“om sy Seun in my te openbaar …”
(Gal. 1:16, OAV)
Die een-en-twintigste kenmerk van die korporatiewe gees of mantel van Serubbábel lei tot ‘n meting in die gees vir elke gelowige. Miskien moet ons net ‘n een of ‘n ander nog daaroor sê.
In Rom 8:29 skryf Paulus van ‘n spesifieke groepering mense, naamlik “die wat Hy vantevore geken het”. Die Lewende Nuwe Testament beskryf dié vers mooi soos volg: “God het vooraf mense uitgesoek en besluit dat hulle soos sy Seun Jesus Christus moet word …” Die Mirror Translation parafraseer dit pragtig: “He pre-designed and engineered us from the start to be jointly fashioned in the same mold and image of his son according to the exact blueprint of his thought. We see the original and intended pattern of our lives preserved in his Son. He is the firstborn from the same womb that reveals his genesis.” Daarom, wys Heb. 2:11 (NJB) dit uit, is Jesus se skeppingsdoel: “bringing many sons to glory” – die vermeerdering van Jesus na Christus.
Besef dit asseblief – die voorwaarde wat God stel om deel van sy huis van seuns te wees, is spesifiek dít – die mens moet die volheid van Jesus se heerlikheid deelagtig hê, en derhalwe so volmaak en volwasse wees (Ef. 4:13) soos Hy. Immers, soos Matt. 5:48 dit onomwonde stel: “Wees julle dan volmaak soos julle Vader in die hemele volmaak is.” Hierdie ongelooflike hoë standaard is nie net ‘n hersenskim wat ons nastreef nie, God se minimum vereiste is onteenseglik met dié vooropgestelde doel voor oë: “om sy Seun in my te openbaar” (Gal. 1:16).
Indertyd, toe ons nog babas in die geloof was, “wat melk gebruik” het en “onervare (was) in die woord van geregtigheid” (Heb. 5:13) het ons ‘n totaal misplaaste verstaan van hierdie verwagte standaard gehad. Ons was deurgaans ons eie maatstaf – wat ek geglo het, was reg; mý kerk was die beste; ek het ‘n beter verstaan as ander gehad; ek was meer geestelik as ander; en so meer. Gedrewe uit die geloofsverstaan van “alles is genade!” het ons gevoel ons maak dit tog seker as ons ander swak dierbares sien wat ‘n staan-en-val geestelike wandel gehad het. As God se genade vir hulle genoeg was, sou ek dit met vlieënde vaandels slaag! Dit was maklik om soos die sondige man van Luk. 18:13 jouself op die bors te slaan en uit te roep: “o God, wees my, sondaar, genadig!” God sal alles oorsien as ons die regte hartgesindheid het, het ons geredeneer. Ons maatstaf was dus, ironies genoeg, eie geregtigheid (Rom. 10:3). Hierdie twyfelagtige wyse van die self asseseer deur ander gelowiges as maatstaf te gebruik, is deeply flawed. Onthou Matt. 7:21-23: “Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is. Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie? En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!”
Die “merk” wat ons moet tref is dus nie soseer ‘n lewe vol goeie dade, of ‘n vlekkelose karakter nie, óf ‘n lewe van werklik hard probeer om ‘n goeie Christen te wees nie, nee – daarmee mis ons steeds die merk, en val ons in sonde. Die woordjie sonde in Grieks is hamartia, to miss the mark (Thayer). Dit is hoekom 1 Joh. 3:8-9 so ‘n sterk uitspraak maak: “Hy wat die sonde doen, is uit die duiwel, want die duiwel sondig van die begin af. Vir hierdie doel het die Seun van God verskyn, om die werke van die duiwel te verbreek. Elkeen wat uit God gebore is, doen geen sonde nie, omdat sy saad in hom bly; en hy kan nie sondig nie, want hy is uit God gebore.”
Elke gelowige word staangemaak om hom te meet teen “die mate van die volle grootte van Christus” (Ef. 4:13) – dit is die enigste vergelykingstandaard. Paulus noem hierdie aspirasie enersyds “die hoë roeping van God in Christus Jesus” en andersyds “die opstanding uit die dode” (Fil. 3:14 & 11)! Sela! Die Living New Translation hou vers 12 soos volg voor: “I don’t mean to say that I have already achieved these things or that I have already reached perfection. But I press on to possess that perfection for which Christ Jesus first possessed me.”
“Die ewige God is ‘n woning,” weet ons uit Deut. 33:27, en hierdie meting is ook die wyse waardeur elke gelowige die omvangrykheid van Wie Hy Is kan begin ontdek. Sodoende leer ken ons uiteraard noodwendig die beperkinge wat ons op God se woonplek IN ONS plaas. As die tempel gemeet word, is dit juis wat ons ontdek! Sodoende leer ons dat alle dinge in God moontlik is (Matt. 19:26). Ons moet soos Paulus in die geloof verseker weet, “being confident of this very thing, that he who began a good work in you will perfect it until the day of Jesus Christ” (Fil. 1:6, ASV).
My en jou gebed moet dan soortgelyk aan dié van Dawid in Ps. 27:4 wees – “Een ding het ek van die HERE begeer, dit sal ek soek: dat ek al die dae van my lewe mag woon in die huis van die HERE, om die lieflikheid van die HERE te aanskou en te ondersoek in sy tempel.”
Ons het die vooruitsig van Mal. 3:1, wat nie net fisies vervul is met Jesus se koms na die aarde nie, maar ook tipologies waar is van die Bruid van Christus: “Kyk, Ek stuur my boodskapper wat die weg voor My uit sal baan; dan sal skielik na sy tempel kom die Here na wie julle soek, naamlik die Engel van die verbond, na wie julle ‘n begeerte het. Kyk, Hy kom, sê die HERE van die leërskare.”
Dit is híérdie evangelie wat wêreldwyd besig is om inslag te vind, en dit word genoem die evangelie van die heerlikheid (1 Tim. 1:11). Oral oor die aarde kry ‘n bediening van versoening (2 Kor. 5:18) gestalte, ‘n beweging waarin “Christ in you, the hope of glory” (Kol. 1:27) die hartslag is. Die voortdurende meting van die tempels word deur die gees of mantel van Serubbábel gestu. Hierdie mantel moedig jou aan om groot te word in Christus. Hy moedig jou aan om verby die manier van dink te kom wat jou heeltyd as ‘n armsalige sondaar wat uitgelewer is aan die sonde, vaskluister, soos die ou gesang gesê het: Hoe kragteloos, hoe ontaard, / maak my die mag van sonde! Die gees van Serubbábel vra saam met Job (11:7) die priemende vrae: “Kan jy die dieptes van God peil? Of sal jy kan deurdring tot by die volmaaktheid van die Almagtige?” Dit is die gees van Serubbábel wat jou aanmoedig: “let us press on unto perfection” (Heb. 6:1, ASV)!
Hierdie is dan die een-en-twintigste kenmerk van die korporatiewe gees of mantel van Serubbábel wat gelowiges individueel en korporatief lei tot ‘n meting in die gees.
Baie insiggewend – die Hebreeuse gematriatelling van die woordjie volmaaktheid (of in Engels perfection) is 318. Enkele ekwivalente woorde met dieselfde gematria is die volgende: “dwell”, “Eliezer” (wat beteken: “God of help”, simbool van die Helper, die Heilige Gees – Joh. 14:26), “near”, “grow”, “vineyard” (simbool van die Christus – Joh. 15), en in Griekse gematria het die woordjie calling of roeping dieselfde gematriawaarde, ook die woordjie “volgemaak” (Op. 8:5)! Hierdeur bevestig God al die komponente van hoe ons – soos Hy – in die derde dag “perfected” word (Luk. 13:32; Hos. 6:1-3). Bedink dit.
- Sela: Was jy al ooit bewus daarvan dat jy “gemeet” word?
- Lees: Job 4-9
- Memoriseer: Job 9:2
- Delf dieper: Luister na Tom Gouws se cd-lering: In Sy Pa-Troon: Destined to be moulded in the pattern
of the Son