“Wat beteken die twee olyftakkies …?”
(Sag. 4:12, OAV)
In die vorige manna is die twintigste karakteristieke eienskap van die korporatiewe gees of mantel van Serubbábel bespreek, en in hierdie Manna volg die een-en-twintigste kenmerk. Dit is te vinde in die volgende twee perikope:
- ‘En die engel wat met my gespreek het, het teruggekom en my gewek soos ‘n man wat uit die slaap opgewek word. En hy het vir my gesê: Wat sien jy? Toe antwoord ek: Ek sien daar ‘n kandelaar, heeltemal van goud, en sy oliekan bo-oor hom en sy sewe lampe op hom; telkens sewe aanvoerpype loop na die lampe wat bo-oor hom is. Ook twee olyfbome langs hom, een aan die regterkant van die oliekan en een aan die linkerkant daarvan. Daarop het ek begin spreek en aan die engel wat met my gespreek het, gesê: Wat beteken dit, my heer? En die engel wat met my gespreek het, antwoord en sê vir my: Weet jy dan nie wat dit beteken nie? En ek het gesê: Nee, my heer.” (Sag. 4:1-5)
- “Daarop het ek begin spreek en aan hom gesê: Wat beteken hierdie twee olyfbome aan die regterkant van die kandelaar en aan die linkerkant daarvan? En ek het toe nogmaals gespreek en vir hom gesê: Wat beteken die twee olyftakkies aan die kant van die twee goue pype wat goud uit hulle laat uitstroom? Toe antwoord hy my en sê: Weet jy nie wat dit beteken nie? En ek het gesê: Nee, my heer. En hy sê: Dit is die twee gesalfdes wat by die Here van die ganse aarde staan.” (Sag. 4:11-14).
Hierdie duidelik simboliese koppeling aan die twee gesalfde getuies, vermoedelik Josua en Serubbábel, verkry ‘n groter belangrikheid as ons in hoofstuk 11 van die boek Openbaring kom. Hier duik die twee getuies weer op in ‘n baie prominente rol. Ons moet helaas die hele hoofstuk hier voorhou om die konteks na regte te verstaan:
- “En ‘n riet soos ‘n stok is aan my gegee, en die engel het gestaan en gesê: Staan op en meet die tempel van God en die altaar en die wat daarin aanbid. Maar die voorhof buitekant die tempel moet jy uitlaat en dit nie meet nie, want dit is aan die heidene gegee; en hulle sal die heilige stad twee en veertig maande lank vertrap. En Ek sal aan my twee getuies gee dat hulle, met sakke bekleed, duisend twee honderd en sestig dae lank sal profeteer. Hulle is die twee olyfbome en die twee kandelaars wat voor die God van die aarde staan. En as iemand hulle wil beskadig, gaan daar vuur uit hulle mond en verslind hulle vyande; en as iemand hulle wil beskadig, moet hy op dieselfde manier gedood word. Hulle het mag om die hemel te sluit, sodat daar in die dae van hulle profesie geen reën val nie; en hulle het mag oor die waters, om dit in bloed te verander en om die aarde te tref met allerhande plae so dikwels as hulle wil. En wanneer hulle hul getuienis voleindig het, sal die dier wat uit die afgrond opkom, teen hulle oorlog voer en hulle oorwin en hulle doodmaak; en hulle lyke sal lê op die straat van die groot stad wat geestelik genoem word Sodom en Egipte, waar ook onse Here gekruisig is. En mense uit die volke en stamme en tale en nasies sal hulle lyke drie en ‘n halwe dag lank sien en nie toelaat dat hulle lyke in die graf gelê word nie. Die bewoners van die aarde sal bly en verheug wees oor hulle en sal vir mekaar geskenke stuur, omdat dié twee profete die bewoners van die aarde gepynig het. En ná die drie en ‘n halwe dag het ‘n gees van die lewe uit God in hulle ingegaan, en hulle het op hul voete gaan staan, en ‘n groot vrees het geval op die wat hulle aanskou het. En hulle het ‘n groot stem uit die hemel vir hulle hoor sê: Kom op hierheen! En hulle het opgevaar na die hemel in die wolk, en hul vyande het hulle aanskou. En in dié uur het daar ‘n groot aardbewing gekom, en ‘n tiende van die stad het geval, en sewe duisend mense het in die aardbewing omgekom, en die ander het bevrees geword en aan die God van die hemel heerlikheid toegebring. Die tweede wee het verbygegaan; kyk, die derde kom gou. En die sewende engel het geblaas, en daar was groot stemme in die hemel wat sê: Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus, en Hy sal as Koning heers tot in alle ewigheid.”
Om die teksgedeeltes in Sagaria te verstaan, moet ons agterstevoor begin, want die eweneens apokaliptiese gebruik van dieselfde figure in die Openbaringteks bring ‘n baie interessante reliëf en interaksie, maar veral toeligting, as ons allereers na laasgenoemde kyk.
Onthou – dit is onmoontlik om die boek Openbaring letterlik te interpreteer. ‘n Sleutel tot die boek lê reeds in die woordjie “signified” in Open. 1:1, wat beteken: “something by which another thing is represented”. Die boek is dus propvol simbole en figuurlike taalgebruik, wat die minagting daarvan ‘n totale inkonsekwente (dogmatiese) lesing van versinde, vooropgestelde gebeure maak – ‘n simbool is immers nooit die realiteit nie! Mense van hierdie foutiewe benadering voorspel deurgaans die wederkoms op grond van die boek Openbaring, helaas sonder welslae en konsekwente fundering.
Uitgaande van Tom Gouws se reeks cd-lering oor die boek Openbaring span ons hier die Persoonlik-tipologiese eksegetiese benadering in (sien Delf Dieper hier onder). Hierdie benadering beskou Openbaring as ‘n boek oor die openbaarmaking van die Bruid se persoonlike roeping en die persoonlike ontvouing daarvan. Openbaring bied elke gelowige die sleutels van die ontvouing van JOU roeping IN jouself, soos die Phillips-vertaling van 1 John 3:2 dit pragtig stel: “We don’t know what we shall become in the future. We only know that, if reality were to break through, we should reflect His likeness, for we should see Him as He really is!” Die simboliese aanbod van die boek bied elke gelowige derhalwe ‘n persoonlike tipologie wat geïnterpreteer moet word as heuristiese leiding vir die volvoering van ‘n roeping. [Die heuristiek is die kuns om deur logiese redenering stap vir stap tot die ontdekking van waarhede te kom.] Die boek Openbaring is dus nie ‘n openbaring oor die skrikwekkende goed wat in die toekoms gaan gebeur nie – nee, dit is ‘n openbaarmaking van wie Jesus Christus IN ons is (Kol. 1:27). In die proses sal baie dinge manifesteer wat anti-christus is, en dit moet mee gedeel word. Christus word verberg deur die vleeslikheid (“carnal mind”), daarom moet dit “unveil” word. Die boek Openbaring is ‘n progressiewe ontvouing van die lewe, oorwinning en triomfering van Christus in sy Bruid en in sy skepping!
Wanneer ons dan nou met ‘n oorsiguitleg van Op. 11 begin, is dit belangrik om daarop te let dat dit ingelei word deur ‘n opdrag van God om die tempel te meet. Die Nuwe-Testamentiese realiteit is dat “die Allerhoogste woon nie in tempels wat met hande gemaak is nie” (Hand. 7:48).
Wanneer ons dus enige plek in die nuwe verbond lees van tempel of tabernakel, weet ons met “die ware tabernakel wat die Here opgerig het en nie ‘n mens nie” (Heb. 8:2), word bedoel – “Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?” (1 Kor. 3:16).
Die tempel wat dus hier gemeet word, is enersyds die individuele gelowige en andersyds die korporatiewe Liggaam van Christus (Joh. 2:21; Ef. 2:19-22; Heb. 3:6; 1 Pet. 2:5). Hierdie tempel is geensins op die aarde nie, maar volgens Op. 11:19 “in die hemel”, met ander woorde in die geestelike realm.
Die engel wat toesighou oor Johannes wat die tempel moet meet, is niemand anders nie as “die Engel van die verbond, na wie julle ‘n begeerte het”, wat “skielik na sy tempel kom”, “die Here na wie julle soek” (Mal. 3:1)! ‘n Engel is volgens die grondtale ‘n boodskapper, en hy word altyd vereenselwig met ‘n nuwe openbaringsboodskap. Die riet waarmee gemeet word, is eweneens geestelik van aard, en wel om “die mate van die volle grootte van Christus” (Ef. 4:13) te bepaal. Ons moet sodoende “begryp wat die breedte en lengte en diepte en hoogte is” (Ef. 3:18). Die enigste maatstaf is die volledige Christus – daar is geen ander maatstaf nie!
Uiteraard is ‘n baie belangrike voorskrif hier dat met dieselfde maat waarmee jy meet, sal weer vir jou gemeet word (Luk. 6:38). Die opdrag aan Johannes in die insetsin van die perikoop, “Staan op …”, is in Manna Dag 1277-1278 reeds uitgewys, ‘n oproep tot die persoon om in sy/haar skeppingsdoel op te staan. Ons word ook geroep om op te staan uit die dood van die vleeslike gesindheid en manier van dink, wat die dood is (Rom. 8:6). Ons word geroep tot ‘n nuwe realiteit, en wel deur die riet van Sy heerskappy (Matt. 27:29), wat later in Openbaring groei tot ‘n goue riet, die aanduiding van die volheid van openbaring oor wie Jesus die Christus is (Op. 21:15).
Wat sou hierdie volheid wees, weliswaar dan in simboliese taal? In 1 Kon. 6:2 lees ons van die fisiese afmetings van die tempel van Salomo: “En die huis wat koning Salomo vir die HERE gebou het, was sestig el in sy lengte en twintig in sy breedte en dertig el in sy hoogte.” Die som van hierdie fisiese konstrukie is 36 000 kubieke el. Absoluut verstommend dan om uit te vind dat die Hebreeuse gematria van die woordjie tabernakel of tent () is 36. Vermenigvuldig dit met 1000, wat simbolies beteken: tot in die duisendste geslag, dit wil sê vir ewig (Ps. 105:8). Dit is ook dieselfde gematria as die frase: “Dit is my beminde” (Hoogl. 5.16), vermenigvuldig met 1000, dit wil sê: dit is My beminde vir ewig!
Kom ons kyk na die detail van hierdie bousel in simboliese terme:
- Die lengte van die tempel was 60 el. Ses is die getal van die mens, en tien is die getal van toetsing. Dus beteken 60 die mens wat toetsing deurstaan het (Jak. 1:12).
- Die breedte van die tempel is 20 el. Die getal 20 in die Bybel het dikwels te make met die feit dat daar getel (en derhalwe gemeet word) – sien byvoorbeeld Eks. 30:14.
- Die hoogte van die tempel is 30 el. Die getal 30 dui simbolies die begin van bediening in die Bybel aan (Num. 4:23; 1 Kron. 23:3) – saamgetrek in drie belangrike figure: Josef (Gen. 41:46), Dawid (2 Sam. 5:4), en dan natuurlik Jesus (Luk. 3:23).
Saam bereken sou hierdie simboliese wiskunde berekeninge die volgende oor hierdie Goddelike konstruksie sê: God se getoetste mens benoem vir bediening! Met die taak, soos Ef. 4:12 dit mooi stel: “om die heiliges toe te rus vir hulle dienswerk, tot opbouing van die liggaam van Christus”.
‘n Ander beskouing van 36 000 sou ook kon wees: 3 is (onder andere) die getal van Goddelike openbaring; 6 is die getal van die mens; en dan die drie nulle dui op die duisende, wat volheid denoteer. Saamgevoeg beteken dit: die Goddelike openbaring aan en van die mens rondom sy volheid! Ons het die hoop wat Dawid in Ps. 138:8 (ASV) uitgespreek het: “Jehovah will perfect that which concerneth me …”
Ter afsluiting – in Op. 11:3 & 4 word die twee getuies aan ons voorgehou, en spesifiek as “die twee olyfbome” en “die twee kandelaars wat voor die God van die aarde staan”. Wat sou dit tog dan simbolies vir ons beteken? Duidelik is hierdie tweemanskap belangrik vir God se alles insluitende agenda wat in vers 15 só voorgehou word: “Die koninkryke van die wêreld het die eiendom van onse Here geword en van sy Christus,” Wat dit te doen het met die korporatiewe gees of mantel van Serubbábel sal in die volgende Manna duideliker blyk.
- Sela: Probeer al die simbole van Op. 11 se eerste gedeelte vir iemand verduidelik.
- Lees: Ester 1-10
- Memoriseer: 4:14 – “Born for a time such as this.”
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-leringreeks: Die ontsluting van die boek Openbaring.