“… dieselfde as …”
(Ef. 4:10, OAV)
Ons sal poog om in hierdie Manna die afdraaipad wat handel oor die belangrikheid van die vrug van die Gees af te handel. In die vorige Mannas het ons geleer dat alle saad metonimies gekoppel word aan die lewe in Jesus Christus, in Wie alle lewe ‘n oorsprong het. Ons het nie hierdie retoriese begrip in die studie só benoem nie, maar doen dit nou om verheldering te bring.
Metonimie is ‘n belangrike Bybelse stylfiguur wat gekenmerk word deur oornoeming, of dan om ‘n saak op ‘n ander naam te noem. ‘n Saak wat in noue verband met ‘n ander staan, word genoem asof dit daardie saak is, of word bykans metafories daarmee geassosieer en gelykgestel. Byvoorbeeld as ons in die koerante lees van Wall Street word dit dikwels nie net gebruik om na ‘n fisiese straat in Manhattan, New York City, te verwys nie, maar metonimies geassosieer met die totale finansiële bedryf en die effektebeurs van Amerika. Dink ook aan die Withuis of die Pentagon, of Hollywood. Om Moses en die profete uit te lê (Luk. 24:27) beteken eintlik metonimies om hul skryfwerk uit te lê. Belangrik om te besef dat die een saak wat met die ander een benoem word nie ‘n simboliese verwysing daarna is nie (soos Abdul Gabbar Al-Sharafi: Textual Metonymy: A Semiotic Approach dit insiggewend uitgewys het). Ook baie belangrik: “When people use metonymy, they do not typically wish to transfer qualities from one referent to another as they do with metaphor.” (Daniel. Chandler, Semiotics for Beginners). Kortweg sou mens dit makliker kon noem dat metonimie korrespondeer met die frase “dieselfde as”.
God uiter die LOGOS-AS-LEWE as DIE OORSPRONG VAN ALLES, en Hý dra in sigself “die wet(matigheid) van die Gees van die lewe in Christus Jesus” (Rom. 8:2). Dit is metonimies DIE BEGIN waarbinne God die misterie van Sy Lewe tot uitdrukking bring. Dit is ook metonimies DIE LIG, en dit is metonimies DIE SAAD. Uit hierdie metonimiese RHEMA-AS-SAAD word metonimies uitdrukking gegee aan DIE SEUNS VAN DIE LIG (Luk. 16:8; Joh. 12:36; Ef. 5:8; 1 Thes. 5:5). Hulle dra metonimies DIE VRUG, wat Spr. 11:30 metonimies DIE VRUG VAN DIE REGVERDIGE noem, wat metonimies ‘N BOOM VAN DIE LEWE is. Alle mense eet van hierdie bome van die lewe (Eseg. 47:12), en só kry DIE SAAD VAN DIE LEWE metonimies in alle mense toegang. Dit lê daar en die Gees van God hover daaroor totdat God spreek: “Laat daar lig wees!”, en sodoende word hulle metonimies die geleentheid gebied om ook soos die seuns van die lig metonimies DIE LIG VAN DIE WÊRELD te “kan word” (Joh. 12:36)!
Daar is vroeër uitgespel dat in die onverganklike saad van Christus is ‘n geheime lewe waardeur die gelowige lewe. Hierdie vrug is daar sodat die ganse wêreld daarvan kan eet en leef. Maar ons het telkens daarop gesinspeel dat daar ook ‘n wonderbaarlike versweë doel daarmee is, en nou is dit duidelik – God maak dit op hierdie manier moontlik dat die res van die wêreld op hierdie onverwagse manier die saad van Christus kan ontvang! Inderdaad is dit soos Hos. 14:8 sê: “uit My word jou vrug gevind”. Sela!
- Sela: Verduidelik die begrip metonimie aan iemand.
- Lees: 6-8
- Memoriseer: 6:16
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: Om die Hemel te Plant en die Aarde te Grond