanleiding gee nie, maar ook is daar ‘n geweldige belangrike versweë waarskuwing in vir elke gelowige oor wat presies gebeur as jy toelaat dat Satan “vir ‘n kort rukkie” in jou lewe vrygelaat word.
Ons weet nou reeds wat beteken “die duisend jaar”, die “gevangenis” en die verkeerd-vertaalde begrip “nasies”. Die volgende agt onderdele van hierdie twee verse moet egter nog gedek word:
- “en hy (Satan) sal uitgaan”
- “wat in die vier hoeke van die aarde is”
- “die Gog en die Magog”
- “om hulle te versamel vir die oorlog”
- “hulle getal is soos die sand van die see”
- “hulle het opgekom oor die breedte van die aarde”
- “(hulle het) die laer van die heiliges … omsingel”
- “en die geliefde stad omsingel …”
Allereers dan – daar word deur die vertaling die indruk geskep dat Satan sal uitgaan na al die nasies van die wêreld toe. Ons weet nou al uit die vorige Mannas dat Satan eintlik glad nie ‘n enkele figuur met só ‘n persoonsnaam is nie, maar die teëstander wat IN ons teen die agenda van God staan en gevoed word deur die bose, vleeslike natuur. Die frase “hy sal uitgaan” beteken volgens Thayer “to go or come forth of”! In die konteks van hoe ons die gedeelte tot nou toe gelees het, is dit hier duidelik to come forth of. Metafories beteken dit “to flow forth from the body”.
Vers 8 praat van die nasies wat “in die vier hoeke van die aarde is”, wat in eietydse terme beter vertaal word as “die vier kwadrante van die aarde” (of “quarters” soos die KJV dit noem), maar helaas is dit óók net ‘n konteksaanname. Henry M. Morris, in sy welbekende The Biblical Basis for Modern Science, herlei dié begrip oortuigend terug na die Hebreeuse woord kanaph, wat hy vertaal as “extremity”. ‘n Eenvoudige daad van ongehoorsaamheid aan God se stem vandag het “extreme” reikwydte, nie net vir jou nie, maar ook vir ander.
Volgens Strong beteken dié woord interessant genoeg ook “hide”, ook “Hide: As hidden in the wings of a bird”, selfs dan ook “the wings of a garment”. Dit maak baie sin, veral omdat The NAS New Testament Greek Lexicon die woord “hoek” verklaar as “a secret place”. As die teenstander dan uit die afgrond van die hart gelaat word, is hy oral oor die totale mens, maar veral in sy “secret places”. Paulus waarsku derhalwe immers in Ef. 4:27 – “en gee aan die duiwel geen plek nie”.
Wat die meeste vertalers wat dogma op hierdie onderhawige vers wil afdruk weliswaar nié verreken nie, is die baie spesifieke voorsetsel “in” in die frase “wat in die vier hoeke van die aarde is”. Strong sê van hierdie voorsetsel dat dit “rarely with verbs of motion” gebruik word. Daar is dus nie ‘n ruimtelike ‘oordekking’ van die nasies soos wat die Bybelkommentators graag wil hê nie, maar ‘n oorname van “every nook and cranny” (Msg) van die persoon met wie dit gebeur, en ook al die persone met wie hy/sy in aanraking kom.
Geweldig interessant word “die nasies … wat in die vier hoeke van die aarde is”, of in ons simboliese interpretasie: die mense wat deur hierdie daad van ongehoorsaamheid geraak word, “die Gog en die Magog” genoem.
As daar nou in die geskiedenis eierdanse uitgevoer is oor ‘n sogenaamde profetiese verwysing, is dit by uitstek met Gog en Magog die geval. Hierdie verwysing, wat amper sonder uitsondering deur die eeue gekoppel word aan die verwysing na Gog en Magog in die profetiese boek Esegiël, is altyd gebruik om spesifieke mense in die geskiedenis te demoniseer deur hulle as die Gog en die Magog te identifiseer. Uiteraard is die boeke van beide Esegiël en Openbaring vol beeldspraak en simboliek, só uitermatig gelaai dat “intolerance, ignorance, sectarian fierceness, the sanguinary factiousness of an irreligious religionism, the eternal Pharisaism of the human heart, have made of it their favourite camping ground” (F.A. Tatford: Prophecy’s Last Word. An Exposition of the Revelation, p. 14.)
Om dit te illustreer – in 1971 het die destydse goewerneur van Kalifornië, wat later president sou word, Ronald Reagan, aan ‘n uitgelese gehoor gesê: “Ezekiel tells us that Gog, the nation that will lead all of the other powers of darkness against Israel, will come out of the north. Biblical scholars have been saying for generations that Gog must be Russia. What other powerful nation is to the north of Israel? None. But it didn’t seem to make sense before the Russian revolution, when Russia was a Christian country. Now it does, now that Russia has become Communistic and atheistic, now that Russia has set itself against God. Now it fits the description of Gog perfectly.” (Paul Boyer: When Time Shall Be No More: Prophecy Belief in Modern Culture, p. 162).
Dié beskouing van Cumming and Darby se eindtydbeskouinge is gepopulariseer deur die Scofield Reference Bible, wat as ‘t ware Eseg. 38 gekanoniseer het in sy uitvoerige analises verwysende na die (toe) moderne USSR. Baie bekende en super-populêre premillennialiste (soos John F. Walwoord, Herbert Vander Lugt, Jack van Impe, Tim LaHaye en Hal Lindsey) het miljoene boeke verkoop deur die Christene te voed op hierdie dreigende apokalips. Nadat die fut uit hierdie beskouing geskud is deur die geskiedenis self, het charismatiese Christene van die sogenaamde “New Right” (soos George Otis Jr. byvoorbeeld) daarna Gog uitgewys as Kazakhstan en die Moslemstate wat sedertdien onafhanklikheid verkry het (sien Charisma, April 1991). Noudat die Koue Oorlog verby is en Rusland grootliks sy militêre mag as ‘n supermoondheid verloor het, het die klem meer verskuif na die nasies van Islam, spesifiek Iran (soos by Richard Kyle: Apocalyptic Fever: End-Time Prophecies in Modern America, p. 171). In die voorskou van die 2003 inval van Irak het president George W. Bush aan president Jacques Chirac van Frankryk vertel dat Gog en Magog werksaam was in die Midde-Ooste: “This confrontation is willed by God,” het hy aan die Franse leier verduidelik, “who wants us to use this conflict to erase his people’s enemies before a New Age begins” (Daniel I. Block: The Book of Ezekiel: chapters 25-48, p. 151). Chirac moes ‘n professor in teologie by die Universiteit van Lausanne in Switserland hieroor gaan konsulteer (Anton Wessels: The Torah, the Gospel, and the Qur’an: Three Books, Two Cities, One Tale, p. 193, voetnota 6). Hierdie tipe mitologisering het deur die eeue plaasgevind.
In sy uitstekende studie: Gog and Magog: the History of a Symbol [opgeneem in Evangelical Quaterly: 75:1 (2003), pp. 23-43] wys Nicholas M. Railton dit sonder vrees vir teenspraak uit dat die Bybel se profetiese gedeeltes eensins eksegeties verklaar kan word in sogenaamde Nuwe-Testamentiese vervullings nie. Die Abstract van die artikel vat dit raak saam: “The war against ‘Gog’ has proved to be a very flexible form of political rhetoric. While men of varying religious convictions have neatly divided the world into God’s camp and an evil empire, they have instrumentalised and politicised eschatological imagery and fitted it into their own socio-political setting. The author reveals how the Gog-Magog oracle has shaped the thought and coloured the judgements of believers in their relations to other ethnic and religious groups.” (http://biblicalstudies.org.uk/pdf/eq/2003-1_023.pdf ).
Die kerkvader Augustinus het indertyd al geweier om die profetiese passasies van Openbaring as ‘n spieëlbeeld van enige kontemporêre geskiedenis te sien. Die Openbaring van Johannes was vir hom ‘n wegwyser vir die geestelik belegde gelowiges van die Stad van God, die Nuwe Jerusalem (Ernst L. Tuveson: Millennium and Utopia, pp. 17-18). In sy klassieke teks: Die Stad van God, is Gog en Magog nie barbare in die noordelike hemisfeer nie, maar simbole van mense wat ingeneem is en oordek word deur die duiwel of teenstander. Hy verklaar dan ook die woordjie “Gog” as “dak”, wat dui op ‘n bedekking (Boek 20.3, Hoofstuk 11). Sien asseblief raak hoe vlerk ons beskouing aan by Augstinus se verduideliking. Weliswaar sou ‘n mens die digter D.J. Opperman se woorde uit Joernaal van Jorik hier gepas kon gebruik: “die plek en spelers sal voortdurend wissel / maar die spel word telkens in die tyd herhaal”.
So – in hierdie lig gesien – waarna verwys Gog en Magog? Let op die taalkundige wyse waarop dit in Op. 20:8 gestel word: “en hy (die teenstander) sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog”. Die nasies, wat ons verkies om bloot te benoem as die mense, word hier ‘n kollektiewe geestelike naam gegee: die Gog en die Magog. Die woordjie ‘Gog’ beteken volgens Thayer bloot “berg” (terwyl Strong se teologiese onderrok uithang as hy geen verwysing daarna maak nie, maar net sê: “a symbolic name for some future Antichrist”)!
‘n Berg is in die Skrif duidelik ‘n simbool vir iets wat moeilik is om te oorkom, of ‘n sterk oorheerser, of groot struikelblokke (Matt. 17:20; 21:21; 1 Kor. 13:2; Sag. 4:7). Die naam Magog dui op die streek waarin Gog regeer of die beheer uitoefen en as Hoof (Rosh) funksioneer (Eseg. 38:2). Hulle word die hoof van die onthoofdes wat in ongehoorsaamheid die afgrond se looddeksel oopgemaak het.
Simbolies dui Gog en Magog op almal wat God en sy meesterplan teenstaan en nou ook reg het om in hierdie gebied die beheer uit te oefen. Dit is die verteenwoordigers wat word soos die beheersingsgebied (soos Adam wat uit die onherroepelik verbind is aan die adamah, waaruit hy gekom het). Sela.
In die volgende Manna knoop ons die argumentlyne hieroor bietjie vaster.
- Sela: Verduidelik aan iemand die konsep van die Gog en die Magog
- Lees: 1 Kon. 10-19
- Memoriseer: 1 Kon. 10:4-5
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Om onder Sy Vlerk te kan wees