Dag 136

 

“ … die droom kom deur baie drukte …” (Pred 5:3, OAV)

Dis baie insiggewend dat as ‘n mens al die dele in die Woord wat direk en indirek handel oor drome en hul gevolge in die realiteit, dit bykans ‘n derde van die ganse Bybel sal uitmaak! (Natuurlik slaap die mens ook ‘n derde van sy lewe; maar vir die gelowige is dit egter nie net passiewe tyd nie – Ps 127: 2 sê: “Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, laat opbly, brood van smarte eet—net so goed gee Hy dit aan sy beminde in die slaap!”) 

Die sielkunde het groot belangstelling in die rol van drome in die lewe en bestaan van mense, en beskou dit dikwels as ‘n sleutel tot die verstaan van versweë behoeftes en begeertes, as geheime kodes wat traumatiese ervaringe aan die lig bring, as meganismes om mense dinge te laat verwerk en tot persoonlike integrasie te kan laat kom. Dit word ook gebruik om bepaalde psigiese versteurings van watter aard ook al te definieer. Daar is ook ‘n hele veld binne die psigologie waarbinne die kollektiewe belangrikheid van drome bestudeer word en die gemeenskaplike skatkis van die kollektief onderbewuste manifesteer in argetipes wat algemeen simbolies verklaar kan word. Dit is fassinerend en kan mense help om tot individuasie en integrasie te kom, maar dis primêr die fokus van die SIELkunde, en nie die GEESkunde nie ☺

Ons fokus is op die korrekte hantering van drome as geestelike mense. Die Woord sê in 1 Kor 2:14: “Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.” As drome net as ‘n natuurlike manifestasie gesien word, bly dit vanities, soos Ecc 5:7 dit stel: “For in the multitude of dreams … there are also divers vanities …” 

Dit is miskien een van die redes waarom die meeste gelowiges drome oor die algemeen nie te erstig opneem nie. Boonop is daar baie min wat dit regtig geestelik onderskei en veral daarop handel. Een van die belangrikste dinge wat die Godsmanne van die Bybel kenmerk, is dat hul hul drome en visioene baie ernstig opgeneem het, en hul wandel en strategiese vorentoe beweeg in ‘n baie groot mate daardeur gerig is. 

Miskien die belangrikste beginsel rondom drome in ‘n geestelike sin is om dit te onderskei van natuurlike drome. Die beginsel hierbo in Prediker sê dat baie drukte bring drome voort, met ander woorde as jy enige druk ervaar, is die kans groot dat jy daaroor sal droom – dis ‘n natuurlike proses om die tumult in jou binneste te verwerk (sien Jes 29:8). Jy MOET in die rus van God wees om jou drome (Heb 4:10). As jy met ander woorde ontstel is oor finansiële druk, moet jy nie jou natuurlike drome daaroor vertrou nie. As jy wel finansiële nood het, maar rustig op God wag vir strategie, sal Hy bes moontlik met jou praat deur ‘n geestelike droom.

  • Sela:  Probeer die laaste droom wat jy gehad het in hierdie lig klassifiseer.
  • Lees: 1 Sam 22; Ps 144; Luk 19
  • Memoriseer:  Luk 19:10
  • Vir dieper delf: Dit kan goed en interessant wees om ‘n bietjie wyer na die fenomeen van drome te gaan kyk. Paul Roland se Understanding dreams is ‘n sekulêre gids, maar met goeie informasie.