Dag 1329-1330

 

“waardeur hy die wêreld veroordeel het …”

(Heb. 11:7, OAV)

Ons perspektief op oordeel moet egter drasties verander. Weliswaar is Heb. 9:27 ‘n waarheid: “(D)ie mense (is) bestem … om een maal te sterwe en daarna die oordeel …” Maar teen hierdie tyd moet ek en jy ‘n paar dinge besef en vasmaak: alhoewel ons fisies lewend gebore is op hierdie aarde, was ons geestelik dood. Hierdie toestand van geestelike dood is so absoluut, dat die aarde dikwels in die Bybel “die doderyk” genoem is. Almal is derhalwe letterlik ingebore in die dood, want soos Rom. 5:12 sê: “omdat almal gesondig het”, het “die dood tot alle mense deurgedring”. Jesus se woorde in Joh 5:24-25 moet ons nuwe verwysingswêreld word as ons praat en dink oor dood, doderyk en oordeel: “Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe. Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe.” (Besef asseblief – hierdie NOU is uiteraard ook VANDAG in die ander, ewige  realiteit: “Ons sal wel nie almal ontslaap nie, maar ons sal almal verander word, in ‘n oomblik, in ‘n oogwink, by die laaste basuin; want die basuin sal weerklink, en die dode sal onverganklik opgewek word; en ons sal verander word.” – 1 Kor. 15:51-52. Sela!)

Met jou wedergeboorte het “die wet van die Gees van die lewe in Christus Jesus” jou  vir ewig “vrygemaak van die wet van die sonde en die dood” (Rom. 8:2).

Paulus vestig in sy apostoliese briewe baie spesifiek hierdie nuwe manier van dink, en die volgende vier gedeeltes lig dit netjies toe:

  • “En julle het Hy lewend gemaak, wat dood was deur die misdade en die sondes …” (Ef. 2:1)
  • “ook toe ons dood was deur die misdade, lewend gemaak saam met Christus” (Ef. 2:5)
  • “Daarom sê Hy: Ontwaak, jy wat slaap, en staan op uit die dode, en Christus sal oor jou skyn.” (Ef. 5:14)
  • “En julle, wat dood was deur die misdade en die onbesnedenheid van julle vlees, het Hy saam met Hom lewend gemaak deurdat Hy julle al die misdade vergeef het …” (Kol. 2:13)

Ons weet dus, sê 1 Joh. 3:14, “dat ons oorgegaan het uit die dood in die lewe”, maar ons moet nou opgroei van ons staat as “kinders van God” (Joh. 1:12) na “seuns van God” (Rom. 8:14). Hy vereis nou dat ons in volwassenheid sal opgroei, soos Heb. 2:10 (AMP) dit stel: “(in order to bring) many sons into glory”, asook dié parafraserende byvoeging: “bring to maturity”. Hoe laat Hy dit gebeur? Deur oordeel! Die verlore seun het nie soos ‘n seun opgetree nie, het dus nie na ‘n ware seun geaard nie, tóg was hy onteenseglik ‘n seun. As die seun tot sy sinne kom, sê die vader van hom: “Want hierdie seun van my was dood en het weer lewendig geword; en hy was verlore en is gevind.” (Luk. 15:24). God se begeerte is dat ons die goddelike natuur (2 Pet. 1:4) van sy Seun Jesus sal hê. Die Murdock-vertaling van Heb 2:11 stel dit pragtig: “For he that sanctifieth, and they who are sanctified, are all of one [nature]. Therefore he is not ashamed to call them brethren …”

In Heb. 12:4-11 word dan uitgespel hoe hierdie oordeel van God in die lewens van sy seuns plaasvind – deur tugtiging: “Julle het nog nie ten bloede toe weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie. En julle het die vermaning heeltemal vergeet wat tot julle as seuns spreek: My seun, ag die tugtiging van die Here nie gering nie en beswyk nie as jy deur Hom bestraf word nie; want die Here tugtig hom wat Hy liefhet, en Hy kasty elke seun wat Hy aanneem. As julle die tugtiging verdra, behandel God julle as seuns; want watter seun is daar wat die vader nie tugtig nie? Maar as julle sonder tugtiging is, wat almal deelagtig geword het, dan is julle onegte kinders en nie seuns nie. Verder, ons het ons vaders na die vlees as kastyders gehad, en ons het vir hulle ontsag gehad; moet ons nie veel meer aan die Vader van die geeste onderworpe wees en lewe nie? Want húlle het ons wel ‘n kort tydjie na hulle beste wete getugtig; maar Hy tot ons beswil, sodat ons sy heiligheid kan deelagtig word. Nou lyk elke tugtiging of dit op die oomblik nie ‘n saak van blydskap is nie, maar van droefheid; later lewer dit egter ‘n vredevolle vrug van geregtigheid vir die wat daardeur geoefen is.”

Dit is ontsaglik belangrik om te weet dat jy nie ‘n onegte seun is nie, maar ‘n ware seun. In 1 Kor. 11:31-32 maak Paulus die proses absoluut duidelik: “Want as ons onsself beoordeel het, sou ons nie geoordeel word nie. Maar as ons geoordeel word, word ons deur die Here getugtig, sodat ons nie saam met die wêreld veroordeel mag word nie.” Die oordeel van die seuns van God en die tugtiging van die seuns is dieselfde ding.

Let wel daarop dat hier baie pertinent gestel word dat die wêreld veroordeel word. As ‘n mens dít nou saamlees met Hand. 17:31, waar Paulus uitspel: “Hy ‘n dag bepaal het waarop Hy die wêreld in geregtigheid sal oordeel deur ‘n Man wat Hy aangestel het”. Tog sê Jesus onomwonde in Joh. 12:47: “Ek het nie gekom om die wêreld te oordeel nie.” Maar Joh. 5:22  stel dit dan: “Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee …”, wat sou dit beteken?! Die KORPORATIEWE SEUN, Jesus die Christus, sal die wêreld oordeel. Paulus stipuleer dit in 1 Kor. 6:2-3: “Weet julle nie dat die heiliges die wêreld sal oordeel nie? En as die wêreld deur julle geoordeel word, is julle dan onbevoeg vir die geringste regsake? Weet julle nie dat ons engele sal oordeel nie, hoeveel te meer die alledaagse dinge?” Dit is die Christus wat die wêreld en sy sisteme sal oordeel.

‘n Volgende vraagstuk wat dan na vore tree. In die Saligpredikinge van Jesus stel Hy dit onomwonde: “Moenie oordeel nie, sodat julle nie geoordeel word nie.” (Matt. 7:1). Die seuns van God loop nie rond en oordeel links en regs mense nie, nee. Ons moet ons rol in die oordeel baie mooi verstaan. Heb. 11:7 verduidelik dit aan die hand van die geloofsheld Noag soos volg: “Deur die geloof het Noag, toe hy ‘n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en ‘n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is.” Noag het die wêreld veroordeel bloot deur in sy skeppingsdoel en roeping te loop – deur sodoende die standaard te word van “‘n volwasse man, tot die mate van die volle grootte van Christus”. Hierdie is ‘n ontsagwekkende waarheid wat jy moet vasmaak.

In die lig van al bogenoemde, is dit absoluut duidelik waarom 1 Pet. 4:17 dit stel: “die oordeel moet begin by die huis van God”, en dit geskied deur die tugtiging van jou as egte seun.

  • Sela: Wat is jou gesindheid teenoor tugtiging van die Here?
  • Lees: 1 Kron. 3-8
  • Memoriseer: 1 Kron. 6:32 (Wat sou die woordjie “ordening” tipologies beteken in die lig van 2 Tim. 2:20?.)
  • Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Uit Sion sal die Wet uitgaan.