Dag 1322-1324

 

“Ek het nie gekom om die wêreld te oordeel nie,

maar om die wêreld te red.”

(Joh. 12:47, OAV)

 

Met die nuwe verstaan wat ons in ons tydlynbeskouing tot dusver gemaak het, pas die sogenaamde  duisendjarige vrederyk nie meer in die verre toekoms nie. Gewoonlik word Op. 20:8-9 gebruik om af te lei dat Satan ná ‘n fisiese verloop van ‘n duisend jaar uit sy gevangenis vrygelaat word, dat daar nog ‘n tydjie verloop waarin die nasies verlei word, die Gog en die Magog vir die oorlog versamel word, en so meer, maar ons het al die gek argumente rondom hierdie beskouing in die vorige Mannas hopelik mee klaargespeel.

Ná die duisendjarige vrederyk word tradisoneel die wittroonoordeel verwag, ‘n begrip wat gedeeltelik so voorkom in Op. 20:11-15: “En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie. En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke. En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke. En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood. En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.”

In Manna Dag 1319-1321 is die kortbegrip van die sogenaamde wittroonoordeel gegee, maar belowe dat ons in groter detail later daarna sou kyk.

Ons gaan vir ‘n wyle dan nou ondersoek wat presies die Woord van God met hierdie (laaste) oordeel bedoel.

Dit is baie opvallend dat die meeste openbare tirades van ongelowiges gestu word deur ‘n geweldige probleem wat hulle het met die oordeel van God, dikwels gepaardgaande met ‘n absolute weersin in ‘n God wat ‘n ewige hel voorberei vir mense wat nie in Hom wil glo nie. Die onBybelse draai-of-braai-teologie het die Christendom en die goeie nuus van Jesus Christus se verlossing deur die loop van eeue geweldig skade gedoen, veral omdat daar ‘n absolute kortsigtigheid en vleeslike verstaan is van wat God met die begrip bedoel. Jesus se direkte woorde in Joh. 12:47 is absoluut ondubbelsinnig duidelik: “Ek het nie gekom om die wêreld te oordeel nie, maar om die wêreld te red.”

Anders as die populêre opvatting is daar glad nie ‘n algemene oordeel vir alle mense nie. Hierdie populêre beskouing kom uit allerhande heidense oortuigings, asook uit ander godsdienste, maar nié uit die Bybel nie. Volgens die Woord van God is daar nie ‘n toekomstige enkele geleentheid waarin alle mense voor die troon van God sal verskyn nie. ‘n Geleentheid soos hierbo afgebeeld, is met ander woorde bloot ‘n fantasie of verbeeldingsvlug – só sal dit byvoorbeeld nooit daar uitsien nie.

Die algemene persepsie en verbeelde denkbeeld is dat Jesus fisies terugkeer aarde toe, en dat Hy op ‘n groot wit troon sal sit en dat Hy dan elke sondaar een vir een voor sy troon sal laat verskyn, te midde van geweldige ontredderende natuurmanifestasies: aardbewings, grafte wat oopgaan en dooies wat opstaan, berge wat oopskeur en baie dinge in aaklige dier voege. Die angsbevange sondaars sal dan een vir een met elke enkele sonde, oortreding, of wat ook al gekonfronteer word, veroordeel word, en in ‘n oneindige duisternis van afgryslike straf opgeneem word. Die heiliges  sal uit die hemel aansluit vir hierdie kosmiese geleentheid om getuies te wees van die skrikwekkende lot van die ongelowiges, waarna hulle terugkeer na die heerlike strate van goud in die hemel, sonder om weer enigsins te dink aan die ewige lot van die veroordeeldes.

Hierdie verwronge idee het gegroei uit ‘n té letterlike interpretasie van ‘n paar Skrifgedeeltes waarin simboliek vooropstaan – dit is nie letterlike verwysings nie, maar simbolies.

Interessant genoeg praat die Skrif allereers nie net van één oordeel nie. Daar was al in die verlede bepaalde oordele, daar is vandag oordele, en daar sal bes moontlik in die toekoms ook oordele van God wees. Daarmee saam – oordele is ook nie nét negatief nie. Daarom stel Girdlestone’s Old Testament Synonyms dit soos volg: “The words judgment and condemnation signify two very different things …” Die Hebreeuse woordjie vir oordeel (mishpâṭ) beteken streng gesproke bloot net verdict, wat uiteraard gunstig of nie-gunstig kan wees. Ook in die Nuwe Testament is dit die geval, volgens die International Standard Bible Encyclopedia: “Often in the New Testament, ethically, for (1) “to decide,” “give a verdict,” “declare an opinion” (Greek krı́nō); (2) “to investigate,” “scrutinize” (Greek anakrı́nō); (3) “to discriminate,” “distinguish” (Greek diakrı́nō).” ‘n Goeie voorbeeld van ‘n positiewe uitkoms rondom judgement is Dawid se smeekgebed in Ps. 7:8 (KJV) – “The LORD shall judge the people: judge me, O LORD, according to my righteousness, and according to mine integrity that is in me.”

Die woordjie oordeel impliseer egter ook soms bloot onderskei, byvoorbeeld die rol van ‘n beoordelaar in ‘n skoonheidskompetisie en veronderstel ook baie spesifiek toetsing.

Tog is dit onteenseglik so dat Jehovah-Tsidkenu, die God van Geregtigheid, hierdie bepaalde mandaat het op grond van sy karaktereienskap van geregtigheid: “Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek vir Dawid ‘n regverdige Spruit sal verwek, en as Koning sal Hy regeer en verstandig handel en reg en geregtigheid doen in die land. In sy dae sal Juda verlos word en Israel veilig woon; en dit is sy naam waarmee Hy genoem sal word: DIE HERE ONS GEREGTIGHEID.” (Jer. 23:5-6).

Dat daar in die verlede onteenseglik oordeel voltrek is, is so, en die beste moontlike voorbeeld is die oordeel wat in die tuin van Eden plaasgevind het. Nie net het die federale hoof van die mensdom, Adam, in die beskuldigebank gestaan nie, maar IN HOM die ganse mensdom. Die uitspraak in hierdie regsaak was verdoemend – skuldig as gevolg van ongehoorsaamheid. Die straf van dié oortreding, wat ek en jy ook ontvang het, was die dood (Rom. 6:23). Die mens se ongehoorsaamheid het hul “sekerlik (laat) sterwe” (Gen. 2:17). [Let asseblief op – dit word uitgespel: “die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe”. Daardie dag is dan vandag as jy nié na sy stem luister nie en jou hart in ongehoorsaamheid verhard. Probeer verby dit kyk as ‘n ewige sterwe; sien dit as ‘n sterwe vandag, ‘n uitval uit die ewigheid vandag. Dit het weliswaar ‘n oordeel meegebring, naamlik dat die mens sedertdien Rom. 1:18 geproe het: “Want die toorn van God word van die hemel af geopenbaar oor al die goddeloosheid en ongeregtigheid van die mense wat in ongeregtigheid die waarheid onderdruk …”]

Die eerste groot wittroonoordeel of oordeelsdag was toe God bepaal het dat “almal in Adam sterwe” (1 Kor. 15:22). Die mensdom dien steeds hierdie straf uit – “onthou / ons maak maar almal ‘n geraamte groot”, soos DJ Opperman dit mooi digterlik gestel het. Vandag sien ons die uitdien van die straf in elke doodskis en stoet, elke siekte en epidemie, elke pyn en skeet, in die wet van entropie, dat alles neig van ‘n staat van orde na ‘n staat van wanorde. Alle mense wat gebore word, is oorgelwer aan die oordeel van hierdie geestelike wetmatigheid, wat Paulus in Rom. 8:2 noem: “die wet van die sonde en die dood”. Vroeër in die sendbrief skryf Paulus: “Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, … so (het) die dood tot alle mense deurgedring …” (Rom. 5:12). Dié oordeel het alle mense geraak.

“Maar God sy dank wat ons altyd laat triomfeer in Christus …” (2 Kor. 2:14)! Kyk na hierdie ontsaglike groot waarheid wat Rom. 5:18 as teenvoeter voorhou: “Daarom dan, net soos dit deur een misdaad vir alle mense tot veroordeling gekom het, so ook is dit deur een daad van geregtigheid vir alle mense tot regverdigmaking van die lewe.” Vers 15 het dit raak gestel: “deur die misdaad van die één (het) baie gesterf …, (maar) veel meer het die genade van God en die gawe deur die genade van die een mens, Jesus Christus, vir baie oorvloedig geword”. Die Message-parafrase stel dit so duidelik: “Here it is in a nutshell: Just as one person did it wrong and got us in all this trouble with sin and death, another person did it right and got us out of it. But more than just getting us out of trouble, he got us into life! One man said no to God and put many people in the wrong; one man said yes to God and put many in the right.” (Rom 5:18-19).  In hierdie verse sien ‘n mens duidelik die mens se spesifieke straf en ‘n spesifieke vryspraak van skuld.

Benewens hierdie vonnisvoltrekking was daar sedertdien dié fatale insident ook verskeie ander oordele. Die bekendste miskien is die vernietegende oordeel oor die ganse mensdom (uitsluitend 8 persone –  2 Pet. 2:5) tydens die groot sondvloed, in die tyd van Noag. In Gen. 6:5-7 word dit soos volg uitgespel: “Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was, het dit die HERE berou dat Hy die mens op die aarde gemaak het, en daar was smart in Sy hart. En die HERE sê: Ek sal die mens wat Ek geskape het, van die aarde verdelg, die mens sowel as die vee en die kruipende diere en die voëls van die hemel; want dit berou My dat Ek hulle gemaak het.”

Sodom en Gomorra is ‘n ander oordeel wat ‘n spesifieke groepering mense toegeval het

(Gen. 18:20-21; 19:14). Judas (1:7) noem dat hulle “die straf van die ewige vuur ondergaan” het. Hierdie is ‘n ontsaglike belangrike gegewe wat ons in ‘n volgende Manna bietjie meer gaan uitpluis.

God het ook antieke Babilon veroordeel, hoofsaaklik as gevolg van die feit dat hul die huis van Juda in ballingskap gehou het, hul afgod Marduk steeds bly aanbid het, en so meer. In 539 v.C. is hul ryk gewelddadig deur die Mede en Pers oorgeneem (Jer. 51:36; Jes. 14:3-6,17; Dan. 5:1-4). Dieselfde was die geval met byvoorbeeld Edom (Jer. 25:17-31). Maar ook oor Juda en Jerusalem is oordeel uitgespreek as gevolg van hul afwykende hart: “Behold, I, even I, am against thee; and I will execute judgments in the midst of thee in the sight of the nations.” (Eseg. 5:8, RV).

En dan ‘n laaste voorbeeld van ‘n oordeel was die vernietiging van die tempel in 70 n.C., daardie “groot en deurlugtige dag van die HERE” waarvan Joël (2:31) geprofeteer het, en wat in detail beskryf word in die profetiese woord van Matt. 24 (die hele hoofstuk). Daardie woorde is in die toehoorders se ore vervul, want Jesus het hulle beslis gewaarsku: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.” (vers 34). Een geslag (= 40 jaar) ná dit uitgespreek is (30 n.C), het die vernietiging van die tempel en van Jerusalem in 70 n.C. plaasgevind.

  • Sela: Vrees jy die oordeel van God? Hoekom/hoekom nie?
  • Lees: 2 Kon. 7-15
  • Memoriseer: 2 Kon. 9:7 (wat sou hierdie sinchronisering vir jou beteken?)
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Die wet sal uit Sion uitgaan.