“Ek sal jou die kroon van die lewe gee.”
(Op. 2:10, OAV)
Die sewentiende kenmerk van die korporatiewe gees of mantel van Serubbábel is só in die vorige Manna uitgespel: Die korporatiewe gees of mantel van Serubbábel stel jou in staat om te heers. Nóú. Maar ons het ook gesê die Bruid weet helaas dikwels nie waaroor sy geroep is om te heers nie. Op soek na ‘n antwoord hierop het ons gaan draai by die primêre doel waarvoor Jesus na die aarde toe gekom het, en wat derhalwe ook alle gelowiges se doel dan word, “to execute His purpose by having a common purpose” (Op. 17:17, NASB). Ons het ook Luk. 12:49 voorgehou as die ‘vreemde’ maar fassinerende formulering van hierdie “doel”: “Ek het gekom om vuur op die aarde te werp, en hoe wens Ek dat dit al aangesteek was!” (Luk. 12:49). Die transmutasie van God as verterende vuur (Heb. 12:29) in en deur ons as Bruid is waardeur ons heers, met ander woorde ONS beslaggewing aan die vuur van God, sodat ons in staat is “to execute His purpose by having a common purpose”.
Tog klink dit nog teoreties. In hierdie Manna wil ons dit bietjie meer verpraktiseer.
Die mens verkry die kiemsel van ‘n goddelike natuur deur wedergeboorte. Ons word immers volgens 1 Pet. 1:23 “wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord van God wat tot in ewigheid bly”. Dit beteken dat elke wedergeborene die Divine Natural Attributes (my definisie van DNA) reeds dan in potensie of kiemselvorm of matriks verkry. Deur die werking van die Gees (wat die wesensaard van God, naamlik vuur, verdiskonteer), word hierdie natuur ontwikkel totdat jy uiteindelik die einddoel van jou geloof, die saligheid van jou siel (1 Pet. 1:9), verkry. Soos wat die wedergeborene onder leiding van die geestelike vuur en vlam (1 Thes. 1:8) alle dinge met God versoen deur die inspraak van die Heilige Gees en die uitoefening van hulle roeping, word aan hul outoriteit gegee om met Goddelike sanksionering hul deel te doen totdat die oorkoepelende doel: “om alle dinge wat in die hemele sowel as wat op die aarde is, onder een hoof in Christus te verenig” (Ef. 1:10) uiteindelik gebeur. In die fusion van mens en God skuil oneindige krag, “the immeasurable and unlimited and surpassing greatness of His power” (Ef. 1:19, Amp), of soos die Message dit mooi stel: “oh, the utter extravagance of his work in us who trust him–endless energy, boundless strength!”
In Manna 663-664 is hierdie proses in detail verduidelik, en om jou geheue te verfris, gee ons dit in breë trekke weer: As ons sê dat God tydelik kan transmuteer, beteken dit dat Hy deur enigiets tydelik kan manifesteer (of verskyn), met ander woorde aspekte van sy ontologie (wesenseienskappe) kan vertoon sonder dat Hy daardie wesenseienskap verloor, en sonder dat die ding sý wesenlike ontologie (as vuur of donkie) verloor. Die klem lê op die tydelike manifestasie, en dat wanneer dit gebeur, die ding nie sy ontologiese status van dinglikheid verloor nie (dit wil sê donkie bly donkie en vuur bly vuur), maar wel dat in die teofaniese transmutasie hul eienskappe verkry wat hul eie transendensie oorskry. Transendensie beteken dít wat verder strek as jou sintuiglike verstaan, dit wat die grense van jou werklikheidservaring oorskry.
1 Kor 3:13 verklap hierdie ontsagwekkende waarheid: “dit (sal) deur vuur openbaar gemaak word; en die vuur sal elkeen se werk op die proef stel”. Die meeste streng vertalings sê: “it shall be revealed in fire” (DRB, LITV, NJB, YLT). Die woordjie “openbaar” is in Grieks apokalupto, “taking off the cover”, revealing what is unreality and what is truth/reality in die gelowige. Soos Jes. 29:6 dit mooi sê: “Vanweë die HERE van die leërskare sal jy in genade besoek word, met … die vlam van ‘n verterende vuur.”
In hierdie onsigbare vuur van God se vuurvlamme, sy boodskappers (Ps. 104:4) – ons – soos hul gehoorsaam is aan sy Stem, en doen wat Hy hul voor geroep het, word alles met God versoen. Dít is hoe ons heers. Paulus noem dit in 2 Kor. 5:18 dat God ons só “die bediening van die versoening gegee” het. Kol. 1:19-20: “Want dit het die Vader behaag dat in Hom die ganse volheid sou woon en dat Hy deur Hom alles met Homself sou versoen …”
Jy heers dus deur alles met God te versoen – soos Hy jou in en deur jou roeping rig.
En nou – vir die tweede deel van die lering. Die koninklike kroon is deur die eeue die universele simbool van heerskappy wat die mens betref. Wikipedia sê byvoorbeeld: “In the Christian tradition of European cultures, where ecclesiastical sanction authenticates monarchic power, when a new monarch assumes the throne in a coronation ceremony, the crown is placed on the new monarch’s head by a religious official.” Die gebruik word byvoorbeeld mooi geïllustreer deur byvoorbeeld 2 Kon. 11:12 – “Daarna het hy die seun van die koning uitgebring en aan hom die kroon en die Getuienis oorgegee; en hulle het hom koning gemaak en hom gesalf en met die hande geklap en gesê: Mag die koning lewe!”
Die woordjie ‘kroon’ kom van die Hebreeuse woord nezar af, en beteken benewens “kroon”, volgens BDB, ook “consecration, separation, Nazariteship”. Die Bybelse konsep van Nasireërskap word verduidelik in Num. 6:1-21 en handel oor ‘n gelofte van streng afsondering vir God se doel. Simson en Johannes die Doper, byvoorbeeld, was Nasireërs. Dit is geweldig interessant dat die dra van ‘n kroon insgelyks impliseer dat die persoon homself vir God se doel afgesonder het!
Dit is eweneens interessant dat die heel eerste keer wat ‘n woord wat ook vir kroon gebruik word in die Bybel voorkom, dit te make het met ‘n hoëpriester, in Eks. 29:6. In ‘n latere vers word hierdie kroon in groter detail verduidelik: “Hulle het ook die plaat van die heilige kroon van suiwer goud gemaak en daarop geskrywe met letters soos dit op ‘n seëlsteen uitgesny word: HEILIG AAN DIE HERE.” (Eks. 39:30).
In Jes. 23:8 word koning Tirus genoem: “Tirus, die uitdeler van krone”. Die betekenis van Tirus se naam is “a rock” (BDB)! Ons weet dat Christus in 1 Kor. 10:4 die rots genoem word. Met ander woorde – Jesus bou sy gemeente op die openbaring van wie die Christus is (Matt. 16:18). Die Christus-salwing deel die krone uit! Wat ‘n pragtige tipologie is hierdie nie!
In die Nuwe Testamentiese realiteit is die kroon helaas nie meer ‘n fisiese ideaal as daar geestelik daaroor gepraat word nie. Die Ou Pinksterliedjie: “ Ons gaan krone dra! Ons gaan krone dra! As Jesus eendag terugkom, gaan ons krone dra!” hou ongelukkig ‘n vals prentjie voor as daarmee regtige krone bedoel word! Die volgende nuweverbondse Skrif, Fil. 4:1, heg ‘n totaal ander betekenis daaraan: “Daarom, my geliefde broeders, na wie ek ook verlang, my blydskap en kroon, staan so vas in die Here, geliefdes.” Sy geliefde broeders wat vasstaan in die Here is Paulus se kroon! Hy gaan hulle bepaald nie op sy kop sit nie!
Met dit as verwysing is dit belangrik om die volgende logiese verband te lê – ‘n kroon word altyd op ‘n hoof geplaas, en die salwing van konings en/of priesters vind altyd ook plaas op die hoof (Ps. 133:2). Inaggenome dan dat die hele geskiedenis van die Jode deur sewentig profetiese weke opgebou het “tot op ‘n Gesalfde” (Dan. 9:25), en dat daardie profesie tot die letter, dag en datum vervul is met die steniging van Stéfanus (Hand. 7:59), wie se naam beteken: kroon! (Thayer), en dat soos daar uitvoerig verduidelik is in Tom Gouws se boek: Die Eindtydmites oor Israel beroof jou geestelike identiteit en erfdeel dit eintlik die nuwe verbond waarlik ingelei het, was dit verseker ook die tyd van die eerste historiese manifestasie van die Christus! Sela.
‘n Kroon dui met ander woorde absoluut duidelik as simbool ook op die salwing van die Gesalfde, Christus! ‘n Mens sou selfs Gal. 3:27 kan gebruik om te sê dat met die doping in Christus jy geestelik “die kroon van heerlikheid” (1 Pet. 5:4), die kroon van die derde dimensie, of die kroon van die Bruid, ontvang: “julle almal wat in Christus gedoop is, het julle met Christus beklee”!
Die vraag is nou – wanneer ontvang jy hierdie kroon? Uit bogenoemde is dit onteenseglik so dat wanneer jy die doping in Christus ontvang, kry jy die kroon van koningskap om te kan heers. Maar lees ‘n mens 2 Tim. 4:8 Paulus se woorde aan sy geestelike seun, Timoteus: “vir my (is) weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee; en nie aan my alleen nie, maar ook aan almal wat sy verskyning liefgehad het”, klink dit asof dit eers ééndag gaan wees, veral omdat Paulus in hierdie konteks die indruk skep dat hy besef dat hy naby aan sy sterfdag is: “die tyd van my heengaan is naby. Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig …” (2 Tim. 4:6-7). In hierdie konteks lyk dit of hy eers die kroon “in dié dag” (oënskynlik van sy sterfte) sal vind.
Die woordjie “verskyning” in 2 Tim. 4:8 is egter hier die sleutel – Paulus sê: nié net hy gaan die kroon van geregtigheid ontvang nie, maar ook “almal wat sy verskyning liefgehad het”. Die Griekse woordjie vir verskyning is epiphaneia, wat beteken “an appearing, appearance”. Let asseblief daarop – dit is nie die sogenaamde eenmalige wederkoms wat mense verwag teen die einde van die tye nie; dit is verskeie verskynings waarbinne Jesus Hom manifesteer! ‘n Paar verse voor dié een, in vers 1, staan die woordjie verskyning ook: “Ek besweer jou dan voor God en die Here Jesus Christus, wat die lewende en die dode sal oordeel by sy verskyning en sy koninkryk …” Skielik klink dit al hoe meer na gebeurtenisse wat eers teen die einde, wanneer die oordeel is, sal plaasvind. Die Accurate New Testament vertaal hierdie moeilik-leesbare frase soos volg: “the appearance [of] him and the kingdom [of] him”.
En dan is die belangrike vraag – wanneer presies verskyn die koninkryk en waar, want Jesus se verskynings word binne dieselfde asem genoem as die verskyning van sy koninkryk? In Luk. 17:20-21 stel Jesus dit onomwonde: “Die koninkryk van God kom nie met sigbare tekens nie. Die koninkryk van God is binne-in julle …”
Die allereerste Nuwe-Testamentiese verwysing na die begrip koninkryk kom reeds voor in Matt. 3:2 waarin Jesus sê “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.” In Matt. 4:23 reeds word “die evangelie van die koninkryk” verkondig. Wie gaan daar in? “(Wie) sal ingaan in die koninkryk van die hemele … hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.” (Matt. 7:21). Jesus verduidelik dan uitvoerig in menigvuldige gelykenisse “die verborgenhede van die koninkryk” (Matt. 13:11). Gaan kyk, asseblief – elke gelykenis begin bykans met die retoriese frase: “Die koninkryk van die hemele is soos …” Die gelykenisse as ‘n tipering van die epiek word spesifiek hier ingespan om die ontwykende, moeilik-vaspenbare wesensaard van die koms van die koninkryk IN jou te probeer weergee. John Dominic Crossan, in sy boek oor die gelykenisse: The Dark Interval: Towards a Theology of Story, noem byvoorbeeld hierdie literêre stylaanbod van Jesus ‘n doelbewuste “inarticulateness”, vol “incertitude and indeterminacy”, “transient moments of subversion”. En dit is absoluut só.
Terug by 2 Tim. 4:1 – soos die koninkryk nou reeds kom, en ook in ons kom, is Jesus se verskynings! ‘n Sleutelteks hier is Matt. 16:28 – “Voorwaar Ek sê vir julle, daar is sommige van die wat hier staan, wat die dood sekerlik nie sal smaak voordat hulle die Seun van die mens in sy koninkryk sien kom het nie.” Hieruit is dit duidelik dat Paulus in 2 Tim. 4:1 & 8, as hy die woordjie verskyning(s) gebruik, en dit in verband bring met die kroon wat die gehoorsame gelowige nou reeds ontvang, hy dit onteenseglik bedoel as ‘n geleentheid van die nou, vandag!
- Sela: Gaan lees deur die gelykenisse in Matthéüs en probeer ‘n dieper verstaan kry van die koninkryk.
- Lees: 1 Kron. 27-29; 2 Kron. 1-6
- Memoriseer: 1 Kron. 28:7 (hoe mooi sluit die tipologie hier aan!)
- Delf dieper: Lees die boek van Crossan hierbo, maar asseblief met onderskeiding.