“ … the heavens were opened and I saw visions of God” (Eze 1:1, KJV)
In die breë tema waarmee ons tans besig is, ondersoek ons die verskillende wyses waarop God met die mens praat. Ons het alreeds stilgestaan by die stem van die Heilige Gees wat in jou spreek, asook dat God deur sy Woord, die Bybel, spreek. Ons gaan nou vir ‘n tydjie stilstaan by ‘n enigmatiese en kontensieuse aspek van Goddelike kommunikasie met die mens, en dit is drome en visioene.
Job 33:14-18 spel die belangrikheid van hierdie wyse van kommunikasie uit: “Want God spreek op een, ja, op twee maniere; maar die mens let daar nie op nie. In die droom, in ‘n naggesig, as diepe slaap op die mense val, tydens sluimeringe op die bed, dan open Hy die oor van die mense, en Hy druk die seël op die waarskuwing aan hulle; om die mens terug te hou van sy onderneming en trotsheid vir die man te verberg; sodat Hy sy siel kan red uit die kuil; en sy lewe, dat dit nie omkom deur die spies nie.” Gemeet hieraan is drome dan van baie groot belang – God gebruik dit veral om mense te waarsku, en derhalwe is die droom ‘n Goddelike gawe aan die mens om valstrikke, verkeerde besluite en selfs die dood te systap.
Uit Num 12:6 blyk dit duidelik dat die Ou Testament God met sy profete veral op hierdie wyse gepraat het: “Toe sê Hy: Hoor tog my woorde. As julle profeet van die HERE is, sal Ek deur ‘n gesig My aan hom bekend maak, deur ‘n droom sal Ek met hom spreek.” Of ook Hos 12:10: “Ek het ook tot die profete gespreek, en Ek het gesigte vermenigvuldig en deur middel van die profete gelykenisse voorgedra.”
Maar in die Ou Testament reeds is die belofte gegee dat met die Nuwe Verbond God hierdie fakulteit van Goddelike kommunikasie wyer aan die mensdom sal vrystel. Joël 2:28 spel uit: “En daarna sal Ek my Gees uitgiet op alle vlees, en julle seuns en julle dogters sal profeteer, julle ou mense drome droom, julle jongelinge gesigte sien.” Daarom dan as Petrus op Pinksterdag preek oor die uitstorting van die Heilige Gees, sê hy: “Maar dit is wat deur die profeet Joël gespreek is …” (Hand 2:16) en dan wys hy dat die tyd van hierdie bedeling nou aangebreek het.
Van die begin van die geskiedenis van die mens is daar menigvuldige voorbeelde van hoe God drome en visoene gebruik het om die geloofshelde te rig en te lei, bv met Abram: “Ná hierdie dinge het die woord van die HERE tot Abram gekom in ‘n gesig en gesê: Vrees nie, Abram, Ek is vir jou ‘n skild en jou loon is baie groot.” (Gen 15:1). Dwarsdeur die Ou Verbond praat God met sy kinders deur drome en visoene: Esegiël, Dawid, Amos, en vele meer. God het selfs die lewe van sy Seun Jesus toevertrou aan iets so flimsy soos ‘n droom (Mat 1:20). Die boek Handelinge wemel van voorbeelde: sien byvoorbeeld Hand 10:3; 11:5, onder andere.
Deurgaans het die Nuwe Testamentiese skrywers hul lering en openbaring aan drome en visoene gekoppel, soos Paulus dit dan ook in 2 Kor 12:1 verdedig deur te sê: dat hy “sal kom tot gesigte en openbaringe van die Here”. Dis hier waar die Nuwe-Testamentiese gelowige hom bevind.
- Sela: Probeer uitvind wat jou houding is ten opsigte die drome/gesigte wat jy gehad het.
- Lees: 1 Sam 21; Ps 143; Luk 18
- Memoriseer: Luk 18:27
- Vir dieper delf: Lees Ira Milligan se Understanding the dreams you dream.