“saad, dit is Christus”
(Gal. 3:16, OAV)
Ons het die vorige Manna soos ‘n dramatiese sepie met ‘n cliff-hanger geëindig. Laat ons egter net weer die belangrikste laaste insigte rondom die saad, “dit is Christus” (Gal. 3:16), voorhou:
- Die “lewe van Jesus” word as ‘n geestelike saad in jou geplant met wedergeboorte en moet “in ons sterflike vlees openbaar kan word” (2 Kor. 4:10).
- In die (onverganklike) saad is ‘n geheime lewe waardeur die gelowige lewe. “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke (rhema)-woord wat deur die mond van God uitgaan.” (Matt. 4:4).
- Hierdie vermeerdering van Jesus se lewe IN die Christus is by verskillende mense verskillend, bes moontlik as gevolg van hul gehoorsaamheid.
- Dit is van groot belang dat hierdie saad se opbrengs gespesifiseer word as vrug. Vrug is voorts die maatstaf waaraan alle gelowiges geken, gemeet en geoordeel word.
- Die Vader word verheerlik deur die vrug wat die Liggaam van Christus dra.
- Hierdie “vrug van die Gees” (Gal. 5:22) is daar sodat die wêreld daarvan kan eet. Hieraan alleenlik word die “goddelike natuur” geken, naamlik dat die godsvrug “gevoeg word by die broederliefde en die naasteliefde” (2 Pet. 1:4-7).
- Die ganse wêreld eet, en leef, van die vrug van die Christus! Sela!
Die Manna is toe afgesluit met die volgende: die vrug is daar om te eet vir ander, maar met ‘n wonderbaarlike versweë doel …
In 2 Kor. 3:2 skryf Paulus: “Julle is ons brief, geskrywe in ons harte, geken en gelees deur alle mense …” Ons kan dit ook lees as: Julle is God se gedig … Hierdie brief of gedig van God, die Logos vol rhemawoorde, word die vrug wat deur alle mense, gelowig en ongelowig, geëet word, en wat hulle lewe in die gees bied. Hierdie ontsagwekkende mistieke waarheid is met ‘n aanverwante metafoor in Manna Dag 1130-1135 verduidelik (waarvan ons ons ter wille van duidelikheid ‘n paar paragrawe herhaal ter wille van konteks). Hier word die Brief of Gedig ‘n Brood genoem, wat verdeel word in verskeie brokkies (of dan woorde)!
In Joh. 6 is ‘n uitgebreide gesprek tussen Jesus en al sy volgelinge, en die goue draad dwarsdeur die gesprek is wát “die ware brood” (Joh. 6:32) is. Jesus bring ‘n duidelike kontras met die brood wat Hý kom bied, met die Ou-Testamentiese brood wat hul ken uit die tyd van Moses in die woestyn: “Ons vaders het die manna in die woestyn geëet, soos geskrywe is: Hy het brood uit die hemel aan hulle gegee om te eet. En Jesus sê vir hulle: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, dit is nie Moses wat die brood uit die hemel aan julle gegee het nie, maar my Vader gee julle die ware brood uit die hemel.” (Joh. 6:31-32).
WAT hierdie brood uit die hemel is, is absoluut hul identiteit, want die woordjie “manna” kom van die frase: “wat is dit?” (“means ‘What is it?’ BDB). ONS WEET NOG NIE WAT ONS GAAN WEES NA APOKALUPSIS, OPENBARING, UNVEILING, NIE. Ons is duidelik nog “verseël”. Die fisiese soet wafeltjie waaraan die Israeliete in die woestyn moes eet, is die teëbeeld, of tipe van die rhema-woorde van God.
Vanaf vers 32 begin Jesus in pynlike detail vir hulle te verduidelik dat Hy, Jesus, die Brood van die Lewe is – noem dit die “hele brood”, die Volheid, die Logos, die Total Utterance. Die skrywer J. Preston Eby, in sy artikel: ‘The Melchizedek Connection’ (http://www.sigler.org/eby/priest25.html), sê dit raak: “The Speech of God became the Son of God in human form.” Sela.
Jesus begin sy toehoorders al sensitiseer en leer dat Hy ook die Christus is, en bestaan uit ‘n menigvuldige ander stukkies manna, brokkies van die totale Brood (ja, twaalf mandjies vol outoriteit), die rhema-woorde, the small utterances making up the Total Utterance! En al verstaan hulle nie, vra hulle: “Here, gee ons altyd hierdie brood.” (Joh. 6:34), “at all times, always, ever” (Strong). In hierdie lig is dit nou absoluut duidelik wat Jesus in Matt. 4:4 gesê het: “Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.” En hierdie woorde, is rhema-woorde! En let wel: elke woord! Soos Jesus “uit die hemel neergedaal” (Joh. 6:38) het, daal die rhema-woorde eweneens uit die hemele, die geestelike realm, na die fisiese realm.
Dus, waarna verwys hierdie uitspraak? Voorberei deur twee wonderwerke in Joh. 6 is dit die absoluut perfekte tyd om een van die grootste verborgenhede van God en sy inkarnasie te verduidelik.
Die woordjie inkarnasie beteken volgens http://www.gotquestions.org/ bloot “the act of being made flesh”, terwyl die Merriam-Webster Dictionary dit meer geestelik toegespits definieer as “the embodiment of a deity or spirit in some earthly form”. Die term kom van die Latynse vertaling van Joh. 1:14 af: “die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon”. As gevolg van die byna eksklusiewe gebruik van die Latynse Vulgaat in die kerk van die Middeleeue het hierdie begrip redelik ingeburger geraak.
Hierdie proses van inkarnasie wat Jesus as God ondergaan het, word in 1 Tim. 3:16 “die verborgenheid van die godsaligheid” genoem – “God is geopenbaar in die vlees”. In Fil. 2:6-8 in die Message word hierdie inkarnasie baie mooi uitgespel: “He had equal status with God but didn’t think so much of himself that he had to cling to the advantages of that status no matter what. Not at all. When the time came, he set aside the privileges of deity and took on the status of a slave, became human! Having become human, he stayed human. It was an incredibly humbling process. He didn’t claim special privileges. Instead, he lived a selfless, obedient life and then died a selfless, obedient death–and the worst kind of death at that: a crucifixion.”
Die inkarnasie word tradisioneel in die Christelike tradisie bloot nét gekoppel aan die Seun, Jesus, wat God is (Joh. 10:30), wat mens geword het. Maar as ‘n mens terugkeer na 1 Tim. 3:16 hierbo, en die Skrif word in konteks gelees, is daar duidelik ook ‘n ander interpretasie moontlik. Verse 14 tot 16 van 1 Tim. 3, waar Paulus skryf aan sy geestelike seun Timótheüs, lees soos volg: “Ek skryf jou hierdie dinge in die hoop om gou na jou te kom. Maar as ek vertoef, dan kan jy weet hoe iemand hom moet gedra in die huis van God, wat die gemeente is van die lewende God, ‘n pilaar en grondslag van die waarheid. En, onteenseglik, die verborgenheid van die godsaligheid is groot: God is geopenbaar in die vlees, is geregverdig in die Gees, het verskyn aan engele, is verkondig onder die heidene, is geglo in die wêreld, is opgeneem in heerlikheid.”
Oor hierdie vers maak Albert Barnes in sy Notes on the Bible die volgende opmerking: “Probably there is no passage in the New Testament which has excited so much discussion among critics as this, and none in reference to which it is so difficult to determine the true reading.” Die Believers Bible Commentary spel dit ook uit: “This is a difficult verse. One difficulty is in discerning just how it fits in with what has preceded …” Maar dan maak verwater hy die absoluut duidelike implikasies deur aan te haal wat die teoloog J. N. Darby se (veilige) toegedane mening is: “This is often quoted and interpreted as if it spoke of the mystery of the Godhead, or the mystery of Christ’s Person. But it is the mystery of godliness, or the secret by which all real godliness is produced—the divine spring of all that can be called piety in man. … Godliness springs from the knowledge of the incarnation, death, resurrection and ascension of the Lord Jesus Christ. … This is how God is known; and from abiding in this flows godliness.”
As ‘n mens net vers 16 gewoonweg lees, klink dit absoluut gepas as dit toegepas word op Jesus as die Seun van God, wat dan ook die Seun van die mens geword het (laasgenoemde ‘n begrip wat 86 keer in die Nuwe Testament voorkom) – dit alles wat in die vers staan, is uiteraard van Hom waar. Maar die konteks maak hierdie voor-die-hand-liggende interpretasie helaas nie so eenvoudig nie. Paulus skryf aan Timótheüs spesifiek dat hy moet weet, in Paulus as apostel se afwesigheid, hoe mense hulle moet gedra in die huisgesin van God [“God’s family”, soos die CEV dit reg vertaal, nié “the church” (ASV) nie, en eerder “household” (RV) as “house” (KJV)]. Die gemeente of ekklēsia, skryf Paulus, is “‘n pilaar en grondslag van die waarheid”, letterlik die Christus, die Liggaam wat in die Hoof standhou, die Huis vol seuns (Joh. 14:2; 2 Kor. 5:1). Onteenseglik praat Paulus hier van die lede van die Liggaam van Christus, geensins van Jesus nie. Daarom is dit so vreemd dat hy direk daarna vervat met vers 16 en dit deur ‘n voegwoord én die gebruik van die woordjie onteenseglik verbind met die gemeente: “En, onteenseglik, die verborgenheid van die godsaligheid is groot …”
Die woordjie “onteenseglik” word slegs een maal in die Nuwe Testament gebruik, en dit is in hierdie vers. In Grieks is dit die woord homologoumenōs, waar die voorvoegsel homo- reeds eksplisiet dui op “dieselfde” (“the same”). Homologéō, die basisvorm, beteken “to confess”, in die sin van ‘n waarheid of oortuiging bely, “by consent of all” (Thayer). Daar was dus absolute konsensus dat die lede van die ekklesia “die verborgenheid van die godsaligheid” self beleef het! Dis asof die gedagte vir die meeste gelowiges egter godslasterlik is, naamlik “dat ons weet dat ons, as Hy verskyn, aan Hom gelyk sal wees” (1 Joh. 3:2). Jesus, sê Rom. 8:29 (ASV), “is the FIRSTBORN among many brethren”. ‘n Skrif soos die volgende wys onteenseglik ook uit dat God deur die wedergeboorte sy kinders geïnkarneer het: “wanneer Hy kom om verheerlik te word in sy heiliges en bewonder te word in almal wat glo”. Paulus spel dit direk uit in Kol. 3:3-4: “julle lewe is saam met Christus verborge in God. Wanneer Christus, wat ons lewe is, geopenbaar word, dan sal julle ook saam met Hom in heerlikheid geopenbaar word.” Lees 1 Joh. 4:2 bietjie anders as net met die verstaan van die tradisionele siening van die inkarnasie: “Hieraan ken julle die Gees van God: elke gees wat bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het, is uit God …” En dan is dit te verstane wat 2 Joh. 1:7 sê: “die wat nie bely dat Jesus Christus in die vlees gekom het nie … is die verleier en die Antichris(tus)”.
Terug by Joh. 6 – Jesus bied hierdie verduideliking van die geestelike brood as ‘n wonderwerk aan. As Ou-Testamentiese teëbeeld gebruik Hy die manna van die woestyn, en verduidelik dan dat daar ‘n vermeerdering van sy Liggaam sal kom wat soortgelyk is aan die neerdaal van die manna na die aarde toe. Hierdie manna is Hý (Joh. 6:48), maar dit word uitgedeel in kleiner porsies, “brood wat uit die hemel neerdaal, sodat iemand daarvan kan eet en nie sterwe nie” (Joh. 6:50).
Die woorde in die paragraaf hierbo: Jesus se inkarnasie in die Christus is die sleutel tot die dieper verstaan van hoe die saad van Christus vruggestalte in vlees kry. C.S. Lewis, in Mere Christianity (pp. 174-175), verduidelik dit mooi: “God said that we were ‘gods’ and He is going to make good His words. If we let Him – for we can prevent Him if we choose—He will make the feeblest and filthiest of us into a god …, dazzling, radiant, immortal creature, pulsating all through with such energy and joy and wisdom and love as we cannot now imagine, a bright stainless mirror which reflects back to God perfectly …” Sela!
- Sela: Verduidelik die begrip inkarnasie aan iemand.
- Lees: 2 Kron. 34-36; Esra 1-6
- Memoriseer: Esra 1:2 (wat sou hierdie merkwaardige vers in die lig van die lering beteken?)
- Delf dieper: Lees die klassieke boek van Lewis hierbo genoem.