Dag 1335-1336

 

“to execute His purpose by having a common purpose”

(Op. 17:17, NASB)

Ons is eintlik ‘n geruimte tyd reeds besig met die sewentiende wonderwerkende eienskap van die korporatiewe gees of mantel van Serubbábel. In Sag. 6:13 sê die profeet: “Ja, Hy sal die tempel van die HERE bou, en Hy sal majesteit verkry en sit en heers op sy troon; ook sal Hy ‘n priester wees op sy troon …” Ons het verweefd in vorige Mannas die heerskappy op die troon verduidelik wat hierdie korporatiewe mantel meebring. Fausset’s Bible Dictionary sê oor bostaande vers: “Finally Messiah (Christ) combined …  in Himself the Antitype …” Anders gestel: Serubbábel is die prototipe van (die) Christus. As dit dan van Jesus, “die Koning van die eeue” (1 Tim. 1:17) en “die Koning van die konings” (Op. 17:14) waar is dat “Hy sal majesteit verkry en sit en heers op sy troon”, is dit eweneens waar van die Christus! Open. 20:4, waar ons nou reeds lank by stil gestaan het, praat dan nie verniet nie van trone: “En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.”

Die korporatiewe gees of mantel van Serubbábel stel jou in staat om te heers. Nou.

Uiteraard weet ons aan Hom behoort die heerskappy (Ef. 1:21), of soos Ps. 103:19 dit mooi sê: “Die HERE het sy troon in die hemel gevestig, en sy koninkryk heers oor alles.” Inderdaad: “die heerskappy is op sy skouer” (Jes. 9:6), en vermeerder (vers 7) voortdurend. Maar aan die geestelike lyn van Dawid het God belowe: “dan sal Ek die troon van jou koningskap bevestig, soos Ek dit jou vader Dawid beloof het deur te sê: Daar sal vir jou nooit ‘n man ontbreek wat in Israel sal heers nie.” (2 Kron. 7:18). Daarom, soos Spr. 8:16 dit stel, heers die konings van die aarde deur Hom!

Dit is baie interessant dat die profetiese boek Daniël meer verwysings na heerskappy het as enige ander boek! Die rede daarvoor is dat hierdie apokaliptiese boek reeds die Bruid se heerskappy in die vooruitsig stel. Ons gee net drie van die 20 verse wat hieroor handel:

  • “Maar in die dae van dié konings sal die God van die hemel ‘n koninkryk verwek wat in ewigheid nie vernietig sal word nie, en die heerskappy daarvan sal aan geen ander volk oorgelaat word nie; dit sal al daardie koninkryke verbrysel en daar ‘n einde aan maak, maar self sal dit vir ewig bestaan—“ (Dan. 2:44)
  • “En aan Hom is gegee heerskappy en eer en koningskap; en al die volke en nasies en tale het Hom vereer; sy heerskappy is ‘n ewige heerskappy wat nie sal vergaan nie, en sy koninkryk een wat nie vernietig sal word nie.” (Dan. 7:14)
  • “Dan word die koningskap en die heerskappy en die grootheid van die koninkryke onder die ganse hemel gegee aan die volk van die heiliges van die Allerhoogste; hulle koninkryk is ‘n ewige koninkryk, en al die heerskappye sal hulle vereer en gehoorsaam wees.” (Dan. 7:27)

 

Maar – die Bruid weet helaas dikwels nie waaroor sy geroep is om te heers nie. Haar verweer is dikwels nes dié van Gideon: “Ek wil nie oor julle heers nie, en ook my seun mag nie oor julle heers nie: die HERE sal oor julle heers.” (Rigt. 8:23). Saam met Paulus in 1 Kor. 4:8 wil mens uitroep: “Het julle tog maar geheers, sodat ons saam met julle kon heers!” Op. 5:10 konstateer egter God se onveranderlike edik: “en (Hy) het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers”. Sonder omhaal van woorde, eksplisiet, só.

Volgens die Skrifte is die mens, en by uitstek die Bruid, geroep om te heers oor die volgende:

  • Die mens moet “heers oor die visse van die see en die voëls van die hemel en die vee en oor die hele aarde en oor al die diere wat op die aarde kruip.” (Gen. 1:26 en herhaal in 28)
  • “die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers” (Gen. 4:7)
  • “jy sal oor baie nasies heers, maar oor jou sal hulle nie heers nie” (Deut. 15:6)
  • “U laat hom heers oor die werke van u hande; U het alles onder sy voete gestel” (Ps. 8:6)
  • “U magtige septer sal die HERE uitstrek uit Sion en sê: Heers te midde van u vyande.” (Ps. 110:2)

Interessant dat al die voorbeelde hierbo wat die domeine van heerskappy eksplisiet uitspel, Ou-Testamenties en derhalwe profeties is. Maar die laaste Skrif uit die Psalms spel uit die septer word uitgesteek uit SION, die Bruid van Christus! Wat was dan in die nuwe verbond die vervulling van dit waaroor geheers moet word? Weliswaar weet ons het God dit ook soos die “hulle” dit ook in ONS “harte gegee om sy bedoeling uit te voer, en een bedoeling te hê” (Op. 17:17). Die kruks van die antwoord setel in wat hierdie “een bedoeling” tog kan wees? Die frase “een bedoeling” word in ander vertalings voorgehou as “one purpose” (HCSB) of “with one consent’ (TYN), “to act with one mind” (MKJV), “to carry out a common purpose” (WNT), “to perform one and the same purpose” (WORNT), maar die heel beste vertaling is: “to execute His purpose by having a common purpose” (NASB)!

‘n Gelowige sal baie bedoelings of redes kan aanbied waarom Jesus aarde toe moes kom, waar onder bes moontlik die volgende:

  • “die Seun van die mens (het) gekom om … sy lewe te gee as ‘n losprys vir baie” (Matt. 20:28);
  • “die Seun van die mens het gekom om te soek en te red wat verlore is” (Luk. 19:10), of:
  • “die Seun van God (het) gekom en ons verstand gegee om die Waaragtige te ken” (1 Joh. 5:20). Dit alles is waar, maar alles in ag genome, is die volgende uitspraak van Jesus die simbolies oorkoepelende alles-insluitende hoofdoel van sy koms na die aarde:
  • “Ek het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens Ek dat dit al aangesteek was!” (Luk. 12:49).

In vorige Mannas, Dag 661-771, is daar uitvoerig geskryf oor die transmutasie van God as verterende vuur (Heb. 12:29) – daar is verduidelik wat hierdie proses alles behels en wat die doel van Jesus se koms is, asook ONS beslaggewing aan die vuur van God sodat ons in staat is “to execute His purpose by having a common purpose”. Sódoende regeer jy op ‘n praktiese wyse.

  • Sela: Maak vir jouself weer vas presies wat die transmutasie van vuur beteken.
  • Lees: 1 Kron. 21-26
  • Memoriseer: 1 Kron. 21:24 (wat sou die tipologie hier beteken?)
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Ian Bouwer: Seun van Sy Regterhand, sit en Regeer in die

Vuur