Dag 1328

 

“want die loon van die sonde is die dood …”

(Rom. 6:23, OAV)

 

In die vorige Mannas is die Ou Testamentiese stede Sodom en Gomorra tipologies gebruik om te verduidelik wat met goddelose mense gebeur in die oordeel van God. Jud. 1:7, ‘n sleutelteks in hierdie verband, is in detail uitgepluis, en daar is oortuigend uit die grondtale aangetoon dat die inwoners van hierdie historiese stad nié vir ewig in die hel sal brand – soos wat dié teks dikwels verdraai word om te sê – nie. Ons tese is dat dit dan tipologies ook nie waar kan wees vir ander goddeloses nie. Lees asseblief gou weer die vorige Manna, Dag 1327. Ons het die oorspronklike betekenisse van die twee stede wat voorgehou word as dié simboliese voorbeeld van God se oordeel oor mense etimologies ondersoek. Sodom is met só ’n naam benoem baie lank voor daar enige teken was van die feit dat dit deur vuur verswelg sal word. En Gomorra is benoem as “onderdompel” voordat dit histories met die oordeel gebeur het, maar in die volksmond is dit ‘n oorlewering of mite wat vir die waarheid voorgehou word. Hoekom juis?

Dit is profeties van groot belang dat hier iets Goddeliks ingebou is in die naamgewing van hierdie stedepaar sodat ek en jy vandag dit as ‘n tipologie (of voorbeeld – 2 Pet. 2:6; Jud. 1:7) kan lees van God se handelinge met die goddelose mens! Die naam van Sodom beteken in Hebreeus “burning” (BDB), en Gomorra beteken “submersion” (BDB), oftewel “onderdompel”. Eersgenoemde het duidelik fisies gebeur, maar Sodom en Gomorra is totaal vernietig deur die “ewige vuur”, Sy Naam is weliswaar Jehovah, Sy wesensaard is ‘n “verterende vuur” (Heb. 12:29). Sodom en Gomorra, en die mense van die stede, brand nie vir ewig nie! (Die begrip ‘Sodom en Gomorra’ word duidelik metonimies gebruik, want dit is nie soseer die stede wat die straf ondergaan nie, maar uiteraard die mense van die stad!) Die teoloog Albert Barnes, in sy Notes on the Bible stel dit soos volg: “As here used, it cannot mean that the fires which consumed Sodom and Gomorrah were literally eternal, or were kept always burning, for that was not true … The passage, then, cannot be used to prove that the particular dwellers in Sodom will be punished forever …” Adam Clarke’s Commentary on the Bible spel dit eweneens uit: “by the action of that fire which descended from heaven they were totally and eternally destroyed; for as to their being rebuilt, that is impossible, seeing the very ground on which they stood is burned up, and the whole plain is now the immense lake Asphaltites”. Dit verklaar ook die betekenis van Gomorra as “submersion”.

Prototipies is dit dan duidelik – bepaald is daar ‘n oordeel, maar die oordeel is nie die sogenaamde hel nie, dit is die ewige dood – “want die loon van die sonde is die dood” (Rom. 6:23), ook Jak. 1:15 – “as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort”.

Die natuurlike gaan die geestelike vooraf (1 Kor. 15:46), en derhalwe is dit wat in die fisiese gebeur het bloot ‘n heenwysing na dit wat nou in die geestelike realm gebeur. Dis vir ons ‘n waarskuwing, met die oog om ons te red, soos Amos 4:11 dit uitspel: “Ek het julle omgekeer soos God Sodom en Gomorra omgekeer het, sodat julle soos ‘n stuk brandhout was wat uit die vuur geruk is.”

  • Sela: Maak seker dat jy verstaan hoe Ou Testamentiese tipologie gebruik kan word.
  • Lees: 2 Kon. 25; 1 Kron. 1-2
  • Memoriseer: 2 Kon. 25:9 (Wat ‘n sinchronisasie! Probeer hierdie vers tipologies verstaan.)
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: DNA van God: Vuur