Dag 1361

 

“Staan op en meet die tempel van God …”

 (Op. 11:1, OAV)

In die vorige manna het ons begin om die een-en-twintigste kenmerk van die korporatiewe gees of mantel van Serubbábel te bespreek. Dit word gehaal uit Sag. 4:1-5 en handel oor die twee olyfbome of twee getuies, waarvan Serubbábel duidelik een is. Hierdie duidelik simboliese koppeling aan die twee gesalfde getuies verkry ‘n groter belangrikheid as ons in hoofstuk 11 van die boek Openbaring kom. Hier duik die twee getuies weer op in ‘n baie prominente rol. Ons het in die vorige Manna met ‘n oorsigtelike eksegese van Openbaring 11 begin. Allereers is ‘n breë kensketsing gegee van die boek as apokaliptiese teks. Die boek Openbaring is dus nie ‘n openbaring oor die slegte goed wat in die toekoms gaan gebeur nie –dit is ‘n openbaarmaking van wie Jesus Christus IN ons is (Kol. 1:27). Die boek Openbaring is ‘n progressiewe ontvouing van die lewe, oorwinning en triomfering van Jesus Christus in sy Bruid en in sy skepping! Daar is toe stil gestaan by die tempel wat gemeet moet word, en aangetoon dit is ‘n tempel in die Gees, nie gemaak deur mensehande nie. Ef. 2:21-22 (TLV) beskryf dit soos volg: “In Him the whole building, being fitted together, is growing into a holy temple for the Lord. In Him, you also are being built together into God’s dwelling place in the Ruach.” Of soos die KJV dit stel: “an habitation of God in the Spirit”.

Ons wil nou, gebaseerd op Op. 11:3 & 4, die tipologiese identiteit van die twee getuies probeer peil. Belangrik egter om te besef – om die tempel te meet beteken om die bouwerk in die Gees te inspekteer, ‘n bestekopname te maak, uit te vind hoeveel van die Christus-lewe in jou as tempel reeds gestalte gekry het. Dit word ‘n maatstaf van watter mate jy ‘n Christus-bevatter (Jannie van Zyl se mooi woord) geword het, in watter mate jy gevorder het in die gees om beslag te gee aan die volheid van God. Waar is jy ten opsigte van die groei en ontwikkeling van jou manier van dink, jou goddelike natuur, die demonstrasie van Sy krag deur jou, die beslaggewing van wysheid IN jou, en wat die neerslag van heerlikheid in jou is. Dit is uiteraard nie sake waarvoor menslike maatstawwe, vleeslike meetinstrumente of godsdienstige riglyne gebruik kan word nie. God kan dit nét aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God, want niemand weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is nie (1 Kor. 2:10-11a).

Die meetstok is die “the mind of Christ” (1 Kor. 2:16, KJV), en die berekening is “the measure of the stature of the fullness of Christ” (Ef. 4:13, KJV).

Hierdie meting vind plaas nadat jy in jou skeppingsdoel en roeping begin opstaan het, derhalwe word die Openbaring-hoofstuk ingelei met die imperatief: “Staan op …!” (Op. 11:1). [Lees weer Manna Dag 1277-1278.] Dit word ‘n meet en tel in die gees soos waarvan gepraat word van in Ps. 48:12-13a: “Gaan rondom Sion, trek daaromheen, tel sy torings; let op sy skanse, wandel deur sy paleise …”

  • Sela: Was jy al ooit bewus daarvan dat jy “gemeet” word?
  • Lees: Job 1-3 (hoe is Job gemeet?)
  • Memoriseer: Job 1:7
  • Delf dieper: Luister na Pieter van Jaarsveld se cd: ‘n Persoonlike Worsteling na ‘n eie Identiteit in Christus