Dag 1334

 

“die begin van die prediking aangaande Christus …”

(Heb. 6:1, OAV)

 

Rondom Manna Dag 1259 het ons begin met die subreeks oor die korporatiewe gees van Serubbábel. Op ‘n ekstensiewe wyse is sestien kenmerke tot dusver van hierdie korporatiewe mantel ondersoek. Die sestiende kensketsing het vanaf Manna Dag 1286 ‘n aanvang geneem en wye draaie gemaak oor belangrike doktriniese onderwerpe soos die misverstaan van die duisendjarige vrederyk en wat dit beteken om saam met Christus te regeer, asook die sogenaamde wittroonoordeel. 1 Pet. 4:17 het in die laaste Mannas sentraal gestaan, naamlik  dat die oordeel moet begin by die huis van God. Dit het ons gelei tot die belangrike openbaring naamlik dat daardie oordeel die tugtiging van die seuns van God is wat hul spesifiek daardeur die goddelike natuur laat verwerf en in heerlikheid laat voortbestaan. Dit is afgesluit met die ‘n Nuwe-Testamentiese perspektief op hoe ons as die seuns van God se ingesteldheid en verstaan moet wees van oordeel uit God se perspektief.

In die laaste Manna is 1 Joh. 2:18 se verdeling van gelowiges as kinders, seuns en vaders verduidelik, en dit het gelei tot ‘n breëkwashaal-oorsig oor die drie dimensies, ‘n onderwerp wat altyd algaande verruim soos jou openbaringskennis groei.

Maar die laaste Manna was spesifiek om ‘n laaste punt te maak oor die sogenaamde mitiese “laaste uur” waarvan in 1 Joh. 2:18 gepraat word – “Kinders, dit is die laaste uur; en soos julle gehoor het dat die Antichris kom, bestaan daar ook nou baie antichriste, waaruit ons weet dat dit die laaste uur is.” As die “kinders” aangespreek word, het ons nou ‘n baie beter kontekstuele verstaan van wie mee gepraat word – dit is nie die seuns of die vaders nie, maar die jongelinge in die geloof! Vir HULLE word uitgespel – dit is nou die laaste uur! ‘n Mens is amper verstom hieroor, en dan besef jy dat godsdiens het só lank openbaringskennis van ons weggehou, dat Heb. 5:12 vir die meeste van ons helaas waar is: “Want hoewel julle vanweë die tyd leraars behoort te wees, het julle weer nodig dat ‘n mens julle die eerste beginsels van die woorde van God moet leer, en julle het weer behoefte aan melk en nie aan vaste spys nie.”

Die kinders moet hierdie eerste beginsel van die geloof leer: die groot verdrukking is nou, die antichris is nou, die oordeel is nou, die wederkoms is nou, die ewigheid is nou, vandag as ek gehoorsaam is aan Sy stem. Die laaste op die lysie van Heb 6:1-2 wat “die begin van die prediking aangaande Christus” uitspel, wat ‘n blote fondament is waar ons nié by moet bly vassteek nie, “maar na die volmaaktheid voortgaan sonder om weer die fondament te lê”, is hierdie twee: “die opstanding van die dode en … die ewige oordeel”. Die geestelik onmondige kind moet reeds hierdie basiese openbaring verstaan en dit leef. Sela.

  • Sela: Besef wat godsdienstige pamperlang aan ons en ons kinders doen.
  • Lees: 1 Kron. 18-20
  • Memoriseer: 1 Kron. 20:6 (wat sou die tipologie hier beteken?)
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Die Eindtyd – Feit en Verdigsel