Dag 1343-1345

 

“om sy Seun in my te openbaar”

 (Gal. 1:16, OAV)

Ons is besig met die negentiende onderskeidende kenmerk van die korporatiewe gees of mantel van Serubbábel, naamlik dit wat in Sag. 4:10 só voorgehou word – “Want wie verag die dag van klein dinge …”

Mark. 4 is ‘n merkwaardige hoofstuk in die Bybel. Dit hou ‘n geleentheid voor waar Jesus deur twee spesifieke gelykenisse die skare geleer het. Die eerste gelykenis is uitgesponne, ‘n baie bekende verhaal, en die tweede gelykenis is net ‘n kort toeligtende verhaal ter lering en stigitng.

Vers 1 noem dat “‘n groot menigte”, ‘n “hele skare”, rondom Hom versamel het. Vers 2 spel uit: “En Hy het hulle baie dinge geleer deur gelykenisse …” Alles wat vooropgestel word, dui op vermeerdering. Boonop handel albei die gelykenisse oor saad, ‘n prototipiese “dingetjie” wat eweneens die ingeboude potensiaal van grootse vermeerdering besit.

Die bekende gelykenis van die saaier wat vanaf vers 3 vertel word, handel oor wat met die kommoditeit saad gebeur as dit in verskillende soorte aarde val. Vier scenario’s word uitgespel, met later in die hoofstuk die verklaring daarvoor. Ter vergelyking dan:

 

1 ‘n deel langs die pad geval (dus verkeerde grond) die voëls van die hemel het gekom en dit opgeëet sodra hulle dit gehoor het, kom die Satan dadelik en neem die woord weg wat in hulle harte gesaai is
2 ‘n ander deel het op ‘n rotsagtige plek geval waar dit nie baie grond gehad het nie (dus te min grond) dadelik het dit opgekom, maar omdat dit geen diepte van grond gehad het nie, toe die son opgaan, is dit verskroei; en omdat dit geen wortel gehad het nie, het dit verdroog wat, as hulle die woord hoor, dit dadelik met blydskap aanneem, maar geen wortel in hulleself het nie; hulle is net vir ‘n tyd. Later as daar verdrukking of vervolging kom ter wille van die woord, struikel hulle dadelik
3 ‘n ander deel het in die dorings geval (dus grond vermeng met allerlei faktore wat die saad nie tot volle potensiaal laat kom nie) die dorings het opgekom en dit verstik; en dit het geen vrug opgelewer nie dit is hulle wat die woord hoor, en die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die begeerlikhede in verband met die ander dinge kom in en verstik die woord, en dit word onvrugbaar
4 ‘n ander deel het in die goeie grond geval (grond wat die optimale oes tot wasdom kan bring) dit het vrug opgelewer; want dit het opgekom, en gegroei, en dit het gedra: een dertig— en een sestig— en een honderdvoudig. dit is hulle by wie in die goeie grond gesaai is—hulle wat die woord hoor en aanneem en vrugte dra: een dertig— en een sestig— en een honderdvoudig

 

Daar is dus vier soorte grond wat simbolies in die mensdom voorkom. Baker’s New Testament Commentary maak hierdie gelykstelling: “The ‘ground’ or ‘soil’ upon which the seed falls is clearly man’s heart …”, dus is dit vier soorte harte waarin gesaai word en vier verskillende prosesse waaraan daardie saad uitgelewer is:

 

 

1 ‘n verharde en ontoeganklike hart satan roof alle saad
2 ‘n ontvanklike hart, maar sonder die deursettingsvermoë en vasberadenheid om deur te druk verdrukking, vervolging of teenstand roof die saad
3 ‘n ontvanklike hart wat met blydskap die waarheid aanneem, maar toelaat dat verskeie ander lewensrealiteite die saad onvrugbaar maak die sorge van hierdie wêreld en die verleiding van die rykdom en die begeerlikhede van die lewe roof die saad
4 ‘n ontvanklike hart wat groei moontlik maak geen saad word geroof nie omdat niks van bogenoemde ‘n rol speel in jou lewe nie

 

Jy besit dus een van bogenoemde harte, en dit is belangrik om te bepaal waar die struikelblok is wat jou verhoed dat jy die saad of “small beginning”, of dan “small opportunity”, mis.

Mark. 4:14 verduidelik die saad as “die woord”, hier dan die Griekse woordjie logos. Ons weet dat Logos volgens Joh. 1:1 onteenseglik dui op Jesus, die Seun van God. Om die een of ander rede wil ons altyd Jesus as Logos gelykstel aan die Woord van God, of die Bybel, en daarom verwag ons dat dit nét Bybelverse is wat as saad in ons lewe gesaai word. Dit is ook dit, maar nie nét dit nie – só ’n beskouing vereng die konsep geweldig. Onthou jy Jesus se woorde in Joh. 5:39 – “Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig.”

Desnieteenstaande die konvensionele betekenisverklaring van die woordjie logos as “woord” , is dit nie noodwendig ‘n woord in die grammatiese sin nie, dáárvoor is tradisioneel die Griekse term lexis (λέξις) eerder gebruik. Let wel daarop dat beide logos en lexis afgelei is van dieselfde wortelwerkwoord: legō (λέγω), wat beteken “to count, tell, say, speak” (Henry G. Liddell & Robert Scott: An Intermediate Greek–English Lexicon).

In sy boek, New Testament Theology, verduidelik Frank Stagg: “The Logos is God active in creation, revelation, and redemption.” Dat dit nié streng gesproke spesifiek God die Vader is nie, maar Jesus as God, is duidelik uit Joh. 1:2 – “Hy was in die begin by God.” Maar ons weet ook “die Woord WAS God”, maar ook “BY God”. Logos is met ander woorde ‘n aktiewe kreatiewe beginsel/krag/wesensaard van God wat dinge laat ontstaan of tot stand bring of tot realisering bring (Joh. 1:3) buite God en só aan Sy wesensaard beslag gee. Dit is in die Woord se wesensaard dat dit sigself vermeerder.

Logos is duidelik ook die personifikasie van die openbaring van God se wesensaard – Joh. 1:18 maak dít duidelik: “Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar.” Die Logos is “that One explained” (Analytical-Literal Translation), “that reveals {Him}” (Accurate New Testament). Die Logos is “one-of-a-kind God-Expression” (MSG).

In sy Word Studies in the New Testament (vol. 2, pp. 25) maak Marvin R. Vincent die volgende belangrike uitspraak oor logos: “This expression is the keynote and theme of the entire gospel. Λόγος is from the root λεγ, appearing in λεγω, the primitive meaning of which is to lay: then, to pick out, gather, pick up: hence to gather or put words together, and so, to speak.”

Tradisionele eksegese knoop die woordjie logos (ook die woordjie rhema) bloot aan “the act of speaking” (tref ook min onderskeid tussen die woorde), en dit is uiteraard uit die woordgeskiedenisse van hierdie twee woorde waar. Maar as Joh. 1 en 1 Joh. 1:1-2 die woord-geskiedenis van logos verruim TOT ‘N PERSOON, word Heb. 12:25 se waarskuwing aan die tradisionalistiese eksegete uiters belangrik: “Pas op dat julle Hom wat spreek, nie afwys nie …” Wat gespreek word, is nooit los te maak van die een/Een wat spreek nie. Joh. 1:1 se onteenseglike identifisering van dié Persoon, gee spesifieke nuwe betekenis en impetus aan die begrip Logos, anders as wat al die filosowe vóór Jesus (Heraklitus, Aristoteles en veral Philo van Alexandrië) daaraan gekoppel het.

Logos is met ander woorde die ganse totaal van ‘n uiting, weliswaar dié uiting, die totaliteit van kundig verpakte woorde, uitgekies en byeengebring en sinryk naasmekaar gelê, nes ‘n digter wat sekere betekenisvolle woorde kies en in ‘n bepaalde komposisie byeenbring om die maksimum daarmee te sê.

Die Logos is dus die Total Utterance wat bestaan uit uitverkose Smaller Utterances. Die Logos het vermeerder tot rhema (Joh. 6:48-58; 1 Kor. 12:12). Hierdie Smaller Utterances kan met ‘n ander woord in Grieks vir die woordjie woord beskryf word, naamlik rhema.

Net soos Logos verkeerdelik verabsoluteer word deur dit net te knoop aan die Skrifte, is veral die Charismatiese en Pinkstergroepe se verduideliking (onder oorspronklike leiding van Kenneth E. Hagin, byvoorbeeld in sy boekie The Believer’s Authority) van die begrip ‘rhema’ nie korrek nie. Hulle verstaan rhema as die openbaring wat die leser kry deur die Heilige Gees as die Woord (Logos) gelees word, en dit dikwels ‘n persoonlike toepassing vir hom/haar verkry, of soos Hagin dit stel: “Rhema is a specific word from God to a specific person at a specific time.” Hierdie verstaan van ‘n sentrale Bybelse begrippepaar is foutief, soos die webwerf http://williamdicks.blogspot.com/2006/02/rhema-vs-logos.html dan ook uitwys: “The claim is that rhema does not refer to the Bible like logos does, but to a fresh word from the mouth of God.” In sy boek The Ultimate Evidence: Rethinking the Evidence Issues for Spirit-baptism formuleer Larry Vern Newman  dit soos volg: “The concept referred to here is that God speaks a now word to an individual that provides that person with a new understanding …” (p. 54).

Alhoewel dit wel moontlik is dat God ‘n persoonlike interpretasie kan gee aan ‘n Skrifgedeelte wat eksegeties gewoonlik anders of op ‘n spesifieke wyse in ‘n bepaalde konteks gelees word, is dit geensins ‘n geval van ‘n rhema-woord nie, en is dit ‘n foutiewe interpretasie van die woordjie rhema, soos James T. Draper & Kenneth Keathley uitvoerig uitwys in hul boek Biblical Authority (p. 113), ook John F. MacArthur in sy Charismatic Chaos (pp. 45–46).

Op die webwerf https://rhemashope.wordpress.com/the-rhema-word/ word rhema uit die Grieks raak voorgehou as “God’s Word revealed”, waar die laaste woordjie “revealed” in Grieks kom van apokaluptō, “uncover, make known, disclose what before was unknown, make manifest” (Thayer). Dit is God se oorheersende begeerte, volgens Gal. 1:16, “om sy Seun (Logos) in my (rhema) te openbaar”. In sy boek, Secrets of the Ascended Life, vat Kelley Varner dit pragtig saam: “We were chosen out of the Word, the Logos, before we were born (Eph. 1:4). Each of us is a rhema word from God, sent here to this planet on assignment. This is His will, plan and purpose, and our destiny.” (p. 76).

Die voorbeeld van ‘n woord in God se gedig ter illustrasie is met voorbedagte rade gekies, met Ef. 2:10 in die agterkop: “Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” Die woordjie “maaksel” is in Grieks poiēma, wat gedig, beteken. As Hy, Jesus, die Logos is, die gedig, is elkeen van sy Liggaam ‘n rhemawoord in God se gedig. Dit is daardie saad wat God in jou inplant met jou wedergeboorte – dié saad is die Christus-kiemsel, ‘n “small beginning”, wat vermeerder tot ‘n volledige Christus-identiteit.

  • Sela: Het jy al die Christus-saad as klein begin ontvang?
  • Lees: 2 Kron. 16-24
  • Memoriseer: 2 Kron. 17:12 (hoe sinchroniseer die “groter word” met dié lering!)
  • Delf dieper: Luister na die cd-lering van Tom Gouws: Ek is ‘n woord in God se gedig.