“the mountain of spices …”
(Hoogl. 8:14, KJV).
Die twee-en-twintigste kenmerk van die korporatiewe gees of mantel van Serubbábel het ook met meting te doen, spesifiek dan die meting van die goue altaar oftewel die reukofferaltaar.
In ons tipologiese verkenning van die tabernakel moet ons heeltyd voor oë hou dat dit IN die “innerlike mens” (Rom. 7:22; 2 Kor. 4:16; Ef. 3:16) is. Die lofofferaltaar sou mens kon beskou as die ontmoetplek met God, die plek van die geestelike verbondsluiting, daar waar die besnydenis van die hart in ons diepste wese plaasgevind het (Rom. 2:29). Dáár raak Hy ons aan en dáár raak ons Hom aan, en vandáár trek Hy ons na die heilige baarmoederruimte van die derde dimensie. Dit is by hierdie ewige, heilige ruimte dat Hy ons verlig en versterk deur die werking van die Gees, en dit is ook hier dat ons Hom bedien. Hierdie intimiteit bring “‘n aangename geur” (2 Kor. 2:15).
Om die geur te produseer, is twee dinge nodig – enersyds die substans van verskeie speserye (hier wierook genoem) en andersyds vuur, die wesensaard van God (Heb. 11:29) in ons harte. As laasgenoemde God se bydrae is in hierdie intimiteit, is die gelowige se bydrae die spesery. Sáám vorm dit simbolies die “balsemberge”, of dan, soos dit op Engels genoem word: “the mountain of spices” (Hoogl. 8:14, KJV). Ons gaan nie nou in op hierdie detail nie, maar vir die ondernemende leser kan ons miskien verklap dat dit volgens Hannah Hurnard, in haar boek Mountains of Spices, die vrug van die Gees (Gal. 5:22) is. [Volgens Hurnard korrespondeer die nege kruie met die nege fasette van die vrug van die Gees. Meer later hieroor.]
As die altaar gemeet moet word, beteken dit God evalueer of sy aanbidders Hom “in gees en waarheid aanbid, want die Vader soek ook mense wat Hom só aanbid” (Joh. 4:23). Hierdie aanbidding is nie sielsdimensiegedrewe nie, dit fokus nie op mense nie, en is nie afhanklik van begeleidende middele (soos byvoorbeeld musiek of die regte atmosfeer) nie.
In Matt. 15:8 sê Jesus: “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.” Dit maak nie saak hoe entoesiasties iemand sing, of hy sy hande opsteek, of hoe hard hy hande klap nie, dit beteken niks as daar nie ‘n bepaalde hartsingesteldheid is nie.
Die blinde man van wie Jesus die oë geopen het, gee hierdie sleutel van die goue reukofferaltaar in jou: “if any man be a worshiper of God and doeth His will, him He heareth” (Joh. 9:31, TMB). Dit is derhalwe nie vreemd nie dat die menorah (tipologies vir die Gees van God) en die tafel met toonbrode (tipologies vir die wil van God) sáám met die lofofferaltaar in die tweede dimensie is.
- Sela: Is jy ‘n ware aanbidder?
- Lees: Job 13-15
- Memoriseer: Job 14:4
- Delf dieper: Lees die boek van Hurnard hierbo genoem.