Dag 1319-1321

 

“Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde…”

(Ps. 2:2, OAV)

Ons is besig om ‘n ekstensiewe eksegese van Op. 20:8-9 te maak: “En wanneer die duisend jaar voleindig is, sal die Satan uit sy gevangenis ontbind word; en hy sal uitgaan om die nasies te verlei wat in die vier hoeke van die aarde is, die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see. En hulle het opgekom oor die breedte van die aarde en die laer van die heiliges en die geliefde stad omsingel …”

Daar is reeds heelwat van die begrippe in hierdie twee verse bespreek. Ons weet nou reeds wat beteken “die duisend jaar”, die “gevangenis” en die verkeerd-vertaalde begrip “nasies”. Ook het ons binne die wyer verstaan verduidelik wat beteken “en hy (Satan) sal uitgaan”, en “wat in die vier hoeke van die aarde is”. Ons is tans nog besig met “die Gog en die Magog”.

Die slotsom van die vorige Manna het uitgewys dat die Bybel se profetiese gedeeltes geensins eksegeties verklaar kan word in sogenaamde Nuwe-Testamentiese vervullings nie. Die kerkvader Augustinus het indertyd al geleer die profetiese passasies van Openbaring kan glad nie dien as spieëlbeeld van enige kontemporêre geskiedenis nie. Die Skrif wat met sulke spekulasie klaarspeel, is Matt. 11:13 – “Want al die profete en die wet het tot op Johannes geprofeteer.” Punt. Dus kan geen profesie in terme van gebeurlikhede uit die Ou Testament se profesieë gehaal word nie.

Gog en Magog is dus nie barbare in die noordelike hemisfeer nie, maar simbole van mense wat ingeneem is en ‘oordek’ word deur die duiwel of teenstander,. Simbolies dui Gog en Magog op almal wat God en sy meesterplan teenstaan, asook op die gebied van hul beheer. Die ‘dak’ wat in hul naam verskuil is, dui op ‘n covering of darkness, lettterlik ‘n “leuendak” (Jes. 28:17).

Die beeld ten grondslag van hierdie saak is besonder helder. As die gelowige deur ongehoorsaamheid die teenstander uitlaat, uit hul posisie in Christus beweeg, verkeer die gelowige nié meer in die sabbatsrus van vandag, die ewige vrederyk of die ander realiteit of ewigheid, nie, en is hy/sy uitgelewer aan die realiteite van die wêreld, wat volgens 1 Joh. 5:19 alles “in die mag van die Bose lê”. Dan het jy ook uitgetree uit die beskerming wat die bloed van Jesus, die Liggaam van Christus, die engele, en so meer, bied. Terselfdertyd kan dit lei dat jy “in die genade van God veragter” en ook dat “baie (ander) hierdeur besoedel word” (Heb. 12:15).

Uit die rekonstruksie van tydlyne volg ‘n baie belangrike ander aspek wat ons in die ontvouing nog nie hanteer het nie, naamlik die sogenaamde wittroonoordeel, nog ‘n teologiese woord wat nié presies só in die Bybel voorkom nie. Dié oordeel kan nooit in die ewigheid lê nie, want Rom. 8:1-2 is absoluut duidelik hieroor: “Daar is dan nou geen veroordeling vir die wat in Christus Jesus is nie, vir die wat nie na die vlees wandel nie, maar na die Gees. Want die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus het my vrygemaak van die wet van die sonde en die dood.” Daarom lê die oordeel nét buite Christus/derde dimensie/ ewigheid/paradys/ander realiteit. Jy is nét binne vandag, of jy is nié daarbinne nie. Jy is dus óf in die ander realiteit waar daar geen veroordeling is nie, óf jy is in die doderyk waar jy klaar veroordeel is: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.” (Joh 5:24). Net ‘n rukkie vroeër het Jesus dit só eksplisiet gestel wat sý definisie van die oordeel is: “Hy wat in Hom glo, word nie veroordeel nie; maar hy wat nie glo nie, is alreeds veroordeel omdat hy nie geglo het in die Naam van die eniggebore Seun van God nie. En dit is die oordeel: dat die lig in die wêreld gekom het, en die mense het die duisternis liewer gehad as die lig; want hulle werke was boos.” (Joh 3:18-19).

Daar is nog baie ander geheimenisse rondom die oordeel, maar dit sal eers bietjie later aan bod kom.

Om terug te keer na die res van die begrippe in Op. 20:8-9. Volgende is die frase: “om hulle te versamel vir die oorlog”. Gewoonlik wanneer ‘n mens hierdie frase, of iets soortgelyk, lees, is die kondisionering om dit as ‘n volskaalse oorlog daar buite te verstaan. Maar in die lig van die res van die gedeelte is dit absoluut duidelik dat hierdie oorlog plaasvind die oomblik as jy uitstap in ongehoorsaamheid, en dit vind in jou denkwêreld plaas. Paulus verduidelik dit presies in 2 Kor. 10:3-6: “Want hoewel ons in die vlees wandel, voer ons die stryd nie volgens die vlees nie; want die wapens van ons stryd is nie vleeslik nie, maar kragtig deur God om vestings neer te werp, terwyl ons planne verbreek en elke skans wat opgewerp word teen die kennis van God, en elke gedagte gevange neem tot die gehoorsaamheid aan Christus, en ons gereed hou om elke ongehoorsaamheid te straf wanneer julle gehoorsaamheid volkome is.”

Die woordjie “stryd” (“warfare”) word deur Strong as “military service” verklaar, maar dit is duidelik in die domein van die denke, waar elke gedagte gevange geneem word. Let baie mooi op – dit moet gebring word “tot die gehoorsaamheid aan Christus”! Daar is nie ‘n eksterne oorlog nie! Selfs die gevreesde Armagéddon (Op. 16:16) is ‘n ruimte in jou psige! Wat word versamel vir die oorlog? Die Gog, hulle wat die agenda van God teenstaan, en die Magog, die oordekte wêreld waarin almal leef wat in ongehoorsaamheid aan die stem van God leef, word die inkubator van demoniese gedagtes en influisteringe. Duidelik kan ‘n mens hierdie denkwêreld gemaklik ook Babilon noem, soos Op. 18:2, “‘n woonplek van duiwels en ‘n versamelplek van allerhande onreine geeste”. Op. 16:14 verduidelik dit nog in groter detail: “Want dit is geeste van duiwels wat tekens doen, wat uitgaan na die konings van die aarde en die hele wêreld, om hulle te versamel vir die oorlog van daardie groot dag van die almagtige God.” Daar is dus ‘n versamelnes van dié legio demone, “want ons is baie” (Mark. 5:9; Luk. 8:30).

Die oorlog is duidelik nie ‘n oorlog in die toekoms nie, maar ‘n stryd wat IN JOU besleg word, net soos Jesus versoek is op die berg van versoeking (Matt. 4:1-11). Al die versoekings het in Jesus se gedagtes plaasgevind, maar dit maak dit nie minder reëel of vreesaanjaend nie! Paulus se uitspel van hierdie worstelstryd (let op dié spesifieke woord): “Eph 6:12  Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug. Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil … neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus.” (Ef. 6:12, 13a & 16b).

Die volgende vier frases uit Op. 20:8-9 gaan al vier oor dié Gog-mense wat op hul Magog-wêreld beskryf word: hoeveel hulle is, waar hulle vandaan kom en wat hulle doel is:

  • “hulle getal is soos die sand van die see”
  • “hulle het opgekom oor die breedte van die aarde”
  • “(hulle het) die laer van die heiliges … omsingel” sowel as “die geliefde stad omsingel”

Die frase “soos die sand van die see” kom ‘n hele paar keer in die Skrif voor, en verwys na die ryk simboliese tradisie waarin die uitdrukking ingebed is. Uiteraard dui dit ook op “wat nie gemeet en nie getel kan word nie” (Hos. 1:10), of wat ontelbaar is (Gen. 41:49; Heb. 11:12), maar dit het ook ‘n duidelike simboliese betekenis. Ons vind die gebruik van die frase vir die eerste keer in Gen. 22:17, waar God aan Abraham belowe sy nageslag sal wees “soos die sand wat aan die seestrand is”.  Jesaja 10:22  profeteer dan: “Want al was jou volk, o Israel, soos die sand van die see, net ‘n oorblyfsel van hulle sal terugkom …” Paulus gebruik hierdie profesie in Rom. 9:27 en toon dan aan dat daar uit hierdie “sand van die see” (al die gereddes, maar steeds sons of soil) net ‘n oorblyfsel die identiteit van Bruid verkry (die sons of oil).

Hierdie sons of oil, oftewel die seuns van die Gesalfde, Christus, word in Gen. 22:17 gelyk gestel aan “die sterre van die hemel”. In Dan. 12:2-3 word die stand van die Bruid in terme van hierdie tipologie soos volg voorgehou: “En baie van die wat in die stof van die aarde slaap, sal ontwaak … En die verstandiges sal glinster soos die glans van die uitspansel, en die wat baie tot regverdigheid lei, soos die sterre vir ewig en altoos.” Dié vers dui op die transisie van kerk na Bruid (van die adamiese natuur tot die Goddelike natuur).

As daar dan in die onderhawige passasie van Op. 20:8-9 staan dat Gog se “getal is soos die sand van die see”, lê daarin ‘n bepaalde belofte aan die seuns van die eerste Adam (alle mense) asook die vleeslike gelowiges (gered en selfs wedergebore, maar nie deel van die Liggaam nie omdat hulle nie loop in hulle hoë roeping nie). Hulle almal werk téén die agenda van God , soos Ps. 2:2-3 dit raak uitspel: “Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp!”, maar God bied hul bepaald ‘n keuse om na Hom te keer (Joh. 3:16; 1:12). Uiteindelik weet ons: “daar is geskrywe: So waaragtig as Ek leef, sê die Here, voor My sal elke knie buig, en elke tong sal God bely.” (Rom. 14:11).

Dit is dan baie interessant dat Johannes in Op. 13:1 (in Engels: 12:18) “op die sand van die see gaan staan” en dan sien wat uit die sea of humanity gestalte kry. Hierdie korporatiewe toonbeeldgestalte is ‘n simboliese weergawe van die Gog en die Magog, dit waaraan die gelowige blootgestel is wanneer hy/sy in ongehooraamheid loop.

Die frase “hulle het opgekom oor die breedte van die aarde” is taamlik eenvoudig, soos The Complete WordStudy Dictionary dit uitspel: “the great expanses of the earth, the width”. Hierdie wyse van spreke kom ook voor in Hab. 1:6-7 met betrekking tot die Chaldeërs (“clod-breakers” – Thayer): “Want kyk, Ek gaan die Chaldeërs opwek, daardie kwaai en onstuimige nasie wat trek deur die wydtes van die aarde, om wonings in besit te neem wat aan hom nie behoort nie. Verskriklik en gedug is hy, van homself gaan sy reg en hoogheid uit.” Die gelykstelling is maklik te maak, en die implikasies van die besetting word deur hierdie Ou-Testamentiese pendantskrif netjies uitgespel.

Laastens: “(hulle het) die laer van die heiliges … omsingel” sowel as “die geliefde stad omsingel …”. Nie net word die enkel gelowiges deur Gog aangeval nie, ook die kleiner formasies (“laers”) van gelowiges (soos byvoorbeeld huisgemeentes), en korporatief, ook dan die Nuwe Jerusalem, oftewel die Bruid van Christus (Op. 21:2 & 10). ‘n Aanslag op ‘n lid van die Liggaam laat die hele Liggaam ly. 1 Kor. 12:26-27 stel dit mooi: “En as een lid ly, ly al die lede saam … Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik.” Ons sal die aanslag al meer korporatief moet hanteer: Gal. 6:2 – “Dra mekaar se laste en vervul so die wet van Christus.”

Hiermee sluit ons die eksegese af van die gedeelte oor satan wat ná die tydperk van rus vir ‘n rukkie ontbind word.

  • Sela: Verduidelik aan iemand die masopskrif van hierdie lering.
  • Lees: 1 Kon. 20-22; 2 Kon. 1-6
  • Memoriseer: 1 Kon. 22:22
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die dier wat is wat nie is nie.