Dag 1352-1354

 

“Ek is die lig van die wêreld …”

 (Joh. 8:12, OAV)

 

Steeds besig met ‘n noodsaaklike afdraaipad wat handel oor die ontsaglike belangrikheid van die vrug van die Gees. In die vorige Mannas het ons geleer dat in die onverganklike saad van Christus is ‘n geheime lewe waardeur die gelowige lewe. Hierdie vrug is daar sodat die ganse wêreld daarvan kan eet en leef. Maar daar is ook ‘n ‘n wonderbaarlike versweë doel daarmee.

Ons lees vir die eerste keer van saad in Gen. 1:11-12: “En God het gesê: Laat die aarde voortbring grasspruitjies, plante wat saad gee en bome wat, volgens hulle soorte, vrugte dra, waarin hulle saad is, op die aarde. En dit was so. Die aarde het voortgebring grasspruitjies, plante wat saad gee volgens hulle soorte en bome wat vrugte dra, waarin hulle saad is, volgens hulle soorte. Toe sien God dat dit goed was.” Daar is bome wat saad dra en daar is bome wat vrug dra, waarin hul saad is.

In Gen. 1:29 word daar weer verder vervolg oor saad: “Verder het God gesê: Ek gee nou aan julle al die plante wat saad gee, wat op die hele aarde is, en al die bome waar boomvrugte aan is, wat saad dra. Dit sal julle voedsel wees.” Hierdie betekenis van die lemma ‘saad’ gee Webster Dictionary soos volg weer: “The substance … which nature prepares for the reproduction and conservation of the species. The seeds of plants are a deciduous part, containing the rudiments of a new vegetable. In some cases, the seeds costitute the fruit or valuable part of plants, as in the case of wheat and other esculent grain; sometimes the seeds are inclosed in fruit, as in apples and melons.” Soms word die saad geëet en soms word die saad ingesluk as die vrug geëet word.

Dan, in Gen. 3:15, word dieselfde woord gebruik in die sin van die gevolg van menslike en dierlike voortplanting, die idiomatiese “vrug van die skoot” (Gen. 30:2): “Progeny; offspring; children; descendants …” (sien Gen. 4:25 waar “kind” en “saad” vervangend gebruik word) asook die fisiese menslike/dierlike  substans wat tot ‘n nageslag lei, met ander woorde semen of ova (alhoewel daar byvoorbeeld ‘n ander woord in Hebreeus is vir semen spesifiek). Die vyandskap en gepaardgaande stryd tusen die saad van die slang en die saad van die vrou het een van die heel grootste epiese temas van die wêreld geword. Deut. 28:4 is ‘n vers waarin die semantiese reikwydte van die woordjie ‘saad’ grootliks saamgevoeg is: “Geseënd sal wees die vrug van jou liggaam en die vrugte van jou land en die vrug van jou vee, die aanteel van jou beeste en die aanteel van jou kleinvee.”

As ons dan nou die fisiese wesensaard van saad beskryf het, moet ons nou voorts by die miljoendollarvraag uitkom – wat is die lewe in die saad? Waar kom dit vandaan? Wat is dit wat potensieel setel in die saad wat alles bevat waartoe die saad gepredestineer is? Hoe kan daar lewe skuil in die oënskynlik dooie saaddop wat dit huisves?

In alle saad setel ‘n wetmatigheid – “die wet(matigheid) van die Gees van die lewe in Christus Jesus” (Rom. 8:2). Dit is ‘n wetmatigheid, want dit is ‘n onveranderlike, ewige waarheid en realiteit. Luk 8:11 gee die sleutel tot die geheimenis van hierdie misterie: “Die saad is die woord van God.” Woord hier is Logos, of dan – Jesus. In Hom, weet ons uit Joh. 1:4, “In Hom was lewe.” Die Lamsa-vertaling gee dit soos volg: “The life was in him …” Die NJB vertaal dit soos volg: “What has come into being in him was life …”.

‘n Mens kan dus sonder vrees vir teenspraak sê dat Jesus die Logos die kiemsel van alle lewe is, dus ook binne die saad.

In 1 Pet. 1:23 word ‘n volgende ontvouende waarheid oor hierdie saad gegee, as Petrus verduidelik ons “is wedergebore nie uit verganklike saad nie, maar uit onverganklike, deur die lewende woord [LOGOS] van God wat tot in ewigheid bly”. Dan vervolg hy in die volgende vers dat die mens, ten spyte van die feit dat hy nou uit ‘n onverganklike saad lewe gekry het, en ewige lewe for that matter, hy stééds in ‘n verganklike vleesomhulsel woon: “Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af …” Teenoor dit staan dan die volgende vers, en wel vers 25: “maar die woord [RHEMA] van die Here bly tot in ewigheid”. Let mooi op – hierdie Logos-lewe is nie “die asem van die lewe” (Gen. 2:7) wat alle vorme van lewe ontvang het nie, alhoewel dit óók deur God ingeblaas word – Hand. 17:25 meld immers: “Hy (gee) self aan almal lewe en asem en alles”. Daar is dus ‘n ander lewe-in-Logos waarvan Joh. 1:4 praat, wat ‘n wetmatigheid van lewe is, en nie, byvoorbeeld, die aanwesigheid van asem (as teken van lewe in mens en dier) nie.

Baie belangrik – die lewe van Joh. 1:4 wat in die lewe-as-Logos is, word gestalte gegee as lig: “In Hom was lewe, en die lewe was die lig van die mense.” Maar hierdie lig is ook nie fisiese lig, soos byvoorbeeld die lig van die son of die sterre nie. Joh. 8:12 noem dit “die lig van die lewe”; en besef dit hierdie lewe-as-Logos spesifiek “die lig van die mense” geword het. Wat sou dit beteken?

Om dié geheimenis te verstaan, moet ons raaksien dat Joh. 1 parallel staan met Gen. 1, en dat Johannes dit spesifiek só parallel aan mekaar stel om die twee oorsprongverhale in mekaar te laat verdiep. In Gen. 1:3 is God se allereerste skeppingsaksie om die lig te skep: “En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.” Hierdie was nie die lig van die son en die maan nie, want dié hemelliggame is eers op die vierde skeppingsdag tot stand gebring (Gen. 1:14-18). Vergelyk dit nou met die skeppingsuitdrukking soos wat dit in Joh. 1:1-4 voorgehou word: In die begin was die Woord → alle dinge het deur Hom ontstaan → in Hom was die lewe → die lewe was die lig van die mense. In Gen. 1:3, as God sê: “Laat daar lig wees!”, is die potensiaal van Lewe reeds in die Logos-Woord Jesus (“in Hom was die lewe”), en kry hierdie lewe gestalte as lig.

Hierdie lig kry gestalte teen die agtergrond van duisternis (“duisternis was op die wêreldvloed” – Gen. 1:2). Die onderskeid tussen lig en donker, wat onderskeidelik as dag en nag voorgehou word (Gen. 1:5), kan maklik misverstaan word. Dag is dus nié die periode wat die son skyn nie, want die son het toe nog nie tot stand gekom nie (en daarbenewens beteken dit nie die son is gedurende ons verstaan van nag nou afwesig nie, want hy skyn ewe gesellig nog steeds, al is dit aan die ander kant van die aarde, dit bly die aarde!) Dag en nag is dus tiperinge van ‘n ander orde eerder as spesifieke tydaanduidings, soos wat 1 Thes. 5:5-8 onteenseglik uitspel: “Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie. Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees. Want die wat slaap, slaap in die nag; en die wat dronk word, is in die nag dronk. Maar laat ons wat van die dag is, nugter wees, met die borswapen van geloof en liefde aan, en as helm die hoop op die saligheid.” Dieselfde idee ten grondslag van dag/nag word byvoorbeeld in die volgende Skrifte gevind:

  • “Die nag het ver gevorder en dit is amper dag. Laat ons dan die werke van die duisternis aflê en die wapens van die lig aangord. Laat ons welvoeglik wandel soos in die dag, nie in brassery en dronkenskap, nie in ontug en ongebondenheid, nie in twis en nydigheid nie.” (Rom. 13:12-13)
  • “Maar julle, broeders, is nie in duisternis, dat die dag julle soos ‘n dief sou oorval nie.” (1 Thes. 5:4)

Ons moet nou duidelik verstaan wat daardie lig is. Jes. 9:2 het al oor hierdie lig geprofeteer, dat dit die teken sou wees van die Messias (volgens die bevestiging van Matt. 4:16): “Die volk wat in duisternis wandel, het ‘n groot lig gesien; die wat woon in die land van die doodskaduwee, oor hulle het ‘n lig geskyn.” Ook in Jes. 49:6 – “Ek het U gemaak tot ‘n lig …” (bevestig in Luk. 2:32 en Hand. 13:47). Weliswaar was dit Jesus waarvan Johannes die Doper in Joh. 1:9 getuig: “Die waaragtige lig wat elke mens verlig, was aan kom in die wêreld.”

Jesus se onomwonde volgende twee uitsprake maak die gelykstelling met Lig onteenseglik duidelik:

  • “En Jesus het weer met hulle gespreek en gesê: Ek is die lig van die wêreld; wie My volg, sal sekerlik nie in die duisternis wandel nie, maar sal die lig van die lewe hê.” (Joh. 8:12)
  • “En Jesus sê vir hulle: Nog ‘n klein tydjie is die lig by julle. Wandel so lank as julle die lig het, sodat die duisternis julle nie oorval nie. En wie in die duisternis wandel, weet nie waar hy gaan nie. So lank as julle die lig het, glo in die lig, sodat julle kinders van die lig kan word.” (Joh. 12:35 -36)

Uit hierdie twee verse is daar vier spesifieke handelinge wat ‘n verhouding met die Lig tot gevolg moet hê – die Lig moet gevolg word, daar moet in die Lig gewandel word, daar moet in die Lig geglo word, en ons moet kinders (of dan saad!) van die Lig word.  In sy boek  John’s Creation: A Model for Understanding the Gospel of John gee John Pople die volgende verklaring van lig in die skrywe van die apostel Johannes: “A spiritual metaphor for understanding” (p. 40). Op die oog af klink dit té eenvoudig, maar bedink saam met my hierdie konsep bietjie verder as sigwaarde. God het in die ewigheid Jesus gegenereer, of dan tot stand gebring, “begotten” (Ps. 2:7). In en deur Hom het God alles geskep (Joh. 1:3; Ef. 3:9; Kol. 1:16-17). As uitdrukking tot alles wat duister is in die geskape werklikheid, naamlik die doderyk (onthou Manna Dag 1307-1309) het Hy Homself as Lig gemanifesteer – daardie Lig was Logos, denkgestalte van die voorneme van die Vader, openbaring wat gevolg kan word, openbaring waarin gewandel kan word, openbaring wat geglo kan word, en openbaring waaruit die kinders van die lig gebore kan word. Jesus was die volledige uitdrukking (“expression”) of afdruksel van God (Heb. 1:3), maar dit moet aan die mensdom verstaanbaar gemaak word (Ef. 3:18). Dit mag nie meer toegelaat word dat die openbaring of lig “bedek” word nie, as gevolg van “the god of this age (who) has blinded the minds of the unbelieving, in order for the light of the good-news of the glory of the Christ (who is a likeness of God) not to shine forth to them” (2 Kor. 4:4, ACV).

Matt. 6:23 spel dit uit: “Maar as jou oog verkeerd is, sal jou hele liggaam donker wees. As dan die lig in jou donkerheid is, hoe groot is die donkerheid nie!” Jou oog dui metafories duidelik op jou manier van sien, jou “verligte oë van die verstand” (Ef. 1:18). In Hand. 26:18 verduidelik Jesus self dat Hy Paulus nou stuur “om hulle oë te open, dat hulle hul van die duisternis tot die lig kan bekeer en van die mag van die Satan tot God”.

Dus, soos Joh. 9:5 dit stel in die woorde van Jesus: “So lank as Ek in die wêreld is, is Ek die lig van die wêreld.” Maar nou het die volgende bedeling ‘n aanvang geneem – “Julle is die lig van die wêreld.” (Matt. 5:14)! Inderdaad: “Want vroeër was julle duisternis, maar nou is julle lig in die Here—wandel soos kinders van die lig.” (Ef. 5:8).

As die Lig van Génesis dan Jesus is, moet dit onteenseglik dan ook die Christus insluit. Immers: “Hy [LOGOS], wat die afskynsel is van sy heerlikheid en die afdruksel van sy wese en alle dinge dra deur die woord [RHEMA] van sy krag,” (Heb. 1:3). Hierdie lewe (wat in die lig is) word op ‘n baie spesiale manier deur die gelowige aan die wêreld oorgedra – as SAAD in die geestesvrug, die vrug van Lig, wat hul dra. Dit skep ‘n geestelike verstaansruimte waarbinne die godsvrug (2 Pet. 1:7) mense se geestelike oë laat oopgaan – daaronder bly die mensdom “blind en kortsigtig” (2 Pet. 1:9). “Die vrug van die regverdige is ‘n boom van die lewe, en hy wat siele win, is wys.” (Spr. 11:30).

  • Sela: Verduidelik Gen. 1 en Joh. 1 se eerste verse aan iemand.
  • Lees: Esra 7-10; Neh. 1-5
  • Memoriseer: 2:18
  • Delf dieper: Lees die boek van  John Pople hierbo genoem.